Charles Fryer (1946–2014)

  • 0

Gebore en getoë

Charles Arnold Fryer is op 5 Maart 1946 in Calvinia gebore in die huis wat vandag as die Hantamhuis bekend staan. Hy was een van vyf kinders.

In Die Kerkbode (7 Augustus 1998) het Charles vertel van sy ma se afsterwe: "Die tyding dat my ma skielik oorlede is, het my een oggend in 1987 soos ’n aardbewing getref. Ek het gedink Ma sal maar altyd daar wees: die stil, sagte mens met blou oë soos die Karoolug; die vrou wat nooit aan haarself gedink het nie; wat tydens ’n besoek van drie van haar seuns nége soorte kos op die tafel gesit het sodat elkeen se gunstelinge daar sou wees. Sy was ’n dienende Martha, altyd aan die rondskarrel, aan die sorg – sodat ek soms gewens het sy wil ’n slag stil word, ook ’n Maria wees wat na vér dinge luister, oor onsienlike dinge peins. Nou was sy stil. Vir altyd. Ek sou haar nooit kon uitvra oor haar kinderdae nie; die versuimde dankies sou teen ewige swye stuit."

Terwyl Charles op pad was met die vliegtuig, het hy sy ma se lewe voor sy oë opgeroep: "Die jong Karoomeisie wat seunswerk op die plaas moes doen, omdat dit net vir seuns beskore was om te gaan leer ... wat winters in die bytende koue soggens die bokke moes gaan melk. Die pragtige jong vrou wat my pa, die meesleurende musikant, op ’n skuurdans ontmoet en verlief raak. ’n Paar gelukkige jare in die Kaap voor hulle Calvinia toe trek. Daar, in die jare vyftig, my pa se eerste beroerte ... toenemende swaarkry ... min geriewe. (...)

"In later jare het my pa se siekte al hoe meer van haar geverg. Om haar lot te vererger, was hy 'met die helm gebore', en dit haar beangs om hom ’n stoet in die stofstraat voor die venster te sien verbygaan kort voor iemand sterf, of om hom te sien kyk na ’n onsigbare besoeker in die hoek van die kamer, daar waar die klerekas staan.

"Maar altyd die gasvryheid van hart, van huis. En die lekker gesels in die somer se sjampanje-aande, of in die winter se kolegloed. Koffie en soetsuurdeegbrood, en pannekoekaande rondom die primus."

Oor sy grootwordstreek, die Hantam, het Charles in Klein koninkryk: vertellings uit die jeugland (Tafelberg) geskryf: "Die Hantam is nie net blou op ’n afstand nie: hy is pure leiklip. Blou ook wanneer jy bý hom staan en jy kyk terug oor die dorp wat aan die suiderhelling lê tot doer onder teen die aarselende Oorlogskloofrivier. (...) Tussen die berge van die Hantam het ek my kom kry, kort na die Tweede Wêreldoorlog, al spelend voor ons huis, Vrede, in Hoopstraat. Kepkop gesny deur my pa, en doodgelukkig om op drie wiele die wêreld deur te kyk. (...)

"Met ’n groot reën het die rivier partykeer so sterk afgekom dat hy in Waterstraat opstoot. Vir ons kinders was die vaal onderdorp meteens ’n vreemde, bedrieglike gevaarlike moeraswêreld waardeur ons gly-gly gesukkel het om vasgekeerdes – gewoonlik hoenders – te red, of kommetjies sop by die oumense in hul arke te gaan afgee. Ons het eenkeer van plank en sinkplaat ’n reddingsboot aanmekaargetimmer, maar dié het by die eerste stopstraat gesink. (...)

Sondag was vir ons ’n dag van verveling, op sy ergste wanneer Pa en Ma hulle in die skemerdonker kamer plattrek vir hul middagslapie. Dan moes ons wegkom, úitkom – veld toe, om die kalkoenbos se geel kalbassies te trap dat hulle klap, en soet swart stroop uit die kriekiebos se rooi kelke te drink. Die ondergrondse spens was altyd vol verrassings: jakkalskos, veldpatat, abdol- en perde-uintjies, vinkel, kambro, baroe en ouma se veldkos met haar baie baadjies om die donkerbruin kos. Bolangs kon ons kyk vir die suurbitter ghaap en karoena.

"In al ons speletjies was verbeelding die voorbok – ’n soms roekelose verbeelding, aangevuur deur die onbeperkte speelruimte en die rooi stofopslae van lang somermiddae waarteen ’n mens jou moes versit.

"’n Lafenis was dit wanneer my pa-hulle saans ná ’n verstikkende dag op die lou stoep sit en gesels – veral wanneer die weerlig so bo die berg uitflikker. Dan was dit tyd vir ons skaapwêreld se slagstories: Danster Swart wat die wit kind wat hy kleintyd op sy rug gedra het, keel-af gesny het nadat hy hom eers sy kindergebed laat opsê en laat sing het. En Bekerneus, die veewagter van Klipbak, wat uit pure boosaardigheid omdat hy nie ’n slagding kon kry nie, sy baas se seuntjie geslag het. Toe hy die oggend in Pretoria gehang is, had hy ’n laaste versoek: 'Sê vir hulle op die plaas Bekerneus stuur groete. Dit gaan goed met hom. Hy word vanmôre gehang.' (...)

"Só het ek mens geword: in ’n afgesonderde, geslote gemeenskap – ’n uitgebreide familie as ’t ware – waarin elkeen se voorspoed of teenslag uitgerimpel het tot ver buite sy onmiddellike kring. Mense het gewéét van mekaar, en omgegee: ’n hartlike handdruk op straat vir ’n prestasie waarvan jy self al byna vergeet het; ’n nagwaak by ’n sieke, met troos- en smeergoed; skuinskoek vir die eensame oumens ... Selfs die motors in jou stoet is getel.

"Gaan ek vandag terug, verwag ek nie om my kinderparadys weer te vind nie. Ek weet: die ou bekendes is verby, soos die rivier se water; die gasvrye vertrekke met die deurgetrapte drumpels het soos ’n ryk van ouds in die aarde versink; die speelruimtes van my kinderdae is toegekamp en word ontwikkel; ’n rourand van teerstrate omraam Vrede in Hoopstraat."

