Bruce Maddy-Weitzman: The Berber Identity Movement

  • 2

Jare gelede het ek in die Encyclopædia Britannica (revised 14th edition, 1961, vol 3, p 428) gelees: "The Berbers are distinctively a 'white' race," en dat daar selfs blonde mense met blou oë in hulle geledere aangetref word. Die Berbers is inheems aan Noord-Afrika en hulle groepsnaam is moontlik afgelei van wat die Grieke, Romeine en Arabiere hulle genoem het, naamlik "barbare". Hulle tradisionele woongebied aan die Middellandse See is Barbarye genoem. Dit is benamings waarteen polities korrektes deesdae heftig beswaar maak, maar die woord "barbaar" verwys klaarblyklik na (moontlike) verskille in ontwikkeling by sommige wat destyds aan die Middellandse See gewoon het.

Die Suid-Afrikaner Marq de Villiers, met mede-outeur Sheila Hirtle, skryf in Sahara: The life of the great desert (London: HarperCollins, 2002, 326p): "Some Berber groups ... include many individuals with fair skin, blue eyes, and light hair, particularly in their beards. Curiously, their blood types are north-western European, and in some tribes of the Morocco middle Atlas the frequency of Rh-negative blood is matched elsewhere only by the Basques" (p 178).

Oor die etniese groepe in die Maghrib (kyk hieronder) skryf De Villiers en Hirtle: "The ethnic identities of all the main groups remain strong, and many of the Saharan tribes are hyperconscious of their own exclusive racial stock. The Tuareg ['n Berber-vertakking] especially consider themselves a superior people, and have a finely developed sense of the colour of men, dividing them up into white ... red ... yellow ... brown ... green ... grey ... and black" (p 240). Dus sewe kleurgroepe, terwyl net vier kleur- of etniese groepe gewoonlik in sowel die ou as die nuwe Suid-Afrika onderskei word. Maar Berber-militante probeer deesdae hard om etnisiteit uit die prentjie te hou.

Maddy-Weitzman (bron hieronder, Kindle 111) noem nog 'n moontlikheid: dat Berber afgelei is van "barbar", die Arabiese woord vir babbel, want die Arabiere het nie verstaan wat die Berbers praat nie. Die Romeine het nog 'n naam vir die Berbers gehad, naamlik "Numidiërs" ("all Africans not subject to Carthage" - 320), wat verwys na 'n ander waargenome kenmerk, naamlik dat die Berbers nomades was en in sommige gevalle steeds is, bv die Toeareg (rondtrekkend woonagtig in Algerië, Libië, Mali, Burkina Faso en Niger).

Maddy-Weitzman bevestig wat hierbo oor Berber-etnisiteit gesê is: "The gradual emergence in the Sahara during the second millennium BC of a lighter-skinned warrior aristocracy ascendant over black cultivators, a pattern that would repeat itself in more modern times in the Sahel region" (293). "Sahel: marginal area to the south of the Sahara, from Senegal to Somalia" (Collins World Encyclopedia,2003, p 803). Ek verwys na verskeie bronne in my teks, want daar kom nogal heelwat weersprekinge in hierdie bronne en op die internet voor.

Nadat die Arabiere begin het om Noord-Afrika in die 7de eeu getalsgewys te oorheers, is die Berbers voor die keuse gestel om die Islamitiese geloof te aanvaar of verslaaf of uitgewis te word. Die meeste Berbers het Moslems geword, maar ondertrouery met die Arabiere was (veral aanvanklik) uitsonderlik. Ingevolge menseregte is Berber-vroue tradisioneel heelwat beter daaraan toe as Arabiese vroue. Anders as tradisionele Moslems wat vier vroue mag hê, is die Berbers monogamies en die vroue gaan ongesluier. In die geval van die Toeareg is dit die mans wat gesluier is. Vet vroue word nie bewonder nie. Die Berber-taal is nie-Semities, spesifiek Hamities, met 'n alfabet van 32 letters; vier meer as Arabies, wat 'n Semitiese taal is. Reeds in 500 vC is die Berber-taal in Tifinagh-letters geskryf. Hierdie alfabet is heel moontlik 'n kombinasie van die Fenisiese alfabet en antieke Libiese skrif.

