Jason Lloyd: Hotnotsgot | Columns

 
Die plaaswerkers is ware landbouers
Dit is hoog tyd dat Suid-Afrika ’n loflied vir alle plaaswerkers moet sing: vir hul onbaatsugtige diens aan die land. Omdat hulle selde kla en nooit maklik tou opgooi nie, slegte werksomstandighede ten spyt. Ware landbouers is hulle beslis.

“So, kô lat ons sing,” het die digter Adam Small in ’n ander konteks gedig.

Só het ek in 2009 geskryf, maar die onlangse stakings van veral bruin plaaswerkers in die Wes-Kaap teen hongerlone van R70 per dag bewys dat plaaswerkers regoor die land lankal moes gekla en gestaak het.

Ek onthou nou skielik die keer toe ek van Graaff-Reinet onderweg na Uitenhage was, het ’n beeld (skielik) uit die verlede voor my aangesig verskyn. Skuins voor Jansenville het dit skemer geword. ’n Ligte reëntjie het sy verskyning gemaak en die stilte van die uitgestrekte, verlate Karoo-vlaktes is stadig uitgedoof. Die gesuis van die reëndruppels was alomteenwoordig.

Voor my het ’n Toyota-bakkie gery. Oud, geroes en vervalle. Swart rook en ’n swaar dieselreuk het die verfrissende reuk van die reëndruppels gedemp.

Hulle was in (blou) overalls geklee, al vyf van hulle – al was dit Sondag. Sou hulle dan gewerk het – al is dit Sondag? Na die verbysteek het dit harder gereën en donkerder geword.

Die beeld uit die verlede: ’n hond neffens die boer in dié bakkie; agter reën die plaaswerkers nat.

Ek hoor toe David Kramer se verwerking van Kobus le Grange Marais – die digter Christopher Hope se satiriese blik op 'n tyd wat nie meer is nie – se liedjie. Dit is ’n lied wat ou herinneringe terugbring en boonop diep sny; tot op die been.

Dié lied vertel ’n verhaal van elkeen op sy plek; die storie van die ou Suid-Afrika. Dié beeld uit (die ou) Suid-Afrika neem jou terug na 1978, toe Small sy drama The Orange Earth, gebaseer op sy grootwordplek, Goree, geskryf het. Waar sy ma deur die (wit) vrou agterom gestuur is toe sy by die plaashuis meel gaan haal het vir die nagmaalbrood.

Dit neem jou tot 2009. ’n Verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie verklaar die lot van plaaswerkers: “Skokkende vergoeding, alkoholmisbruik, ’n gebrek aan geleenthede, armoede, geweld, seksuele teistering, haatspraak en gebrekkige huisvesting.”

Maar ook: in die boek Nelson Mandela – freedom to the future (2003) skryf Jakes Gerwel dat Madiba steeds glo daar is goeie mans en vroue in elke gemeenskap. Net so ook is daar goeie boere wat hul plaaswerkers menslik behandel. Ook is daar minder goeie plaaswerkers. Ook moet die regering gedeeltelik geblameer word vir die stadige pas van transformasie in die landbousektor.

Vingerwys moet liewer stop. ’n Balans moet egter gevind word tussen voedselsekerheid, werkskepping, ekonomiese groei en die menseregte van beide plaaswerkers en boere.

Onverantwoordelike politieke uitsprake en boere se weiering om hul winste van miljoene rande op ’n billike wyse met hul werkers te deel gaan die landbousektor vernietig. Dié krisis kan net deur gesprekvoering tussen alle partye opgelos word. Die noodsaaklike verhoging van plaaswerkers se lone is ’n belangrike deel daarvan.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.  

Comments 2 Reaksies | 2 Comments
Delete Comment
avatar
James
2012-12-03 @12:55
Net so ’n bietjie perspektief: In 1970 het ’n plaaswerker R3-00 per dag verdien
daarmee kon hy 30 witbrode koop, hy het  in ’n gesubsidieerde 3 kamer huis gebly met water en Evkom krag.
1 Die broodprys was deur die staat vasgestel en gesubsidieer soos ook ander basiese voedselsoorte(Koringraad)
2 Dept Landboukrediet (wat nie meer bestaan nie) het sy huis gesubsidieer
3 Evkom bestaan nie meer om krag goedkoop aan verbruikers te verskaf nie.
Die uiteinde van hierdie saga gaan wees dat die "boer" sy werksmag gaan halveer, sy produksie ook gaan halveer en die prys van voedsel derhalwe gaan verdubbel ten koste van die verbruiker. 
Dis tyd dat die regering ’n Landboubeleid op die tafel sit sodat die boere kan weet waar hulle staan want die aanslae is ongevraag en meesal gebasseer op ongegronde aantygings, Nerens in die wereld is so baie mense soveel verskuldig aan so min soos die bevolking van die land aan die handjievol harnekkige boere wat nog uithou op die plase ten koste van hul eie veiligheid.   
Delete Comment
avatar
m. vLOK
2012-12-05 @09:24
Dankie James, iemand met verstand.  Elke sport het sy besering...myne ook.  Ek dink iemand moet vertel van die skole, vrouedienste en ander soorte gratis opleiding wat ook nog bykom.  Dis soos die myne.  Hulle vergeet van gratis opleiding, ekstra kursusse, begrafnisse wat die myn betaal ( ja, alles ingesluit) en nog agterna word vrou (ens) en kinders versorg vir n lang tyd.  Hulle is ook nie goedkoop nie....dis Amerikaanse kiste, huilebakens, duur statues.....Iets wat baie meer sou kos as hulle n groot salaris moes kry (en hul kry nie te min nie) nie sou kon bekostig nie.     En soos iemand een keer gese het: hul kon iets anders gedoen het.....net soos ek ook die laaste 20 jaar n ander keuse kon maak in die nuwe S.A  maar self daarvoor verantwoordelik is.  My werk betaal nie vir my nie....Marie
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address