Charles was een van ’n klomp Afrikaanse skrywers wat ’n bloedlyn deel met ’n stamvader wat as Oupa Klaas Honderdjaar bekend gestaan het. Hy was Nicolaas Salomon Louw wat op die plaas Groot Toren, noord van Calvinia, gewoon het. Van die ander skrywers is NP Van Wyk en WEG Louw, Anna M Louw, George Louw, Peter Louw, Rona Rupert, Willem Steenkamp, Johnita le Roux, Nico Louw en Pieter Strauss.

Verdere studie en werk

Charles is na skool na die Universiteit Stellenbosch, waar hy sy BA-graad behaal het en lid was van DJ Opperman se letterkundige laboratorium. Hy het ook ’n driejarige dramakursus onder Fred Engelen geloop.

Na afloop van sy studies het hy vir drie jaar onderwys gegee aan die Hoërskool DF Malan in Bellville. In 1975 het hy hom by Tafelberg Uitgewers aangesluit, eers as boekredakteur en later as uitgewer. Hy was ook in die 1980's baie gewild as skrywer van TV-resensies.

Hy was getroud met Lorreine, ’n vryskutredakteur, -proefleser en –vertaler, en hulle het drie kinders: twee dogters, Charleinne en Andrea, en ’n seun, William, en vier kleinkinders.

Charles se enigste digbundel, Rooiwielwa, is in 1978 gepubliseer. In hierdie bundel het Charles teruggegryp na sy kindertyd op Groot Toren met sy pa wat agter die klavier sit en saam met ’n viool en konsertina "Die rooiwielwa" gespeel het. Hy het later sy woorde by die wysie wat sy pa gespeel het, gesit. (Sien gedig aan die einde van die huldeblyke.)

Charles het in Transvaler (15 Mei 1981) aan Amanda Botha vertel dat die meeste verse in Rooiwielwa uit sy vroeë universiteitsjare op Stellenbosch kom. "Ek het baie gewik en geweeg oor die wenslikheid van publikasie – tot Hennie Aucamp gewaarsku het: '’n Mens kan jou debuut vir ’n ewigheid versuim.'"

Sy verse het meestal oor die Hantam gehandel, maar hy het homself nie as ’n streeksdigter beskou nie, het hy aan Amanda Botha gesê. "Dit is vir my wel belangrik om na jou wortels terug te gaan, dat jy jou voedingsbodem erken. Maar ek het nou ’n stadsmens geword. Ek is onomkoopbaar lief vir die Kaap met sy wolkespuwende berg, sy wit strande, sy goddelike herfste en sy rustige mense. Ek sal seker altyd ’n kind van die Hantam bly, maar ek is ’n bekeerling van die Kaap."

PH Roodt (Transvaler, 12 Augustus 1978) het Rooiwielwa ’n "pretensielose bundel verse" genoem. "Fryer skryf ’n oop, spontane gedig, ritmies gemaklik en dikwels met ’n sterk suggestiewe krag."

Die gedigte in die bundel is in vyf afdelings verdeel wat tog met mekaar verbind is. Die eerste afdeling se verse weerspieël die digter se herinneringe aan sy plattelandse verlede. Roodt meen dat die gedigte in hierdie afdeling probeer om "gister te besweer en te bestendig, maar ook om sin te haal uit gister vir vandag".

Vir Roodt is Rooiwielwa nie foutloos nie, maar hy sien tog potensiaal, want "Fryer het ’n ruim register – tematies en tegnies. (...) ’n Goeie debuut ..."

In Hoofstad van 7 September 1978 het Hilda Grobler geskryf dat Rooiwielwa ’n "interessante vermenging van stemmingsverse en nugtere streeksverse" is. Hierdie verse word afgewissel deur verse wat beide is, "maar dan met ’n sterk ironiese inslag wat ’n mens hoegenaamd nie verwag nie en daarom dubbeld die trefkrag het binne die ongewone plasing daarvan. Die vaardigheid waarmee die verse tussen speelsheid en erns, stemming en strak nugterheid, oppervlakkige kaats en diepgrypende emosionele openhartigheid wissel is verstommend in hierdie debuutbundel."

Sy het afgesluit: "Rooiwielwa herinner plek-plek sterk aan dieselfde stemming wat in Fanie Olivier se debuutbundel, Gom uit die sipres, en Jeanne Goosen se ’n Uil vlieg weg geheers het, maar wat sy besondere beeldspraak betref, toon hy dieselfde varsheid, dieselfde soepelheid as M van Niekerk se Sprokkelster. Ten spyte van hierdie assosiasies wat sy bundel oproep, is Fryer se stem sy eie en praat hy met die stem van ’n talentvolle man."

M Nienaber-Luitingh het in Beeld van 25 September 1978 verduidelik dat die titel Rooiwielwa ’n "simbool word van die verbeelding wat die spreker terugvoer na tye en plekke waarna sy hart bly hunker, in hierdie geval die jeugjare deurgebring in die Hantamstreek: Ek gaan saam met die rooiwielwa/ wat my terug na my hartland dra ..."

Dit was egter in die uitgewersbedryf dat Charles sy nis gevind het. Hy het in 1981 aan Amanda Botha erken dat die uitgewersbedryf nie altyd voordelig ingewerk het op sy eie skryfwerk nie. "Dit brei jou woordeskat en kennis uit, maar maak jou woordhonger dood; dis soos ’n black hole wat jou skeppende energie opsuig." Maar dit was vir hom heerlik om betrokke te kon wees by die maak van boeke.

Die eerste manuskrip waaraan hy in sy loopbaan by Tafelberg gewerk het, was Satansparadys, een van die Duitse skrywer Heinz Konsalik se vele boeke wat in Afrikaans vertaal is. Hy het aan Marlene Malan in Rapport (9 April 2006) vertel dat hy die flapteks moes skryf, maar die redakteur, Berta Smit, het nie met sy teks saamgestem nie: dit moes "kuiser" wees. "Ek kon haar nie oortuig dat Konsalik se boek hom daartoe leen dat die seks en wellus ’n bietjie uitgelig word nie."