Bruce Maddy-Weitzman het 'n uitstekende boek met die titel, The Berber Identity Movement and the Challenge to North African States (Austin: University of Texas Press, 2011, 304p; Amazon Kindle $15.99), geskryf. Om die teks te verstaan, moet 'n mens 'n bietjie elementêre geografie ken. Die Berbers word veral in Algerië en Marokko aangetref en die boek handel by uitstek oor hierdie twee lande. Maar daar is vyf Berber-lande, van die weste tot die ooste: Mauritanië, Marokko, Algerië, Tunisië en Libië. Sedert 1989 vorm hulle die Arabiese Maghrib-Unie. Hierby kan Wes-Sahara en die Kanariese Eilande as Berber-lande gevoeg word. Hulle word gesamentlik die Maghrib genoem, omdat hulle uit die Arabies-Islamitiese oogpunt wes geleë is, in kontras met die Mashriq (Egipte, Saudi-Arabië, Jemen en Mesopotamië) wat oos lê. Die verdelingslyn loop deur die Siwa-oase in Egipte. Soos uit die bogenoemde verspreiding van die Toeareg afgelei kan word, strek die Berber-woongebied tot in die Sahel, dus lande wat aan die suidelike soom van die Sahara geleë is.

Veertig tot 45% van Marokko, 20 tot 25% van Algerië, 8 tot 9% van Libië en net 1% van Tunisië se bevolking is Berbers. In die sensus in 2004 in Marokko is bevind dat net 28% van die bevolking die Berber-taal praat, teenoor 34% tien jaar tevore. Naas die oorheersende Islamitiese godsdiens en die Arabiese kultuur en taal, is daar die Berbers se eie etnisiteit en kultuur, wat dikwels in stamme en in veral mondelinge taalvariëteite uitdrukking vind. Hier moet genoem word dat Arabiese etnisiteit onseker of vloeibaar is: "'Arab' has itself become slippery of definition ... Arab doesn't necessarily imply ethnicity" (De Villiers en Hirtle, p 181). Ook: "The numbers are unreliable, as are the definitions of Arab" (p 239).

Talle variasies van die Arabiese taal kom in die Maghrib voor. Daardie Arabies verskil heelwat van moderne Standaardarabies. Die Soennities-Islamitiese religie is ook aangepas, onder meer deur die Berbers: "The Tuareg had adapted Islam, not adopted it" (p 256). Dit is sowel die Berbers as die Arabiere wat as Moslems soms "More" genoem word, hoewel hierdie benaming ook na die land Mauritanië kan verwys. "Saracen: ancient Greek and Roman term for an Arab, used in the Middle Ages by Europeans for all Muslims. The equivalent term used in Spain was Moor" (Collins World Encyclopedia, p 813). Die oorgrote meerderheid More in Spanje was Berbers.

Nog 'n naam vir die Berbers is die Corsairs (seerowers), maar dit verwys spesifiek na hulle rol in die slawehandel in die 16de en 17de eeu toe hulle christen-slawe veral in Europa vir die Ottoman-heersers gebuit het. Lees gerus Giles Milton se boek oor hierdie stuk afgryslike geskiedenis, White Gold: The extraordinary story of Thomas Pellow and North Africa's one million European slaves (London: Hodder & Stoughton, 2004, 316p). Anders as in die geval van die transatlantiese handel in swart slawe, kom hierdie wit slawerny selde ter sprake. Slawehandel binne Afrika, waarin Arabiere 'n leidende rol gespeel het, word ook relatief min genoem. De Villiers en Hirtle skryf: "Until well into the nineteenth century perhaps half the value of all Saharan traffic was in slaves" (p 232).

Soos deesdae dikwels gebeur wanneer 'n miskende groep sy etniese identiteit herontdek en ontgin, verkies die Berbers om nuwe name genoem te word, naamlik Amazigh (vrye man), Tamazight (vrye vrou), meervoud: Imazighen, met Tamazight wat ook die naam vir die Berber-taal is. Daar is drie primêre Berber-dialekte in Marokko, met twee in Algerië, asook twee kleineres. Vir die bogenoemde Arabiese Maghrib-Unie word die term Tamazgha verkies. Daar is 'n transnasionale of pan- Amazigh-kultuurbeweging waarmee Berbers hulle etnies-kulturele identiteit bevestig en bevorder. Die leiding gaan uit van die Kabiele in die Algerynse Kabielië-streek, in die omgewing van Constantine. Die Kabiele vorm twee-derdes van Algerië se Berber-bevolking.

