Die Neelsie of die Nelson?

  • 4

Ek het groot waardering vir wat Jason Lloyd destyds oor die interessante Pieter Wagenaar van Fort Beaufort geskryf het. Soms het ek ook simpatie met wat hy oor ander onderwerpe skryf. Die Primêre Skool Hertzog naby Fort Beaufort is so ’n geval (SêNet, 8 deser). Hierdie Afrikaanse skool word vernietig en daar word van die leerlinge verwag om hulle in ’n Engelse skool tuis te maak. So ’n drastiese stap word gemaklik deur die regering gedoen omdat die leerlinge bruin is.

Die kern van die probleem kan na die volgende woorde van Frantz Fanon teruggespeur word: "Decolonization unifies that people by the radical decision to remove from it its heterogeneity, and by unifying it on a national, sometimes a racial basis" (SêNet, 2 deser). Anders as in bv Amerika, waar minderheidsregte beskerm word, is die tirannie van die meerderheid op die nuwe Suid-Afrika losgelaat. Daar word van almal verwag om hulle te skik na die wense van die meerderheid, afgesien van die kwaliteit (bv ingeligtheid) van die meerderheid en die onredelikheid van die gestelde eise.

Waar nie-swartes in beheer was, bv aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die Universiteit Stellenbosch (US), dryf politieke aktiviste in akademiese poste die proses van transformasie deur die voordele van multikulturaliteit te besing en dit met die seën van die ANC aan hierdie inrigtings op te dring. Wat daarna gebeur, is maklik voorspelbaar. Swartes word die meerderheid studente en Afrikaans as onderrigtaal word deur Engels vervang. Die spreekwoordelike Neelsie moet die Nelson word. Dit het aan die UWK plaasgevind en dit is besig om aan die US te gebeur.

Die teenvoeter wat nodig is, is dat ingesien en erken word dat mense indiwidueel en ook groepsgewys verskil. Dit is dwaas om te veronderstel dat die Suid-Afrikaanse bevolking homogeen is, of so behoort te wees, bloot omdat die meerderheidsregering hierdie illusie koester. Politieke "bevryding" het die kultuur van minderheidsgroepe in kettings geplaas. In alles moet die demografie deesdae weerspieël word, wat daarop neerkom dat die meerderheid bevoordeel word. Dit is waarom die bestaansreg van Afrikaanse inrigtings, soos skole en universiteite, ontken word. ’n Proses van eenders- en gelykmaking is aan die gang. Ongelukkig is die resultate nie op ’n hoër vlak, dus van ’n beter gehalte, as voorheen nie, maar progressief op ’n al hoe laer vlak.

As hierdie kwantitatiewe benadering plek vir ’n begeerte na kwaliteit maak, sal ingesien word dat dit noodsaaklik is dat bv Afrikaanse skole en universiteite bestaan. Minderhede sal dan voel dat die owerheid ook hulle belange bevorder en nie net dié van die meerderheid nie. Die gewoonte om etniese verswelging as taktiek te gebruik, is afkeurenswaardig. Hierdie minderhede (wit, bruin, Asiër) sal lojaler landsburgers word as hulle in dieselfde mate as die swartes ’n plek onder die son gegun word. As die bedryfskoste per leerling van hierdie (moontlik kleiner) inrigtings vir minderhede hoër as dié van die groot inrigtings vir swartes is, moet dit geduld word, want per indiwidu dra die minderheidsgroepe meer as die swartes tot die staat se inkomste by. As belastingbetalers subsidieer hulle die meerderheid en beslis nie net sedert 1994 nie.

Dit is verstaanbaar dat Lloyd oor die lot van die bruines begaan is. Maar bruines tree nie altyd blaamloos op nie. Anders as by Lloyd, is bruines se gesindheid teenoor Afrikaans in baie gevalle twyfelagtig, indien nie afkeuringswaardig nie. Enkele jare gelede was daar bv die geval van ’n klein getal bruin maar hoofsaaklik Afrikaanssprekende leerlinge wat onderrig in Engels van ’n Afrikaanse skool in Kuilsrivier geëis het. Dit is vermetel; des te meer omdat hulle voor 1994 nie eens toelating tot hierdie skool kon kry nie. Nou eis hulle sowel toelating as ’n verandering van die skool se onderrigtaal. Sulke kanse word nie met eentalige Engelse skole gevat nie.

Johannes Comestor

  • 4

Kommentaar

  • Johannes.

