Deur ruite van die reis – ’n oase wat die dors les

  • 0

Titel: Deur ruite van die reis
Skrywer: Melanie Grobler
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780798157490

 

 

Koop Deur ruite van die reis by Kalahari.com.

 

 

Die digter en kunskenner Melanie Grobler debuteer in 1991 as digter met die bundel Tye en swye in die lewe van Hester H wat met die Rapport-prys bekroon word. Met die toekenning van die prys lok Grobler se poësie belangstelling vanuit talle oorde en vestig sy haarself as ’n sterk opkomende digter binne die Afrikaanse poësiesfeer. Met haar derde bundel, Deur ruite van die reis, verbreek sy ’n stilte van bykans nege jaar na die verskyning van Die waterbreker in 2004 wat op sy beurt groot opspraak verwek het.
          
Reeds met die eerste oogopslag bied Andreas Swart se omslagfoto van ’n woestynlandskap ’n blik op die sintuiglike intensiteit wat die leser in die bundel te wagte kan wees. Die foto dien as ’n versinnebeelding van die ruimtelike, somber beelde van plekke en persone wat in Grobler se poësie voorkom. Die woestynlandskap sluit verder sterk aan by die natuurelemente soos grond, water, vuur en lug wat onderskeidelik as onderafdelings van Grobler se bundel dien.
           
Die natuurelemente tree deurentyd in wisselwerking met die tema van verganklikheid. Laasgenoemde word sterk uitgebeeld in die inleidingsgedig, “as die weerligvoëls my jaag” (7), waarin die spreker die menslike verganklikheid met dié van die natuur kontrasteer:

Dis waar die landskap kom om te sterf
waar die verlate wind aanhoudend kla
in die broeiende bloekombos
dis waar die koue maan snags versteen

Die beelde word voortgesit in gedigte soos “pied-á-terre” (14) en “seeskulp” (17), asook in “lemoenbloeisels” (21), wat ongetwyfeld as een van die hoogtepunte in die bundel beskou kan word weens die genuanseerde wyse waarop die lewe en die dood deur die spreker verwoord word.

Grobler se bundel bevat ook ’n aantal reisgedigte wat aansluit by die reistradisie wat gereeld in digters soos Joan Hambidge se oeuvre resoneer. Dit is egter nie slegs die fisiese reis wat in gedigte soos “Griekse reis” (86), “besoek aan Ciprus” (87) en “Ushuaia” (88) voorkom nie, maar ook die geestelike reis soos dit in “aardling” (61) deur die spreker beskryf word:

eensaamheid? Ek distansieer myself
van dié menslike staat – stel ook nie belang
om die menslike grenspos van leegheid te beman nie […]

vir net een nag trek ek my terug in die kamer
om my gemoed met die groot kalmte van dié Een
wat oral is te omring – in die uur van vermindering.

Alhoewel die meerderheid gedigte somber van toon is, slaag Grobler daarin om deur middel van die besonder beeldryke poësie die leser op ’n  meesleurende sintuiglike waarnemingsreis te neem. Net soos in Breytenbach se mees onlangse bundels figureer verganklikheid en die spreker se bewuswording van die lewensiklus wat geleidelik tot ’n einde kom, regdeur die bundel. Die titel, Deur ruite van die reis, sluit op gepaste wyse by die metaforiese lewensreis aan wat op verskillende plekke deur die “ruite” van die lewe deur die spreker waargeneem word.

Grobler het ’n besonderse aanvoeling vir die natuurelemente en die wyse waarop hulle die mens affekteer. Natuurliefhebbers sal veral by Deur ruite van die reis aanklank vind, aangesien natuurelemente primêr as basis in talle gedigte figureer.  Alhoewel die meerderheid gedigte tegnies goed gestruktureerd is, is sommiges effens lomp en doen dit afbreuk aan die effektiwiteit van die beelde wat in die gedigte beskryf word.

Die bundel is taalkundig goed versorg en die uitleg en onderafdelings keurig uiteengesit. 

Grobler se poësie is ryk aan intertekstuele verwysings en getuig van ’n digter wat besonder wyd belese is. Deur ruite van die reis is ’n welkome toevoeging tot Grobler se oeuvre en sal menige leser met ’n gevoel van herbesinning oor die waarde en kwesbaarheid van die lewe laat.

        

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top