Anthony Smith skryf: "'The secret of identity is memory,' requiring the salvaging and reappropriation of the ethnic past" (302). Die vroegste rekords waarin na Berber-voorsate verwys word, dateer terug tot 943 vC. In die 11de eeu was daar in Marokko en omstreke die Almoravid-dinastie, van 1121 tot 1269 die Almohad-kalifaat en in die 13 tot 15de eeu die Banu Marin- of Marinid-dinastie; al drie hoogtepunt van Berber-mag. Kennis van die geskiedenis maak dit vir die Berbers moontlik om te weet dat die Arabiere nie-inheemse besetters in die Maghrib is. "The Berbers of Morocco and Algeria ... recently issued declarations about 'shrugging off Arab colonialism'" (De Villiers en Hirtle, p 253) en "the Berbers ... are beginning once again to stir against the 'Arab colonists'" (p 290). "Amazigh activists ... seek to 'remember, recover and reinvent' the history of a marginalized and ignored community" (1927). Hulle ervaar egter sterk teenstand van Pan-Arabiese groeperings.

Die Arabiere probeer die Berbers wysmaak dat hulle voor die koms van Islam in 'n era van onkunde verkeer het: "They lived primitively in caves until Islam showed them the light" (1839). "The Islamization of North Africa had brought the Berbers out of the 'dark ages'" (975). Daar word selfs beweer dat Mohammed (570-632) die Berbers as onbetroubaar beskou het. In Marokko voer skoolhandboeke aan dat die land se geskiedenis met die aankoms van Islam begin het. Eeue voor Europese kolonialisme is die Berbers deur die Arabiere gemarginaliseer. Baie Berbers het uit die stede en dorpe na die platteland, die berge en die woestyn uitgewyk. Om hulle te probeer assimileer, is die mite versprei dat die Berbers en hulle taal van Arabiese oorsprong is. Selfs De Villiers en Hirtle het hierdie propaganda gesluk: "It is possible they came from Yemen" (p 178). Die storie is ook versprei dat Berbers as 'n apart etniese groep die uitvindsel van blanke koloniste is; dat Berberisme nasionale eenheid in die gevaar stel. Berber-identiteit word uitgemaak as "a relic of the colonial past" (1808). Die Berber-taal is as onwaardig afgemaak omdat Arabies volgens die Islamitiese religie die taal van God is. Skool- en universiteitsonderrig was tot onlangs uitsluitlik in Arabies. Selfs Berber-name, vir bv plekke en mense, is verbied.

"The Berber Culture Movement in North Africa and the Diaspora is an amorphous, many-headed phenomenon with a clear core demand: the recognition by state authorities of the existence of the Amazigh people as a collective, and of the historical and cultural Amazighité of North Africa. The most immediate and concrete manifestations of that recognition would be to make Tamazight an official language equal to Arabic, and to begin redressing the multitude of injustices that have been inflicted on the Berbers over the last half-century" (218). Daardie halfeeu verwys na hierdie lande ná onafhanklikheid, want Algerië was in 1962 die laaste een van hulle wat onafhanklik geword het. Die Berbers word geïnspireer deur die voorbeeld van die Koerde, wat selfregering in die noorde van Irak verkry het, asook deur die strewe na (groter) onafhanklikheid in Katalonië en die Baskiese gebied in Spanje. Die opstandigheid van die Iere in Noord-Ierland word ook bewonder. Die Arabiere beskou die Berber Culture Movement egter as "a relic of colonialism" wat nie in die lands- of streeksbelang is nie (2067).

Algerië was sedert 1830 'n Franse kolonie. Diep bewus van die marginalisering van die Berbers deur die Arabiere, het die koloniale owerheid gepoog om 'n eie Berber-identiteit te vestig. Die Berbers is beskou as "potential partners in the colonial project" (785). Die Franse standpunt was "that the Berbers were higher on the pecking order of human civilization than Arabs" (850). Die Kabiele was "the most Westernized group in Algerian Muslim society" (923). Vir die koloniale owerheid het dit gegaan, soos Alexis de Tocqueville (1805-1859) dit gestel het, om die "'unveiling' of the Algerian Muslim society by the conquering 'enlightened' French civilization" (1081).