Dit was in dié tyd dat die Afrikaanse uitgewersbedryf begin groei het, en veral Tafelberg Uitgewers se skrywers het die belangrikste pryse ingepalm. Skrywers het begin om Charles te vertrou met dít wat hulle geskryf het, met alles wat hulle geskryf het.

Maar die werk van ’n uitgewer is nie altyd maklik nie, want skrywers is kunstenaars en dus by implikasie wispelturig. Charles het aan Marlene Malan een en ander vertel: "Sommige skrywers soek 24 uur per dag aanmoediging. Wessel Pretorius het enige tyd van die nag in sy oomblikke van dronkverdriet gebel en dan hikkend en snikkend sy nuutste gedig voorgelees. Sheila Cussons het saans of laatnag – die uur wanneer digters ten volle ontwaak – gebel om oor haar nuutste ingewings te gesels. Om my te beskerm, het my vrou, Loreinne, altyd gesê ek het die koerant by die kafee gaan lees, of ek stort. Sheila wou eendag by my weet waarom ek so báie stort.

"Die digter EWS Hammond het in ’n stadium 'n ernstige drankprobleem gehad. Toe ek ’n baie neerslagtige, dronk Hammond tydens ’n telefoongesprek probeer oorreed het om nie selfmoord te pleeg nie, het hy versoek dat Loreinne vir hom hallelujas sing.

"Loreinne was hoogswanger en het losgetrek met al wat halleluja was. Van 'Daar's bemindes in die hemel' tot by 'O Vader wat woon in die hemel'. Kort-kort het hy geprewel: 'Loreinnetjie, Loreinnetjie'. Plek-plek het hy lustig saamgesing.

"Met niemand het ek meer koppe gestamp as met Dalene Matthee nie. Sy was so wys soos ’n bosgees en so halsstarrig soos ’n bosdonkie. Daar was ’n tyd dat die uitgewer Annari van der Merwe as tussenganger tussen ons moes optree omdat ek en Dalene mekaar glad nie kon vind wat haar hopelose gebruik van tyd in Fiela se kind betref nie. Eers daarna het sy meer vertroue in my as redakteur gekry.

"Elsa Joubert se Reise vir Isobelle was vir my een van die uitsonderlikste boeke waarmee ek ooit gewerk het. As storieverteller in Afrikaans is daar min wat kom by Petra Müller. Vir Mathews Phosa se Deur die oog van ’n naald moes ek van kop tot tone onder die hande van veiligheidsmanne deurloop voordat ek my digter, toe nog 'n politikus, in sy luukse hotelkamer kon spreek."

In Februarie 1988 wou Marina Rauch, predikantsvrou van die NG Kerk Panorama naby Kaapstad, ’n projek begin om gesinne betrokke te kry en sy het gemeen om die lyding van Christus uit te beeld met van kleuters tot bejaardes wat deel daarvan sou wees. Sy het Charles oorreed om haar te help en in ’n ongelooflik kort tydjie het hy ’n Passiespel vir hulle gemeente geskryf en ook die stuk geregisseer.

Charles het aan Una Nieuwoudt in Sarie (12 April 1995) vertel: "Die eerste uitbeelding van Só moes die Liefde ly was net langer as ’n uur – die helfte so lank soos die uiteindelike teks. En ten spyte van sommige mense se bedenkinge oor dié oorhaastige projek, het alles wonderlik uitgewerk."

Die Passiespel is aanvanklik in 1988 en 1989 in Tygerberg in die aand onder die sterrehemel opgevoer. In 1991 is dit in ’n "teater wat miljoene jare gelede deur die Skepper self gemaak is", die Van Zyl-saal in die Kangogrotte, opgevoer. Dit is elke tweede Paasseisoen aangebied en behalwe Suid-Afrikaners, het mense van regoor die wêreld – Duitsers, Amerikaners en Nederlanders – hierdie weergawe van Jesus se lydingsgeskiedenis ervaar.

Charles het aan Una Nieuwoudt vertel dat "pyn en lyding" ’n rol gespeel het in die tyd wat die skryf van die Passiespel voorafgegaan het. "Ek het griep gehad (in 1987) en het een oggend met ’n hoë koors in die bed gelê toe daar om en by tienuur skielik ’n lied in my kop kom vassteek, woorde en al. Ek het dit nog nooit vantevore gehoor nie, maar dit was so duidelik asof dit êrens in die huis oor die radio gespeel het. Die lied het ’n baie sterk refrein gehad: God is liefde.

"Dit het oor en oor in my kop gemaal en ek het later voor die klavier gaan sit en ’n bandopname daarvan gemaak."

Twaalfuur daardie selfde middag het Charles se broer gebel om hom in te lig dat sy ma tienuur die oggend oorlede is – dieselfde tyd wat hy die lied gehoor het. Later in 1987 was hy in ’n ernstige motorongeluk, maar het oorleef. En net daarna het die Passiespel sy ontstaan gehad.

Die teks is na die eerste opvoering heelwat uitgebrei en die Passiespel self het so gegroei dat Jesus Passie, wat die Woord verkondig met Só moes die Liefde ly, in 1991 gestig is. Almal van die Kaap en omgewing kon toe daaraan deelneem, maak nie saak van ras, of godsdiens nie.

Charles het as student in ’n opvoering van Macbeth in die Kangogrotte opgetree en dit het hom geweldig beïndruk. "Die Grotte het ’n wonderlike natuurlik dekor en ’n atmosfeer wat jy in geen ander teater kry nie. Boonop is daar verskillende speelvlakke en plek vir oor die duisend mense. Meteens het die Passiespel gewerk soos hy in geen saal, kerk of burgersentrum kan werk nie. Dit was asof dit so bestem was," het Charles aan Una Nieuwoudt verduidelik.

Charles se insig in die hele konsep van die Passiespel het vanaf 1998 aangehou om te verbreed en die teks het nuwer en groter dimensies bygekry. Liedere, asook danstonele, is ingevoeg en die koor is vergroot van 20 tot ongeveer 50. Die koor het saam met die verloop van die gebeure beweeg en het ook in van die tonele saamgespeel.

