Dan Sleigh en SJ Naudé wen die UJ-pryse vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans

  • 0

Die UJ-Prys vir die beste skeppende skryfwerk in Afrikaans wat gedurende 2011 gepubliseer is, gaan aan Dan Sleigh se Wals met Matilda. [Sleigh was ook die wenner van dié prys vir sy roman Eilande in 2002.] Dit is die twaalfde jaar wat hierdie prys toegeken word. Vorige pryswenners is onder meer: Elsa Joubert (2009), Etienne van Heerden (2008), Breyten Breytenbach (2007), Ingrid Winterbach (2006), André P. Brink (2005) en Marlene van Niekerk (2010 en 2004). Antjie Krog was die eerste ontvanger van die prys in 2000.

Wals met Matilda (Tafelberg) is deur die keurpaneel van nege lede uit ’n kortlys van vyf werke as die wenner van die R65 000-prysgeld aangewys. Die ander werke op die kortlys was:

Net ’n lewe – Fransi Phillips
Onversadig – T.T. Cloete
Piekniek by Hangklip – Kerneels Breytenbach
Sirkusboere – Sonja Loots

Keurdersmenings oor Wals met Matilda:

“Dan Sleigh se metafiksionele Wals met Matilda bewerkstellig op tipies postmoderne wyse ’n verbeeldingryke konneksie met ’n stukkie populêre Australiese historiografie, ingebed in die dilemma/onsekerheid van hedendaagse skrywerskap/-blok en ongedurigheid oor taal/die Taal, en met genoeg van ’n onnutsigheid om die afloop van Japie se avontuur “Down Under” ter stigting voor te hou vir die nuwe avonturiers wat hulle heil, of uitkoms, deesdae in Australië gaan soek.”

Wals met Matilda getuig van ’n beleë vakmanskap. Die roman is ’n uitdagende leeservaring oor “die dood se dans met die lewe” (p. 396): die diepgang van die hoofkarakter se selfinsig en -kastyding, die oorheersende verlies en futiliteit waaronder Koos gebuk gaan en waarby die leser ingetrek word, en die komplekse maar hoopvervulde interaksie tussen Koos en Carelina vra om intense meelewing van die leser. Dit maak egter ook van die roman ryk en lonende leesstof.

Soos Sleigh se vorige romans, beïndruk die uitgebreide en noukeurige navorsing in Wals met Matilda, onder meer oor die genealogie van die Van der Merwes, die landbou in Nieu-Suid-Wallis in die laat negentiende eeu en die bekende liedjie “Waltzing Mathilda”. Die roman lewer ook skerp kommentaar oor verskeie aktuele kwessies, byvoorbeeld die posisie van Afrikaans.”

Wals met Matilda is ’n roman oor ’n mislukte skryfprojek wat ook die tekens van mislukking in homself dra. Die suurheid en misantropie, die gevoel van gestrand-wees, die skerp siniese ingesteldheid teenoor die hede en die Afrikaanse letterkunde, is alles dinge wat lof verdien.”

Die UJ-Debuutprys van R25 000 gaan aan S.J. (Fanie) Naudé se Alfabet van die voëls (Umuzi) wat uit ’n kortlys van drie werke as die wenner aangewys is. [Dit is die vierde keer dat ’n kortverhaalbundel as wenner van dié prys aangewys word.] Die ander werke op die kortlys was:

Skool – Theo Kemp
Wanpraktyk – Andries Samuel

Keurdersmenings oor Alfabet van die voëls:

“Hierdie kortverhaalbundel is ’n ryp debuut wat suksesvol met die inskrywings vir die hoofprys sou kon meeding. Dit spreek uitdagings aan waarmee die moderne mens worstel, byvoorbeeld buitestaanderskap, vervreemding (veral  wat die Afrikaner-diaspora betref) en terminale siekte, en situeer hierdie uitdagings in die konteks van ’n samelewing waarmee Afrikaanse lesers in die algemeen sou kon identifiseer. Die hoofkarakters is byna almal buitestaanders wat ’n komplekse ontwikkelingsproses gedurende die verhale deurgaan. Sommige verhale tree in gesprek met mekaar deurdat dieselfde karakters daarin optree en hul situasies telkens vanuit ’n ander hoek belig word. Alfabet van die voëls is ’n indrukwekkende debuut wat ’n daadwerklike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lewer.”

“Alfabet van die voëls is ‘n versameling gekenmerk deur tegniese afronding en ‘n aansienlike taalvermoë. Elk van die verhale is sterk, maar hulle word nog sterker deur subtiele onderlinge verbande en terugkerende motiewe, veral die enigmatiese voëls.

Tegniese beheersing en noukeurige konstruksies gaan hier gepaard met soms ekstreme ontreddering. In belangrike opsigte is dit ‘n boek oor die moderne Afrikaner wat met sy of haar eie lewe oorhoops is, met ‘n opvallende diasporiese inslag en ‘n onbehae met die tydgenootlike moment. Hier het ons beslis ‘n “nuwe stem”, iemand met ‘n sterk greep op sowel tegniek as die lewensbeskoulike aspekte wat deur die verhale heen kristalliseer.”