"Kabylie received a disproportionate share of French attention in the coming decades" (889). "In 1885, a chair in Berber studies was established in the Faculty of Letters of what would eventually become the University of Algiers" (898). Met onafhanklikheid in 1962 is dit afgeskaf. Sedertdien is departemente vir die studie van die Berber-taal en -kultuur aan twee nuwe Algerynse universiteite ingestel. Waarom die Berbers in die onafhanklikheidsoorlog (1954-1962) eerder kant teen die Franse en vir die Arabiere gekies het, was onder meer die Islamistiese religie en die politieke retoriek van "Afrika vir die Afrikane"; dus dat die koloniale owerheid 'n verdelende faktor in die Algerynse samelewing was. Na Algerynse onafhanklikheid is 'n Académie Berbère in 1967 tot stand gebring, maar dit het in 1976 doodgeloop. Sedert 1973 word daar voorsiening vir Berber-studies in die Universiteit Parys gemaak.

Soos hierbo genoem, is 'n groter persentasie van die bevolking in Marokko Berbers as in Algerië. "The large majority of the Moroccan population was in fact Amazigh in origin" (2697). Militante in die Berber-beweging "reject the notion that they are either an ethnic group or a minority, insisting with considerable justification that the large majority of North Africans are, in fact, of Berber origin, whether or not they acknowledge it or still speak Tamazight" (4217). Waar die Berber-beweging in Algerië in die noord-ooste gesetel is, is dit in Marokko in sowel die suide, die Souss-gebied, as die noorde, die Rif-gebied.

In Marokko is die ongeletterdsheidsgraad baie hoër as in Algerië, maar opvoedkundig word daar vinniger gevorder. Die rede hiervoor is dat arabisering stadiger geskied, want daar is heelwat simpatie vir die behoud van tweetaligheid: Arabies en Frans. Marokko was van 1912 tot 1956 'n Franse protektoraat. Die Franse onderrigmodel word met vrug nagevolg, terwyl die Arabiese model met rampspoedige gevolge in Algerië aangehang word.

Daar is ook 'n groter mate van aanvaarding deur Berbers van die sultan (as koning) se regering in Marokko as wat Berbers die Algerynse regering steun. Algerië het na onafhanklikheid naas konstitusionele regering ook tydperke van militêre bewind gehad. In Algerië moet daar veral teenstand teen Islamitiese fundamentalisme gebied word. Marokko se "political system has been pointedly described as 'a stable system of violence'" (1061). Die owerheid beywer hom op sy manier vir nasionale eenheid en politieke stabiliteit. Die regerings van Marokko en Algerië is reeds dekades lank haaks oor Wes-Sahara. Marokko wil die gebied by hom inlyf, terwyl Algerië onafhanklikheid vir hierdie gebied steun.

Toe Algerië in 1962 onafhanklik geword het, het meer as 'n miljoen blankes die land verlaat. Daar kan nie gesê word dat hulle na bv Europa "teruggekeer" het nie, want die meeste van hulle is in Algerië gebore. Die bevolking van sowel Algerië as Marokko is sedertdien volgens die Dorling Kindersley World Reference Atlas (1955) 99% Moslem/Arabier/Berber. Daar is dus hoogs effektief van die blankes en christene ontslae geraak. [Die situasie is soortgelyk aan Turkye (SêNet 18 Feb) waar die godsdiens 99% Moslem en die bevolking 80% Turks en 17% Koerdies is.]

Veral Frankryk het egter nie net 'n invloei van blankes en christene ondervind nie, maar mettertyd ook van sowat twee miljoen Moslems/Arabiere/Berbers, waarvan tot 40% Kabiele kan wees; enersyds dié wat die koloniale owerheid gesteun en weerwraak gevrees het en andersyds dié wat eerder in Europa as Afrika wil woon. Oor die groot onreg wat veral Algerynse en Franse blankes weens ontworteling aangedoen is en oor die (kulturele) probleme wat Moslems in bv Frankryk veroorsaak, word meesal polities korrek geswyg.

Oorweldigend negatiewe kritiek word oor tradisionele kolonialisme (Europese besetting van nie-Europese gebiede) uitgespreek, terwyl die weerslag van hierdie kolonialisme (die besetting van Europa deur nie-Europeërs), neo-kolonialisme genoem, gewoonlik onvermeld bly en feitlik ongesteurd voortgaan. Die teenwoordigheid van kolonialiste was dikwels tot groot voordeel van 'n land, bv wat ontwikkeling, soos infrastruktuur, betref. Die aanwesigheid van neo-kolonialiste in Europa is dikwels tot groot nadeel van daardie lande. Op die tradisionele Europese leefwyse (kultuur, taal) word inbreuk gemaak omdat die inkommers wesenlik onassimileerbaar met hulle tradisionele leefwyse voortgaan. As nie-Europeërs mag hulle egter ingevolge menseregte en politieke korrektheid nie verjaag word soos wat met die blankes in Noord-Afrika gebeur het nie. Geregtigheid neem soms eienaardige vorme aan.