"’n Mens kan nie stilstaan nie, jy móét groei. Wanneer jy die Bybel lees, gaan sekere dinge by jou verby, ontwyk dit jou. Maar as jy iets soos die Passie van Jesus as ’n dramatiese geheel uitbeeld, begin jy vrae vra en verbande lê waaraan jy andersins nooit sou gedink het nie."

Charles se mees kreatiewe tyd met die Passiespel was wanneer hy die spelers voor hom kon sien en die hele stuk in sy geestesoog kon sien. Hy sou aan onervare spelers minder dialoog gee en omgekeerd. "Só het ons een jaar ’n Saggeus gehad wat nie sy woorde kon onthou nie, maar omdat hy net mooi klein genoeg vir die rol was, wou ons hom nie vervang nie. Ek dink toe: reg, as hy nie kan onthou wat hy moet sê nie, kry ons vir hom ’n vrou wat namens hom kan praat. So het mevrou Saggeus haar verskyning gemaak. Sy sit vierkantig op arme Saggeus se kop en praat hom skoon dood. Die het heel goed gewerk en omdat die gehoor ’n stukkie humor hier en daar geniet, het ons besluit om dit so te hou."

Charles het ’n formidabele span vroue gehad wat bankvas agter hom gestaan het. Behalwe Loreinne, sy eie vrou, wat saam met Ellen Botha die organisasie behartig het, was daar ook Marike Hendriksz, wat die choreografie gedoen het en in 1995 ook die assistentregisseur was; Ida Bruwer, wat die koor afgerig het; en Margaretha Rossouw, die vrou wat verantwoordelik was vir die maak van die kostuums. In 1995 was Guilma van Wyk die verhoogbestuurder.

Charles het aan Rina Liebenberg (Die Kerkbode, 26 Maart 1993) vertel dat die uitdaging vir hom daarin gesetel was om so getrou as moontlik aan die Skrif te bly, maar terselfdertyd ook die stuk as ’n dramatiese voorstelling te laat slaag. "Dit was vir my nodig om verskeie Bybelvertalings, Afrikaans én Engels, te raadpleeg om die dialoog so natuurlik moontlik te laat klink. En om tonele uit te bou, moes ek Johannes se weergawe aanvul met besonderhede uit die ander evangelies. In die brugpassasies waar Johannes emosioneel reageer op wat hy onthou, kon ek myself groter vryheid gun en heelwat van my eie ontroering bybring. Dit geld ook die liedere wat ek geskryf het om die teks aan te vul."

Vir Charles was dit nie net die werk van mense nie, maar "die Woord was self heeltyd aan die werk. En die Heilige Gees láát dit werk. Elkeen van die spanlede het gegroei met elke nuwe uitbeelding en word besiel om die belangrikste boodskap van alle tye op oortuigende wyse uit te dra – soos Jesus se dissipels die evangelie uitgedra het. As Só moes die Liefde ly elke siel voed soos dit my en my span se siele voed, maak dit maande se harde werk en onbaatsugtige toewyding die moeite werd."

In Oktober 1990 is ’n drama van Charles, Lig in die swart klooster, deur die NG Gemeente Panorama op die planke gebring as deel van die gemeente se Woordfees gedurende Hervormingsnaweek. Dit het die lewe van Martin Luther uitgebeeld, asook sy stryd om evangeliese vryheid. Charles was ook die regisseur van die stuk.

Een van Charles se groot belangstellings in die lewe was die teater. Dit het reeds in sy studentejare na vore getree toe hy ’n driejaarkursus onder Fred Engelen geloop het.

In sy huldeblyk op LitNet skryf Danie Botha die volgende oor Charles se teaterbelangstelling: "Charles is ook dramastudent in die beginjare van die HB Thom-teater. Onder Fred Engelen se leiding beleef die dramadepartement ’n hoogbloei. Rina Botha is die spraakdosent. Charles memoriseer die hele, maar hele, 'Die Hond van God' van Van Wyk Louw, maar toe gee sy juis daardie dag ’n 'koffieklas'. Maar daar by die voorportaaltrappe reël Rina ook voordragaande. Soos met Annelize van der Ryst, Charles en ander. 7de Laan se Matrone vertolk Hennie Aucamp se 'Die Hartseerwals' aangrypend en hy bied Leipoldt se '’n Handvol gruis' aan. Hy kom ingestap tot by ’n 'lessenaar' en asof hy ons verwag het, 'gesels' hy so eg en natuurlik oor die voortreflikheid van die Hantamwêreld. Dit was immers sy jeugland in die werklike lewe. In sy gedig 'Windharp' in Rooiwielwa skryf hy self oor daardie kontrei se 'hartseermooi' van 'Oktoberveld se kleur' en 'die swartstoofwinters' wat 'tóg warmer as nou' was. In 2000 neem Abraham de Vries Charles se kortverhaal 'Dokter Niemeyer' op in Uit die kontreie vandaan. Ons is op Calvinia in Waterstraat waar ’n 'juffrou' tevergeefs wag op haar 'verloofde', dr Niemeyer. Van agter 'stowwerige rooi malvas' kyk sy doelbewus verby 'die opgeefsels van die rante'. Die dokter wil maar net nie opdaag nie. Elke keer ’n ander verskoning.

"Charles het ook Banquo vertolk in ’n Engelen-produksie van Macbeth. Teenoor Tine Balder was hy ’n vryer in Yerma. Hy het dikwels vertel hoe hy dié ervare, professionele akteurs dopgehou het, hoe ligsinnig hulle kan raak agter die skerms, maar ’n rukkie later stap hulle weer dadelik in hul rol in.

"Een van sy bekendste gedigte, 'Dood van ’n akteur', is aan Fred Engelen opgedra. As Caesar en Macbeth het die akteur 'die uiteindelik-stil-word gerepeteer'.

Maar toe hy niksvermoedend, soos bepaal,
vertolking as vertoning moes herhaal,
vind hy, gestroop van kleed en kleur,
die mens moet sterf as amateur.