Die Pryse word op 11 Oktober 2012 tydens ’n glansgeleentheid by die Universiteit van Johannesburg aan die wenners oorhandig.

_______________________


Universiteit van Johannesburg-Pryse vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans

Die Universiteit van Johannesburg (voorheen RAU) het in 2000 twee pryse vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans ingestel.

Die UJ-Prys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans; en
Die UJ-Debuutprys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans.

Die waarde van die pryse is die volgende:

Die UJ-Prys: R65 000 per jaar;
Die UJ-Debuutprys: R25 000 per jaar.

Die vereistes vir die pryse is die volgende:

  • Die UJ-Prys word toegeken aan die skrywer van die beste oorspronklike, skeppende werk in Afrikaans wat gedurende die vorige kalenderjaar gepubliseer is.
  • Die UJ-Debuutprys word toegeken aan die skrywer van die beste oorspronklike, skeppende debuutwerk in Afrikaans wat gedurende die vorige kalenderjaar gepubliseer is.

Die pryse is tydens 'n galageleentheid in November 2001 vir die eerste keer toegeken. Eersgenoemde prys is toe aan Antjie Krog toegeken vir haar bundel Kleur kom nooit alleen nie.

Agtergrond

Die idee vir 'n prys vir skeppende skryfwerk het in 2001 ontstaan nadat die Departement Afrikaans by die destydse RAU 'n skenking van R10 000 ontvang het om skeppende skryfwerk in Afrikaans te bevorder. Ons het besluit om 'n litrêre prys in te stel. Die Universiteitsbestuur het die idee ondersteun en 'n verdere bedrag van R 40 000 beskikbaargestel vir pryse. Daar is toe besluit om die twee pryse toe te ken soos hierbo verduidelik. Sedert 2007 is die prysgeld verhoog na die huidige bedrae.

Die Keurpaneel

Vir die beoordeling van die beste werk van 2011 is die paneel soos volg saamgestel:

Prof. Thys Human (UJ) - sameroeper
Dr. Marthinus Beukes (UJ)
Prof. Marné Pienaar (UJ)
Prof. Ronèl Johl (UJ)
Prof. Gerrit Olivier (WITS)
Dr. Karin Cattell (US)
Dr. Marius Crous (NMMU)
Corina van der Spoel (RSG)
Christelle Webb-Joubert (RSG)

Genre

Die pryse word nie aan 'n spesifieke genre gekoppel nie. Dit maak die beoordeling moeiliker in die sin dat 'n digbundel byvoorbeeld teenoor 'n roman of 'n biografie opgeweeg word, maar dit skakel ook weer baie ander probleme uit.

Vorige pryswenners:

 2001 (vir 2000)

 

 RAU-Prys:

Antjie Krog – Kleur kom nooit alleen nie

 RAU-Debuutprys:

Geen toekenning gemaak nie

 

 2002 (vir 2001)

 

 RAU-Prys

Rachelle Greef – Merke van die nag

 RAU-Debuutprys

Nanette van Rooyen – Om te vlerk

 

2003 (vir 2002)

 

RAU-Prys

Dan Sleigh – Eilande

RAU-Debuutprys

Nini Bennett – Stoornis

 

 2004 (vir 2003)

 

 RAU-Prys

Braam de Vries – Tot verhaal kom

 RAU-Debuutprys

Marius Crous – Brief uit die kolonies

 

 2005 (vir 2004)

 

 UJ-Prys

Marlene van Niekerk – Agaat

 UJ-Debuutprys

Geen toekenning gemaak nie

 

 

 2006 (vir 2005)

 

 UJ-Prys

André Brink – Bidsprinkaan

 UJ-Debuutprys

Marlize Hobbs – Flarde

 

 2007 (vir 2006)

 

 UJ-Prys

Ingrid Winterbach – Die boek van toeval en toeverlaat

 UJ-Debuutprys

Danie Marais – In die buitenste ruimte

 

 2008 (vir 2007)

 

 UJ-Prys

Breyten Breytenbach – Die windvanger

 UJ-Debuutprys

Willem Anker – Siegfried

 

 2009 (vir 2008)

 

 UJ-Prys

Etienne van Heerden – 30 Nagte in Amsterdam

 UJ-Debuutprys

Loftus Marais – Staan in die algemeen nader aan vensters.

 

 2010 (vir 2009)

 

 UJ-Prys

Elsa Joubert – Reisiger

 UJ-Debuutprys

Karin Brynard – Plaasmoord

 

 2011 (vir 2010)

 

 UJ-Prys

Marlene van Niekerk – Die sneeuslaper

 UJ-Debuutprys

Nicole Jaekel-Strauss – Maal

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top