    Die dae dat ons kan verwag dat die staat enigiets vir die Afrikaner gaan doen, onderwys inkluis, is verby.  Die Afrikaner gaan genoop word om sy eie opvoedingstelsels, tersiêre opvoeding inkluis, vir die hede en toekoms self sal moet oprig en fundeer as private ondernemngs.

    Dit is moontlik, en ek voorsien dat dit wel gaan gebeur.  Kerke; Afrikaner kultluur organisasies, Afrikaner onderwyserunies; ouervereenigings, ens. sal dit gesamentlik kan doen. En indien reggekry, is die staat, in terme van die konstitusie, verplig om dit te subsidieer. Die Afrikaner gaan onderdrukking van sy taal en kultuur net tot ’n punt verdra, maar druk te ver en die ANC regering gaan verslae wees wanneer die Afrikaner "bubble" bars ...

    Ek weet jy is gewoonlik nie genee om my terug te be-antwoord nie, maar indien jy jou pad oopsien, sal ek graag jou mening hieroor wil hoor.

    Jaco Fourie

  • Johannes Comestor

    Jaco, ek is nooit ongenee om jou te antwoord nie. Dit kan inderdaad lyk asof die Afrikaners op hulleself aangewese is; selfs al hoe meer. My besware teen eie nie-staatsinrigtings is dat (1) hulle onbetaalbaar duur kan wees, (2) hulle uit owerheidsfondse opgerig en in stand gehou behoort te word - Afrikaners betaal immers 'n groot persentasie van die belasting, (3) sulke inrigtings vir treitering uitgesonder sal word, bv oor toelatings, onderrigtaal, standaarde, ens, en (4) les bes, omdat hulle waarskynlik reuse suksesse kan wees, sal hulle na al die moeite en onkoste deur die staat oorgeneem kan word - soos wat die vorige regering in 1960 met die Universiteit van Fort Hare gedoen het en die huidige regering dreig om met die myne en plase te doen. Die groot gevaar van die verslegtende toestand in die nuwe Suid-Afrika is dat al hoe meer Afrikaners se moermeters op rooi staan. Ongelukkig moet ek skryf "gevaar", terwyl ander eerder "hoop" sou beweer. 

     

    Johannes Comestor 

  • Jaco,

     

    Ek antwoord jou sommer. In terme van onderwys het die Afrikaner reeds sy eie private onderwysstelsel opgerig, by name die BCVO skole sowel was daar 'n klompie jare terug 'n nagraadse akademie bedryf. Hulle ontvang nie 'n sent van die staat nie.

     

    Dus siende dat die Afrikaner nie meer kan verwag dat die staat enigeiets vir die Afrikaner gaan doen nie, kan die Afrikaner dan maar ook verwag om nie meer belastings te betaal nie.

     

    Groete.

     

  • Johannes.

     

    Dankie vir die terugvoer.  Feitlik  is die ANC uit om Afrikaans te vernietig, en deur ekstrapolasie, die Afrikanerkultuur, en geen geheim word deur hulle daarvan gemaak nie.  Soos met naamsverandering, weet ons is dit onomkeerbaar.  Met enige verandering in regering glo ek gaan dit geen verskil maak nie.  Kabous het hierbo 'n interesante alternatief genoem, wat ook verdere navorsing en aandag behoort te geniet.

     

    Afrikaners is alreeds besig om 'n premie vir goeie onderwys te betaal.  Affies en Waterkloof in Pretoria, betaal die ouervereenigings onderwysers ekstra om te sorg dat hulle kinders van die beste aandag en opvoeding bekom, die dat hulle van die beste resultate in die hele land oplewer.

     

    Die Engelse het hulle private skole en kolleges, oa. Michaelhouse, Kearsney College; King David (Joods); ens. Hulle lewer van die bestes onder die Engelse, asook van die bestes onder die swartes wat hulle bywoon.

    Net soos die konstitusie hierdie Engelse skole beskerm, so ook voornemende private Afrikaner skole en kolleges.  Ek dink die tyd is verstreke wat die ANC dit sal kan regkry om die konstitusie verander of gewysig te kan kry.  Met jou Fort Hare voorbeeld, was daar nie 'n beskermende konstitusie soos tans nie.

     

    Indien vir die Afrikaner bewys kan word dat private Afrikaanse onderrig,  kinders 'n goeie voorsprong in die lewe gaan gee, glo ek gaan Afrikaners nie oor kostes kibbel nie.  Al wat tans kort is die nodige leiding.

     

    Jaco Fourie

     

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top