"Charles se teaterkennis het hom te pas gekom in die jare waartydens hy lid was van die beoordelaarskomitee vir die Fleur du Cap-toneelpryse. En sekerlik ook met die skep van die passiespel, Só moes die Liefde ly. Dit is verskeie kere opgevoer in die jare neëntig, byvoorbeeld in die Kangogrotte. Telkens het ’n mens verneem: die aanbieding het vir die gehore én vir die deelnemers geestelike verryking gebied."

Etienne Britz het vertel van die opvoering van Die vampier. "My loopbaan as verhoogakteur is beperk tot die rol van die vampier in Charles se gelyknamige toneelstuk. Ons het saam verskeie Dracula-produksies van Hammer Films bygewoon. Dit het gelei tot die toneelstuk waarin ek, in die slottoneel, met Dracula-valstande en ’n mond vol bloed op ’n aanvallige dame toeslaan. Die bloed het ons van gouestroop gemeng met Moir se rooi versiersuiker-kleurstof gemaak. Hierdie klewerige bloedformule was ’n fout. Dit het my laat stik toe ’n professor, ’n vampier-kenner, my met ’n kruis en ’n houtpen toetakel. Ek het doodsbenoud op die verhoog neergesyg terwyl ek Charles besorg sien naderstorm uit die gehoor. Met my laaste kragte het ek deur die kasteel se muur, ’n beskilderde doek, gestorm. Die kasteelmuur het glo wild gewapper. Ek kan vandag eerlik sê dat ek gehoop het om die opvoering te red deur nie werklik op die verhoog te sterf nie. 'The show must go on' was my egte sterwenswoorde voordat ek skielik weer asem kon skep. Ek kan byvoeg dat ons ’n stampvol saal gehad het die aand nadat ek byna die emmer geskop het."

In 1997 het Charles die Piet Cillié-medalje vir kreatiewe werk ontvang. Tydens die oorhandiging van die medalje aan Charles het Ton Vosloo, destyds uitvoerende voorsitter van die Nasionale Pers, gesê: "Om ’n goeie boekeredakteur te wees, vereis ’n kombinasie van goeie eienskappe." Hy het hierdie eienskappe gelys: ’n uitgebreide verwysingsraamwerk; ’n wye leeskennis; hy moet sy skrywers se vryheid binne perke erken; ’n goeie intuïsie, en toe vervolg: "Opsommend kan ’n mens seker beweer dat ’n boekeredakteur wat terselfdertyd sieketrooster en slawedrywer is, ook ’n goed ontwikkelde humorsin moet hê. Die mens wat van ’n gemiddelde teks ’n goeie boek kan maak en van ’n manuskrip ’n treffer, moet oor unieke eienskappe beskik.

"Kortliks moet hy die wysheid van ’n Salomo hê, die insig van ’n profeet, die takt van ’n diplomaat, die geduld van ’n skaakmeester, die deeglikheid van ’n breinchirurg en die versamelde kennis van ’n ensiklopedie.

"Omdat Charles Fryer in groot mate oor dié en meer attribute beskik, is hy nie gewoon ’n goeie boekeredakteur nie, maar ’n begunstigde, uitnemende en waarskynlik Suid-Afrika se top-boekeredakteur." (Beeld, 15 Augustus 1997)

In sy toespraak by die ontvangs van die medalje het Charles onder andere gesê: "As boekeredakteur oor baie jare het ek so gewoond geraak daaraan om agter die skerms te werk en uit die skrywer se kollig te staan, dat ek begin glo het ek is onsigbaar vir dié wat van hoog bo op die 'gods' afkyk. Dat u my vandag met hierdie prys vereer, dui daarop dat ek my misgis het. U is tóg bewus van die sorgsame skimme wat op die agtergrond bly terwyl die skrywer vorentoe tree vir applous. U wéét dat ’n boek nie net met lym gebind word nie, maar ook met die sout en sweet van redakteurs. (...)

"Waar kry jy nog die geleentheid om so ’n verskeidenheid van beroepe saam te trek in een? Ten eerste is jy ’n jongleur wat baie dinge gelyktydig in die lug moet hou. (...) Ten tweede is die boekeredakteur ’n kosmetiese chirurg. (...) Verder moet jy ’n koppelaar wees wat skrywer en idee in hartstog kan verenig; ’n beroepsvryer wat ander 'callers' kan koudsit met die opsit; ’n sielkundige wat skrywers uit die dieptes van depressie kan lei sonder om jouself in jou kantoor te wil ophang; en jy moet ’n koorddanser wees wat die dun draad tussen vulkaniese skrywersego's gat oor kop kan slaan sonder om jou gat te sien. (...) En 'n mens kan byvoeg: jy moet ’n aartsoptimis wees. (...)

"Dit was my voorreg om met die boeke van sommige van Afrikaans se grootste skrywers te werk; om van hierdie figure intiem te leer ken. Ek kon byvoorbeeld die vlammende stert van die vuurpyl wat Sheila Cussons geword het, deur verskillende fases sien beweeg. Ek kon beleef hoe Dalene Matthee se Kringe uit ’n verkreukelde plastieksak gehaal word om groot spore in ons Afrikaanse bos én elders te trap. Ek kon Elsa Joubert se Isobelle op haar reise vergesel en help kyk dat sy nie verdwaal nie. En ek kon FA Venter se heroïese stryd om sy laaste boek geskryf te kry op my manier help sáámstry.

"Baie van die skrywers aan wie ek vandag dink, is reeds saliger, maar my mentor Dirk Opperman had reg toe hy gesê het: Die dooies praat saam. Ek hoor hulle, en ek weet: my verbintenis met skrywers het my lewe oneindig verryk. Natuurlik het ek ook ’n prys betaal. Ander se woorde het my in so ’n mate ingeneem dat my eie woorde moes wyk. As ek in die nag wakker lê, is dit gewoonlik oplossings vir manuskripte waaraan ek werk wat uit die onderbewuste opduik.

