Uittreksel uit mooiloop: "Die agtuurtrein" deur Chris Barnard

  • 1

Hierdie verhaal verskyn met toestemming van die outeur op LitNet en is oorspronklik gepubliseer in mooiloop, saamgestel deur Gerrit Rautenbach. Lees 'n onderhoud met Gerit Rautenbach hier.


Hulle is eintlik deur omstandighede op mekaar afgedwing.

Hy moes weer soos altyd die Vrydagoggend met die trein in Kaap toe en hy was al seweuur op die stasie om seker te maak hy kry ’n kaartjie. Omdat dit betaaldag was, het hy die maand se reistydskrif by die kafee gaan koop om die naweek mee om te kry, en besluit om ’n koppie koffie te drink terwyl hy  wag.

Drie skoonmakers was besig met vloere was en die tafels was op ’n hoop geskuif met die stoele bo-op. Maar die kelner het naby die deur vir hom ’n hoekie ingerig en sy koffie gaan haal. 

Hy kon sien hoe die vrou weifel toe sy instap en besef hoe deurmekaar alles is, maar die kelner het haar geken en agter die plastiekgordyn uit geroep sy moet solank sit, hy bring haar tee. Dís hoe hulle aan dieselfde tafel beland het.

Die tydskrif was oop op ’n volkleurfoto van die Drakensberg. Toe sê sy: “O,”  sommer net om iets te sê, “dis een plek waarheen ek nog altyd graag wou gaan.”

“Ek ook,” sê hy. “Ek was nog nooit daar nie.”

“Drakensberg toe en Wildtuin toe.”

“Ja, ek droom self al jare lank oor die Wildtuin.”

“Jy was ook nog nie daar nie?”

“Nee.”

Dis waaroor hulle die heel eerste keer gepraat het. Oor waar hulle nog nooit was nie.

Sy het hom vertel van die keer toe sy in die Karoo gekuier het, en hy vir haar oor sy naweek in die Overberg. Dit was die somtotaal van hul reise. Maar hy het geweet, die oggend toe hy op die trein klim, daar ís ander mense nes hy wat in hul verbeelding die wêreld vol swerf. Weg van ’n dodelike roetine soos syne van vier dae op kantoor en elke Vrydag se oudit in die Kaap.

Hy het die volgende Vrydag gehoop hy sien haar weer, maar sy was nie daar nie. Eers drie weke later was sy by die tafeltjie langs die deur toe hy instap.

“Ek het weer oor allerhande plekke gedink laasnag toe ek nie kon slaap nie,” sê sy nadat hy sy koffie gekry het.

“Ag, ek dink heeltyd.”

“Ek ook, ja. Maar laasnag meer.”

“Oor watter plekke alles?”

“Laasnag was dit Namibië.”

“O, moenie met my praat oor Namibië nie. Ek het ’n plakboek oor Namibië!”

“Dis sulke mooi name. Usakos en Aranos en Omaruru ...”

“En Nababeep, Karibib, Kamanjab.”

“As die plekke halfpad so mooi moet wees soos die name ...”

“Hulle sê my dis mooier.”

Hulle het mekaar al maande lank elke Vrydagoggend in daardie kafee raakgeloop voor hy uitgevind het haar naam is Drien en sy werk in die dorp se biblioteek. “Die dae as dit stiller is dan sit ek en blaai deur al die boeke met die foto’s van al die ver plekke. Dan trek my hart ’n tuit.”

Drien was seker sy ouderdom. Dalk ’n jaar of drie jonger, en daar was nie ’n ring aan haar vinger nie.

“Laasnag toe lê ek en dink aan Spanje,” sê hy een oggend.

“O, nee, dis te ver,” sê sy. “Ek kan nie so ver dink nie.”

“In ’n mens se kop is daar nie ver en naby nie. Snags as ek aan jou dink, is jy net so ver soos Andalusië.”

“Dink jy dan snags aan my?”

“Party keer.”

“Dan dink jy wat?”

“Hoe ons op die Nyl vaar. Hoe ons Kilimandjaro klim. Hoe ons in Parys se strate in die reën stap. Hoe ons in Venesië op ’n gondel vaar.”

“Jy ook?”

“Wat – jý ook?”

“Maar nooit ooit só ver nie.”

Toe word dit ’n speletjie. Een Vrydagoggend neem sy hom op reis; die volgende keer neem hy haar iewers heen. Nooit twee keer na dieselfde plek toe nie. Sy neem hom Noordkus toe en hulle baljaar in die branders, of op ’n staptog langs die Visrivier en hulle slaap snags onder die sterre, of Waterberge toe en hulle swem sonder klere in die diep kuile koel water. Hy neem haar Zanzibar toe en hulle verken die smal stegies van Stonetown, of hulle luister na fadomusiek in Coïmbra of drink wyn op Capri. En altyd, hoe nader dit aan die tyd kom, hoe nader kruip hul hande na mekaar toe. Tot daar nog net ’n paar suikerkorrels tussen hulle vingerpunte lê. ’n Hele wye wêreld verlore op ’n tafeldoek tussen drie en vier en vyf blink korreltjies suiker.

Acapulco, Aggeneys, Bali, Boesmansrivier, Calcutta, Clanwilliam, en so teen ’n ingewikkelde, onverkende alfabet af tot by Zinkwazi en uiteindelik weer by Zanzibar. Die tyd staan stil. Die stasiekafee se muurhorlosie tik, maar die tyd staan wonderbaarlik stil. Hulle gaan waar hulle wil, net waar hulle wil, want hulle is vry.

En dan, altyd heeltemal te gou, maar stiptelik, op die slag van die minuut, kom die agtuurtrein.

 

  • 1

Kommentaar

  • Ja, Chris Barnard. Hy skryf my manier van stories; stories waarmee jy jouself op 'n manier kan vereenselwig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top