Die poort deur die berge

  • 4

’n Eeue-oue legende vertel van die man wat elke aand om Cruz de Ferro stap. Om en óm en óór die hoop klippe onder die kruis stap hy. Gebukkend.
Hy skuifel-skuifel selfs ’n entjie met die voetpad teen die berg af. Die blikkie in sy hand kantel hy sekuur terwyl hy saggies aan die blare raak; dit lyk of hy iets opskep. Soms lig hy sy bolyf en laat sak dit weer, amper soos ’n voël wat iets oppik, onbewus van die ure wat verbytik. Tot hy eindelik, tevrede, orent kom. Met een hand stut hy sy rug, en in die ander dra hy die blikkie.
Dan stap hy tot by die Einde van die Wêreld.
Wanneer sy voete die nat rotse raak, keer hy die blikkie om. En wag tot elke liewe traan in die oseaan oplos ...

***

In die verre noorde van Spanje staan ’n onaansienlike kruis. Jy moet nogal stewig klim teen Monte Irago uit. En wanneer die mis en reënweer jou na ’n jas en baadjie laat gryp, staan die ellelange verweerde paal met die geroeste ysterkruis heel bo-aan in die smal teerpad, so lyk dit. Op ’n hoop klippe. Bekend as die Doorway through the mountain, tref dit jou as ’n teleurstelling.

Is dit waarvan almal praat?

Ek het nie die gidsboek die vorige aand gelees nie, maar Païvi het langs die pad gesê die kruis is naby.

“Jy bedoel die kruis waarvoor ek die klippie uit Suid-Afrika saamgebring het?”

“Ja.”

Onder dié kruis kan jy enige kwelling agterlaat deur die neersit van ’n teken wat jy van die huis af met jou saamdra, so het hulle maande gelede by die inligtingsessie vir ons gesê. Dit dien ook as simbool van liefde en seën vir wie jy dit wil gee.

Daar is ’n klompie pelgrims en toeriste onder die kruis en voor die toegesluite klipkerkie. Ons skuil teen die misreën onder die oorhang van die kerk se stoep op ’n houtbankie. Die kerkie is selde oop. Menige pelgrim sou graag ’n oomblik wou stil raak daarbinne, maar die gidsboek berig van ’n "groter en deftiger kapel wat altyd oop en verwelkomend is." Die "kapel" sou ons later beleef toe ons bergaf uit die mis beweeg; die panorama van berge wat sonder einde verder en verder strek, dat jy jou verbeel jy kan tot by die Einde van die Wêreld sien. Daar waar pelgrims eeue gelede hulle klere verbrand het.

Ons wag tot die ander weg is en net ons twee oorbly. Ek haal die klippie, so groot soos die helfte van my pinkienael, uit die geldsakkie wat ek heelpad op my vel onder my klere dra. Dis klam van die sweet. My seun wat die wette van die natuur ken, wat mens en dier verstaan deur net na hulle te kyk, het die klippie – ’n aardse okergeel – soos ’n offerande in my hand kom sit op Hentiesbaai se strand, ses weke tevore.

"’n Klippie vir Ma." Seker van die woestyn oorgekom see se kant toe, in daardie wêreld waar die oorgang tussen woestynsand en seesand vervaag.

Ek stap nader en klim teen die hoop uit. ’n Eienaardige verskynsel, glad nie iets waaroor ek in ’n gidsboek sal skryf nie, minder nog mense aanmoedig om iets van die huis af saam te bring.
My oë gly oor ’n brief, ’n sakdoek, kledingstukke en blomme wat aan die paal vasgemaak is, maar oorwegend is daar klippe. ’n Heuwel daarvan. Ek kyk na die klippertjie in my hand. Wie sal dit opmerk tussen die miljoene? Maak nie saak nie.

Dan kom staan hulle met ’n dringendheid voor my. Hier in die misreën waar ek, onherkenbaar in die wit plastiek poncho wat soos ’n piramide om my klok, staan. Een vir een kom hulle hier na die poort, na my. Hier onder die kruis. My vier kinders.

’n Magteloosheid oorrompel my. Magteloosheid oor foute wat ek as ouer gemaak het. Magteloosheid teenoor die invloed van ’n snelveranderende wêreld en die onsekerheid van die toekoms.
Ek haal vinnig asem en sluk swaar.

“Ek het haar nie verstaan nie,” hoor ek haar sê.

Hy wat deur Knysnabosse en op branderplanke sy grootwordjare uitgestoei het, staan voor my met sy groot bruin oë. En hy wat heeltemal te ver bly, weg van ons sonskyn en oop hemel, se verlange tref my. Dan voel ek die jongste se arm om my skouer, hy wat die langste my stoeiery met die lewe gedeel het.

Maak haar hart veerlig.
Lei hom op die pad van diepe geluk.
Mag hy sy speelsheid behou en die vreugde van die lewe nooit verloor nie.
Laat sy aansteeklike lag altyd dié om hom verkwik.
Laat hulle jubel en juig! En vry lewe. Vry van vooroordele. Vry van mensgemaakte bande: leerstellings, geykte denkwyses, selfopgelegde laste. Vry om Grootheid en Grootsheid te ervaar en die lewe te omhels.

Ek rol die klam klippie in my hand.
Maar daar is nog iets...
En dan, flentertjiesgewys, stamel, struikel, tuimel dit uit my:
my eensaamheid, my verlange ...
Ek plaas die klippie sorgvuldig op die heuwel.

Megawatt menslike pyn laat ons agter.
En woorde.

***

Wanneer die man van die Einde van die Wêreld terugkom, stap hy weer óm en óm en óór die hoop, op soek na die kleinste klippies. Wanneer hy een vind, plaas hy dit in die palm van sy hand, rol dit tussen sy vingers, lek daaraan en laat die maanlig daaroor skyn.

Dan, sê dié wat weet, kom daar ’n vogtigheid in sy oë. En hy kyk oor die valleie tot by die verste berge. Wanneer hy eindelik weer na sy vonds kyk, verskyn daar ’n glimlag om sy mond. Diep in die nag wanneer die sterre verskiet, plaas hy hierdie kleine klippies in die hemelruim, een vir een, met die grootste agting. Soos ’n offer.

En jy, as jy by jou venster sou uitkyk, sou jy ’n muggiester sien wat vir jou flikker. En diegene wat na jou sou kyk, sou merk dat jou gelaat skitter.

 Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 4

Kommentaar

  • Zuyda van Dyk

    Voor ek my kom kry rol daar n traan oor my wang. Illustrerend geskryf sonder onnodige gebruik van oorbeklemtoonde woorde. Ek is beïndruk!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top