"Maar ek voel getroos deur die feit dat ek ’n stukkie van myself aan soveel skrywers kon en kan gee, al is hulle nie altyd erkentlik nie. Dat ek in ’n posisie is om ’n verskil te maak tussen vrotterig en genoeglik, en tussen amper-goed en voortreflik. Dat ek my bydrae tot die Afrikaanse letterkunde kan maak in ’n stadium waar mens nog kan inklim pleks van kritiseer. Die vroeë sterfte van soveel haastige, verbroude boeke is soos ’n misdaadsyfer iets wat teëgegaan moet word. Die prys dra die naam van ’n man vir wie se spitsvondigheid en wysheid ek groot waardering het; ek is dankbaar dat u my waardig ag om juis dié prys te ontvang."

In 2002 het Charles ’n ernstige beroerte-aanval gehad wat hom stom en sy regterkant verlam gelaat het. Sy herstel was stadig, maar seker, en hy het na sewe maande sy spraak begin herwin. Hy het aan Marlene Malan vertel dat mense hom baie maal gevra het of hy nie kwaad was na die beroerte nie. Sy antwoord was: "Vir wie moet ek dan kwaad wees? Vir God? Deur my spraakverlies het ek geleer om na God te luister, byna soos die monnike-orde wat die woestyn ingegaan het met ’n klippie onder die tong om hulle daaraan te herinner om na die binnestem van God te luister."

Daar is ’n geskiedenis van beroerte-aanvalle in Charles se familie. Sy pa het beroerte gehad (op 70-jarige ouderdom) en so ook twee van sy broers en ’n halfbroer. Hy het aanmanings gehad, maar niemand het eintlik daarop ag geslaan nie. Charles het met sy frenetiese lewenstyl aangegaan en van die een sperdatumna die volgende gehardloop. Hy was boonop ’n perfeksionis en het nooit vakansie geneem nie, het hy aan Heart (Somer 2002) vertel. In Augustus 2001 is hy met diabetes gediagnoseer, en hy het teen die einde van daardie jaar 20 kg verloor, maar steeds het hy nog laat by die huis gekom en soms eers teen elfuur saans geëet.

Die laaste drie weke van Desember 2001 moes hy aaneen werk aan Eilande van Dan Sleigh. Hy het begin borspyne kry en Disprins begin drink, wat, agterna gesproke, ’n groot fout was. Vrydag 4 Januarie 2002 was sy werk klaar en het hy vir ’n kollega gesê dat hy sy liggaam nou te ver gedryf het en het hy begin om die chaos in sy kantoor op te ruim.

Die volgende Woensdag het hy sleg gevoel en besluit om by die huis te bly. Met middagete het hy probeer om sy spaghetti met ’n mes te eet en Loreinne het opgelet dat hy ’n brief wat sy vir hom wou gee, nie raakgesien het nie.

Hy het aan Rooi Rose vertel (September 2002): "Daardie middag het ek die laaste twee verse geskryf van ’n baie ou Negro spiritual wat ek Paastyd in die Passiespel wou gebruik. Ek en my seun het die woorde saam met die musiek getoets." Daarna het hy gaan rus. "Teen sesuur die volgende oggend het ek met ’n groot gesukkel in die badkamer gekom. Toe my vrou agtuur my oggendkoffie bring, het sy gesien iets is verkeerd toe ek ’n glas twee keer laat val. Al wat ek glo gesê het, was 'Donder!'"

Hulle is onmiddellik na ’n internis wat sonartoetse gedoen het en Charles in die hospitaal wou laat opneem. Hy wou nie en is weer huis toe. "Die grote het gekom tydens ’n laatmiddagslapie. Die aand kwart voor nege was die internis by my in die hospitaal, en ek en my gesin ten volle bewus daarvan: beroerte!"

Twee-uur daardie nag was Charles totaal verlam aan die linkerkant en (vir hom die vreeslikste vir ’n persoon vir wie woorde sy werk was) kon hy nie praat nie. Die eerste ding waarvan hy bewus was na die aanval "was die hel van hoofpyne. Drie dae lank was dit ondraaglik. Toe dit begin bedaar, kon ek besoekers ontvang. Ek het besef ek kan nie praat nie, maar met papier en potlood het ek bly kommunikeer.

"My grootste vrees was vir die nag – dat ek dalk alleen sou wees met die verskriklike pyn. Twee woorde het my siel in die donker gelei: Here en Jesus. ’n Vrede het in my gemoed gekom. Ek het geweet dis ’n stryd wat ek sou moes aanpak. Ek hou aan God vas in dié beproewing."

Lorreine het aan Rooi Rose vertel dat nie een van hulle in die gesin besef het dat Charles nie geweet wie hy was na die beroerte nie. Ongeveer ’n maand na die aanval wou hy by haar weet wat sy naam is en later het hy ook vir haar gesê: "Ek soek my."

Charles het die gedig "Donkerson" na aanleiding van sy beroerte-aanval geskryf:

Donkerson

Die middagson het nog hoog gesit
toe die eerste verdonkering kom:
'n koorsdroom wat kleef,
'n beroering in die onbewuste.

Die vuur van die brein
het al flouer gebrand.
Die honger dood se skaduwee
het kraaiswart oor alles geskuif.

Tot die lig eindelik
in oogholtes breek
en ek daar lê onder God se son:
woordeloos, verlam, begenadig.

In 2008 is ’n huldigingsprogram op die Woordfees vir Charles Fryer aangebied. Alwena van der Vyver het ’n keur uit sy gedigte, prosa en ongepubliseerde werke saamgestel onder die titel Rooiwielwa. Jacqueline Leuvenink het hierdie produksie in Kerkbode (5 Junie 2009) ’n "stukkie onthou-en-troosgoed" genoem. Alwena het dit as ’n "reis deur landskappe van herinnering, liefde, verlies en geloof" beskryf.

Ook in 2008 is Charles se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en kultuur deur die ATKV vereer toe die vereniging ’n ATKV-oorkonde aan hom oorhandig het.

In 'n onderhoud met François Bloemhof in Die Burger van 26 Februarie 2008 het Charles ’n geheim uit sy verlede verklap: "’n Geheim wat ek deur die jare bewaar het, mag ek nou seker maar vertel. Reinhart de Vos, die koggelskrywer van ’n literêre rubriek in Insig in die 1990's, was nié Danie van Niekerk of Marcus de Jong of Frederik de Jager nie, maar die verfoeilike Charles Fryer. Om as verdagte uitgeskakel te word, het ek by geleentheid hartlik oor myself geskinder!"