Een van die faktore wat die situasie in Algerië plofbaar maak, is die feit dat binne skaars twee dekades die bevolking verdubbel het. Van die gevolge is grootskaalse werkloosheid en misdaad. Daar is die verskynsel van "'wall-leaners' (hittistes), the large number of male youth in urban areas idling away the days" (2124). [In my jeug in die goeie ou dae op die platteland het ons van (winkel)stoepsitters gepraat.] Daar was al Berber-opstande en wrede onderdrukkings deur die weermag. Dit is veral die Kabiele wat hulle vir 'n federale stelsel beywer. Deesdae is daar politieke partye in Marokko en Algerië wat hulle spesifiek vir Berber-regte beywer, maar in bv Algerië verteenwoordig hulle skaars 10% van die parlementslede. Volgens die gewysigde grondwet van 1989 bly Arabies, soos in Marokko, die enigste amptelike taal in Algerië en hernude pogings word ter arabisering van skool- en naskoolse onderwys aangewend. Tamazight word wel as 'n wettige taal erken: In Algerië "Tamazight was introduced during 1995 in a number of governates, beginning with the fourth year of elementary school" (2339). Sedert 2003 is dit ook die geval in 'n aantal skole in Marokko, maar die idee is dat daarmee die grondslag vir die aanleer van Arabies gelê moet word.

In Marokko word probeer om die Berber-taal te standaardiseer, insluitende gestandaardiseerde simbolisering met die Tifinagh-alfabet. Die probleem is dat drie verskillende alfabette dan aangeleer moet word: die neo-Tifinagh-, Arabiese en Latynse alfabet; laasgenoemde vir veral Frans. Daar is radio- en televisie-uitsending in sommige van die Berber-dialekte in sowel Marokko as Algerië. Taalvermenging (Berber met Arabies, Frans en Spaans) kom algemeen in Marokko voor. Terselfdertyd word Berber-plekname verarabiseer. Die Tifinagh-skrif word in Algerië as godslasterlik beskou. Tamazight geskryf in die Latynse alfabet is wel in Algerië toelaatbaar. Die beste Tamazight-standaardiseringswerk is deur die Kabiele gedoen.

Die algemene indruk is dat die Berber-beweging nie in enige land vinnig en op 'n werklik gekoördineerde manier vordering maak nie; sekerlik nie in die Maghrib in sy geheel nie. Die meeste etniese Berbers voel nog nie sterk oor die uitbouing van hulle kultuur nie. Maar in sowel Marokko as Algerië is daar die afgelope dekades wel vordering gemaak. Daar is deesdae sekerlik oor die algemeen groter bewustheid van die eiesoortige kultuur en taal van die Berbers naas dié van die Arabiere. By veral die Kabiele is daar uitgesproke voorkeur vir groter verwestering en selfs sekularisasie. Multikulturaliteit het dus ook in Marokko en Algerië sy opwagting gemaak. Wat in Noord-Afrika gebeur, kan aan ander gemarginaliseerde of minderheidsgroepe 'n aanduiding gee van hoe te werk gegaan moet word, of wat vermy moet word, op die pad na (groter) selfbeskikking en identiteitserkenning.

Johannes Comestor

  • 2

Kommentaar

  • Comestor, 

     
    Ek dog eers jy skryf iets oor Justin Bieber, wat my van my stoel laat val het. Ek self is nie 'n Belieber nie, maar ek sien jy maak bokspronge om die Berbers, wit en 'n verhaal vir die Afrikaner te maak. Jammer die Berber's self bly moontlik in die slag. Hulle storie sal dalk waardevol gewees het. 
     
    Wouter
  • Johannes, dit is nou verwoed interessant.  Wys net weer hoe die geskiedenis skeefgetrek kan word deur sekere gebeure meer in te kleur en ander minder of selfs te ignoreer.  Dit bevestig ook weer eens vir my hoe stuksienig die stroomafdrywers en meelopers ten opsigte van ons geskiedenis is.

    Groetnis

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top