Chris Dippenaar en die Prediker
Chris Dippenaar,
Jy weet, ek word elke keer hartseer as ek ’n mens teëkom met ’n gewone Afrikanernaam soos jy, wat heeltemal volksvreemd geword het en ál wat oorgebly het, is net die taal – Goddeloos en volkvoos. Maar nou ja ...
Soos ek nou al by jul agnostici as kenmerk bemerk het, is jy ook maar báie arrogant (die skild waarmee julle julself probeer beskerm) om vir my te wil kom leer oor my geloof en God – jý wat nie eens die vermoë, wat nog te sê, insig, het om te weet Wie God is, nie, of selfs dat God leef, nie… Kyk die saak is eenvoudig – as jy verstaan het wat aangaan, sou jy ’n gelowige gewees het. Jou ongeloof is die testament van jou onkunde en insigloosheid en dit is nie as belediging bedoel nie. Dit is gewoon ’n feit. Het dit nie al by jou posgevat dat julle paar agnostici werklik ’n paar is wat die kluts kwyt is nie?
Jou bestudering van religieë soos wat jy jou evolusie en jou astronomie bestudeer (insiglose papegaaiwerk), gaan jou nie baat nie.
Ek sal tog maar die moeite doen om vir jou uit te wys waar jy die kluts kwyt is.
Daar is niks fout met die Afrikaanse vertalings wat na “doderyk” verwys en die oud- Engels (geskoei op die Hebreeus) wat na “sheol” verwys, nie. Beide verwys na die doderyk en dié verwysing word gedoen as teëstelling met die lewe hier op aarde, niks anders nie. Die gebruik van die woord “doderyk” vir hier gebruik om die klem op die verganklikheid van die aarde bestaan, te laat val. Die Nuwe Testament is geheel en al in ooreenstemming daarmee. As jy Openbaring kon begryp, sou jy sien dat ook dáár verwys word na die eerste en die tweede (finale) dood. Die punt wat die Woord, die Prediker, egter maak, is dat die lewe soos ons dit op aarde ken, by die doderyk (die begin van die ewigheid) eindig. Dít is die waarskuwing. Dié waarskuwing is sodat die mens moet besef dat sy lewe op aarde maar net ’n aanvangsfase is – en dat hy geoordeel sal word aan die hand daarvan (Prediker 12:13-14). Verse 4 tot 10, waarna jy deels verwys, is juis presies dít – dit is ’n waarskuwing dat wat jy vir jouself hier op aarde doen, géén nut het in die doderyk (en uiteraard, daarna) nie. Ook dat mense hul nie steur aan dié wat heengegaan het nie – vandaar die vergelyking van ’n lewendige hond wat vir die lewende mense, meer nut het as ’n dooie leeu.
Dan vermeld jy dat die Prediker nie na enigiets wat klink soos die ewige lewe, verwys, nie. Asof die Prediker alleen staan, asof dit nie ’n geheel vorm met die res van die Woord in die Bybel, nie. Onthou dat die boeke van die Bybel, meestal elk ’n tema of temas illustreer, welke oorkoepelend almal by mekaar aansluit. Die tema van Prediker, is te vinde in hoofstuk 1 vers 2-11. Dit leer ons dat die strewe na die lewe op aarde, as ’n doel in sigself (luister mooi – dit het op jóú betrekking), alles tevergeefs is. Saam met die laaste paar verse van die Prediker, leer dit dat dié gejaag na wind, vir jou net oordeel op die ou end, sal inhou. Dít is die tema, die waarskuwing, van die Prediker. Dit is goed om op aarde te lewe en te geniet, die gawes van God, maar nié as doel op sigself, nie. Daarom sluit die waarskuwing omtrent die oordeel (sien ook Prediker 5) aan by die ewige lewe daarna, waarvan die doderyk die begin is.
Jy skrywe ook “As almal eindig op dieselfde plek sou 'n rekenskap soos dit waarna jy verwys sinneloos gewees het.” Maar jou “as” ís toe verbrande hout… Mense gaan by afsterwe eers die doderyk binne en wag dáár die oordeel af. Daar is twee plekke – een vir regverdiges en een vir ander (Lukas 23:43; verg. Lukas 16:22-31, pragtig verduidelik – let ook sommer op die waarskuwing…) Dan kom die oordeel en vandáár sal elk na die permanente bestemming gaan – of mét God of weg van God (die hel – die tweede dood).
Insig – slegs van God te verkry (Jakobus 1:5-8).
Groete,
Kobus de Klerk