Die term hygroman was een van Reinhart se skeppings en later het ’n hele paar joernaliste hierdie benaming vir hulleself toegeëien.

Oor resensente het Charles hom in Boeke-Wêreld van 15 Februarie 1995 uitgelaat: "Die Afrikaanse boek het lank gely onder die hoëpriesterlike voorkeure van geleerdes. Lesers van dagbladresensies het dikwels nie verder gekom as die kop, die inleiding en die samevatting teen die einde nie. Daaruit is afgelei waarop dit neerkom: ’n menslike offerande aan die kil literêre gode, of die salf van nog ’n heilige kalf.

"Ingekorte ruimte in dagblaaie het weer gelei tot ’n nuwe bedreiging: japtrap-resensente wat die skrywer ’n skuins klap gee, of só flikflooi dat ’n mens moet vra: Wie het vyande nodig as jou vriende jou as teiken opstel?

"Met die huidige beroep op lekker en leesbaar skryf, word daar lekker misbruik gemaak van resensies. Kosbare boekruimte word gebruik vir binnegeveggies en onderonsies wat eerder in rubrieke en polemieke tuishoort.

"Vat nou maar The Yawning Man se resensie oor Dinge van ’n kind. Wat het Marita se rooi pakkie en halslyn met die gehalte van die boek uit te waai? Uiteindelik moet ’n mens maar weer besluit: Daar is geen plaasvervanger vir ’n gesonde, oorwoë oordeel nie.

"’n Goeie resensent skryf gebalanseerd en verantwoordelik. Pittig, met pit. Hy sê sy sê, skerp as dit nodig is, maar voel hy vere vir ’n boek, laat hy hom liewer verbygaan. Skrywers wat ’n finale, verdoemende oordeel probeer uitspreek oor ander, dikwels mededingende skrywers se werk, maak lesers gatvol vir ons klein literêre dammetjie, bloedbelope van piranha-venyn."

En toe, op 13 November 2014, meer as twaalf jaar ná sy beroerte, is Charles Fryer in sy huis in Panorama oorlede.

Huldeblyke

  • Peter Snyders: "’n Waarskynlike mens dra ek op aan die pas oorlede uitgewer Charles Fryer met hierdie toevoeging: Sonder jou leiding, hulp en geduld sou ’n Ordinary Mens en ’n Waarskynlike Mens nie gewees het soos hulle is nie.” (Die Burger, 18 November 2014)
  • Etienne Britz: "Ek wil graag vertel hoeveel pret Charles se gevoel vir absurditeit my as student besorg het. (...) Die gewaagde sestigerjare het egter invloed op my en Charles uitgeoefen. Charles het my op guitige uitdrukkings getrakteer. ’n Franse tongsoen het hy ’n 'delikate mangel-operasie' genoem. Die manlike gay gemeenskap het hy die 'onheilige suster-orde' genoem. Ons was bevriend met gay klasmaats, maar Charles kon geen moedswilligheid wat die lagspiere prikkel, weerstaan nie. (...) Charles was my redder en iemand wat my as student groot plesier besorg het." (Die Burger, 22 November 2014)
  • Loreinne Fryer: "Ek is dankbaar dat ek sy hand vasgehou het en vir hom gesê het ek is lief vir hom toe hy sy oë toegemaak het. Hy was ’n wonderlike man en pa, wat omgegee het vir mense en graag ander gehelp het." (Die Burger, 15 November 2014)
  • Danie Botha: "Man met ’n glimlag: Naas die ure der ure se stipte konsentrasie met die redigering en proeflees van hierdie dikwels omvangryke en verwikkelde werk, die onderhandelings met die skrywers, boekontwerpers en kollegas, skuldgevoelens oor sy afskeep van sy gesin, was daar ook die ligter oomblikke. Charles sou vanoggend ’n gejil begin en dit soos ’n vervolgverhaal volhou tussen die werk deur tot huistoegaantyd. Of hy sal vra dat ons twee 'butch' moet praat, net om te ontlaai. Met sy uitgebreide kennis van rolprente, veral van toeka se dae, het hy graag byname uitgedink, die sterre vernoem. Ek was Orson Welles of Jack Nicholson. En dan was daar dié groot pret vir hom: Bejaarde dames wat graag ’n Barbara Cartland of Josephine Cox wil word, kom spreek hom oor ’n beplande boek. Deel van ons 'gulle' ontvangs van die senior burgers was dat hy hulle tot in my kantoordeur bring. Hy bly agter hulle staan; hulle sien nie hoe hy glimlag nie. Ek spring op, praat my beste Engels, is vol van die ‘milk of human kindness’. En hy kan sy lag nie hou nie vir my hartlike ordentlikheid en die dames wat alles tog so waardeer nie ...

    "In die latere jare, toe DJ Opperman weer keuring vir ons begin doen het, het Charles my darem op ’n dag verleë gemaak. Hy bring ook die professor tot in my deur en sê: 'Professor onthou nog vir Danie Botha?' Ek en prof Dirk grinnik vir mekaar.
            
    "En toe is dit my vyftigste verjaardag. Ek stap ná middagete oor Waalstraat na die Waalburggebou. Meteens hoor ek ’n stem uit die hemel. Eintlik ’n verpiepte een vanaf die tweede verdieping. Dis Charles wat deur ’n kartonbuis Kaapstad laat weet: 'Danie Booootha is vyftig!' As afdelingshoof moes hy my en Ettie Williams se klaptekste goedkeur; hy het altyd presies die problematiese gedeelte uitgelig.
     
    "Ons vriendskap, ons werksverhouding ... Charles beskryf dit op 9 Junie 1978 in my kopie van   Rooiwielwa:

         Jy is te veel van jou, te veel van my,
         hoe sal mens ’n ander, jouself ooit bevry;
         ons drome bloei wit, ons wonde dra,
         diep lê die nag om my rooiwielwa.” (LitNet)

  • Petra Müller: "Ons het hom Sjarlemanje genoem, ons weergawe van Karel die Grote. Groot van lyf, groot van hart, groot van gees – ’n groot stuk mens, gewigtig en stil. Uit Calvinia se wêreld. (...) Groot siele dra sulke ooptes met hul rond. As Charles die oggend rooi oog op kantoor kom – sy hare platstrykend; hy was besonder gesteld op sy hare – dan weet ons hy het laatnag groot stukke wêreld      met ’n teks geloop. Heel moontlik ’n groot teks. Partykeer nié. Hy bel jou elfuur in die nag oor ’n komma, het een (Hertzogpryswennende) skrywer eendag geknor. Wees dankbaar, het ons gesê. Hy bel ons almal.

"Dis nie net dat hy ’n teleskopiese insig in ’n skrywer, veral ’n nuwe skrywer se werk het nie: hy het ook respek daarvoor gehad. En toewyding, tot aan die einde toe. By hom was jy veilig. Dink weer hieroor ná, sou hy aan ’n skrywer sê, sy een groot hand aan ’t weef oor die manuskrip, soos ’n seëning. Of dalk ’n doop. Dink na oor invalshoeke, ewewigte, lengtes en tekort, toepaslikhede en onvanpasthede, oor inkleding en atmosfeer, spraak en weerspraak, wendings. Oor eindes en beginne. Afrondings. En laaste woorde. En dat daar niks meer aan gedoen kan word nie, as jou boek die wêreld ingegaan het, soos jou kind.

"Tot siens, Charles Fryer, van jou was daar net een gewees." (LitNet)

  • Annari van der Merwe: "Charles Fryer was ’n reus in die Afrikaanse uitgewerswêreld. Miskien onthou ek hom groter as wat hy in werklikheid was, maar vir my het hy oor al ons ander uitgetroon, letterlik en figuurlik – op ’n goeie dag met ’n geamuseerde glinstering in die oog en ’n onnutsige glimlaggie, op ’n onderstebo dag met ’n bewolkte uitdrukking in sy eerlike oë.

"Van tyd tot tyd het ander redakteurs bygekom, maar tot Charles in 2002 deur ’n beroerte gedwing is om die uitgewery te verlaat, was hy, Danie en Petra die kern van die fiksie-afdeling. Hulle was ’n gedugte driemanskap wat die werk van die beduidendste skrywers in Afrikaans oor twee, drie dekades die wêreld ingestuur het: FA Venter, Audrey Blignault, Anna M Louw, Elsa Joubert, Henriette Grové, Dolf van Niekerk, Chris Barnard, PG du Plessis, Hennie Aucamp, George Weideman, Ernst van Heerden, TT Cloete, Sheila Cussons, Koos Prinsloo, Alexander Strachan, Etienne van Heerden, Ena Murray, Dalene Matthee, Jan Spies, Engela van Rooyen, Marita van der Vyver – daar is te veel om op te noem. Wat versorging betref, is daar geen onderskeid gemaak tussen literêre en populêre tekste nie. Onder Charles se leiding is elke stuk skryfwerk met dieselfde piëteit en noukeurigheid gehanteer en ewe netjies uitgegee. Want die wins wat gewilde boeke opgelewer het, is gebruik om goeie boeke waarvoor daar beperkte aanvraag sou wees te subsidieer.

"Soms was daar ’n stuitige gelag te hoor uit die fiksiehoek, ander kere weer ernstige argumentasie, want uitgeebesluite is nie ligtelik geneem nie. Meningsverskil is natuurlik onafwendbaar by redakteurs wat hulle sout werd is, maar uiteindelik moes Charles pa staan vir die afdeling se prestasie, en ek glo nie die ander twee sou hom kon beweeg as hy eers sy voet dwars neergesit het nie. Daarvoor was hy te gewigtig. En waarom sou hulle wou? Want almal het geweet Charles se oordeel was suiwer en dat hy hom nie deur die status of roem van ’n skrywer of literêre modegiere of -foefies laat verblind nie.

"Die enigste frustrasie wat Charles ooit by sy kollegas, ook in die ander afdelings, veroorsaak het, was juis die gevolg van sy puntenerigheid en deeglike oorweging van alle tersaaklike aspekte, sy aandrang daarop om alles finaal af te teken. Jy kon die man nie aanjaag nie – nie Danie van Niekerk nie, ook nie Jürgen Fomm, die ewe puntenerige hoof van produksie nie. ’n Sperdatum was in die laaste instansie vir Charles minder belangrik as ’n weloorwoë besluit of ’n foutloos afgeronde manuskrip. Die lang ure wat hy gewerk het om te waak oor die gehalte van die boeke in sy afdeling en die ekstra spanning om by uitgeeskedules te hou, het uiteindelik sy tol geëis.

"Charles was ook digter. Die prys wat ’n redakteur van Charles se kaliber betaal, is egter dat die versorging van ánder se skryfwerk sy eie skeppende energie uitput. Hy het helaas maar een digbundel gepubliseer: Rooiwielwa, in 1978, toevallig die jaar toe ek hom die eerste keer op die lyf geloop het. Vir my ontspring die bundel in die spanning tussen sy verlange na die eenvoudiger lewe van sy hartland, die Hantam, en die veeleisende werklikheid van ’n stadsbestaan. Die gelyknamige openingsgedig lyk vir my ’n gepaste afsluiting by ’n huldiging wat totaal ontoereikend voel vir so ’n buitengewoon fynsinnige en terselfdertyd aardse mens soos Charles Fryer:

Ek gaan saam met die rooiwielwa
wat my terug na my hartland dra;
deur die nag vol maan alleen,
oor die swartbosvlakte heen.

Ek sal terug met die grootpad gaan
óór die berg wat donker staan;
van julle sal ek niks meer vra,
ek gaan saam met die rooiwielwa.” (LitNet)

Publikasies

Publikasie

Rooiwielwa

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1981

ISBN

0624011208 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Charles Fryer as samesteller:

Artikels oor Charles Fryer beskikbaar op die internet

Artikels deur Charles Fryer beskikbaar op die internet:

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top