Vir Thomas, Pieter Redelinghuys en Francois Malherbe oor kennis en kindwees

  • 5

Ek verwys na Thomas se brief van 6 deser en die kommentaar daaronder.

Thomas sê “ ... dat die Christelike geloof soos dit tradisioneel in die drie ekumeniese belydenisse verwoord is, moeilik te rym is met ons moderne kennis.” Ons ‘moderne kennis’ is piepklein, of, meer akkuraat, bloedweinig. As jy ‘n muur bou bring elke steen wat gelê word jou nader aan die voltooiing daarvan want die muur het ‘n eindige aantal stene. Met kennis is dit anders; elke ontdekking of uitvinding lê meer ontdekkingsveld braak. Elke ontdekking genereer ‘n intenser soeke na nog kennis.

Hier in die vroeë 1900’s het een of ander patent-agent sy kantoor toegemaak want hy het gereken daar is nou niks meer wat ontdek of uitgevind kan word nie. Mark Twain sê hy was op veertien in die verleentheid oor sy pa se onnoselheid en op een-en-twintig kon hy nie glo sy pa het soveel in sewe jaar geleer nie.

Die patentagent, soos ons weet, was verkeerd en Mark Twain se kennis en vermoë het bloot vermeerder en sy verwysingsveld het verbreed; gevolgtrekkings wat hy op veertien gemaak het moes hy nie eintlik peil op getrek het nie. En, natuurlik, soos Mark Twain ouer geword het, het sy kennis nog verder uitgebrei en kon sy gevolgtrekkings nog akkurater geword het.

Kennis het nie ‘n grens nie en waar ons nou is, is maar ‘n druppel in ‘n oneindige emmer. Mens kan dus nie peil trek op die teenswoordige kennis om onbewese goed af te skiet nie. Wat jy wel as waarheid kan aanvaar is die bietjie wat tot dusver bewys is in proefbuise, petribakkies, met ammeters, kernversnellers, die soort van ding. Jy kan egter nie as onwaar aanvaar dinge wat nog nie bewys is nie al sê jou intellek vir jou ook wat, selfs al is jou IK 206 of 207.

Gebrek aan bewys is geen bewys van gebrek nie. Dit sluit natuurlik dinge in soos die Yeti, vresens (vreemde wesens vanuit ander sterrestelsels), Nessie, die Vlieënde Spaghettimonster en al die ander goed wat jy mag dink jy met jou redenasievermoë bepaal het nie bestaan nie. Tensy, natuurlik, van die bogenoemde uit-die-lug gegrypte goed is om te dien as analoog ter stawing vir wat jy as 100% onwaarskynlik beskou soos ek vermoed jou Spaghettimonster wel is. Aan die ander kant, as, sê die pigmeë, al vir die afgelope 12 000 jaar glo daar is ‘n Spaghettimonster, wie is ek of jy om dit af te lag.

Vir Pieter en Francois oor “om soos ‘n kind te wees” en “kinderagtig” die volgende: Einstein het op ‘n kol gesê dat suksesvolle mense bereik wat hulle bereik het ten spyte van skoling, nie as gevolg van skoling nie. Dit is waar dat ‘n kind se verwysingsraamwerk beperk is maar juis as gevolg hiervan word hy nie deur hierdie einste raamwerk gekortwiek nie soos wel die geval met die meeste grootmense is. Kortweg, ‘n kind dink makliker ‘uit die boks uit’. So, die bedoeling met ‘om soos ‘n kind te wees’ is om te sorg dat jou verwysingsraamwerk jou nie keer om lateraal te dink nie; kinderlik ‘voortvarend’ te wees kan jy maar sê. Wat kinderagtig is, is om jou self wys te maak dat jou verwysingsraamwerk só wyd as gevolg van ‘moderne kennis’ is, dat jy gevolgtrekkings as waarheid kan verkondig.

Jan Rap

  • 5

Kommentaar

  • Jan Rap

     
    Wetenskaplike kennis berus nie net op dit wat ons kan sien en meet nie. Wetenskaplike teorieë verklaar sekere verskynsels en dit word op waargenome data gebaseer, waarna dit ons die vermoë gee om voorspellings te maak. Soos wat nuwe data versamel word versterk of vernietig dit bestaande teorieë. 
     
    Dit beteken ongelukkig nie dat enigiets moontlik is net omdat jy daaraan kan dink nie. 'n Geldige hipotese is een wat bestaande waarnemings verduidelik en wat jy dan kan toets met toekomstige data. Dis belangrik dat dit ook verkeerd bewys moet kan word - toekomstige data wat nie die hipotese ondersteun nie sal verhoed dat die hipotese 'n aanvaarde teorie word. 
     
    Ek weet nie of jy na godsdiens verwys nie maar dis tipies 'n ongeldige hipotese. Dit verklaar oënskynlik 'n klomp goed maar dit kan geen voorspellings maak nie en daar bestaan ook geen metode om dit verkeerd te bewys nie. Dis bloot blindelingse geloof. Die wetenskap en blindelingse geloof is onversoenbaar. 
     
    Thomas
  • CorneliusHenn

    Beste Jan, 'n baie wyse man het op 'n keer in Ingels geseg: "the lack of evidence is no proof" ... vir sinici maak sulke wysheid geen sin nie ... al wat die misantrope wil is ander se harte verneder ... dankie vir jou sinvolle woorde hierbo ... nederige groete, Cornelius Henn

  • Presies soos jy aandui: "Jy kan egter nie as onwaar aanvaar dinge wat nog nie bewys is nie". Dan kan jy definitief ook nie dinge as WAAR aanvaar wat nog nie bewys is nie.

     

    Ook: "Gebrek aan bewys is geen bewys van gebrek nie". Weereens reg, gebrek aan bewys is bloot gebrek aan bewys en kan daarom nie as WAAR aanvaar word nie.

     

    In wese is die bybel maar net onbewese storietjies, versamel oor paar honderd jaar deur meestal ongeletterde bestaansboere wat te veel tyd in die woestynson spandeer het.

     

    Enigste manier om so onsinnige storie soos godsdiens as WAAR te aanvaar, is om soos 'n kindertjie te luister en te aanvaar sonder bewys.

  • Thomas

    Jy sê “ ...  wetenskaplike kennis berus nie net op wat ons kan sien en meet nie.” Is jy seker?  Ek dog dan dit is juis julle ouens se argument naamlik dat slegs iets wat gemeet en bewys kan word by die poel van wetenskaplike kennis gevoeg mag word?   Tensy jy verskynsels soos, sê, magnetisme of swaartekrag  bedoel; ons kan nie magnetisme of swaartekrag sien nie maar ons sien, meet en werk wel met die manifestasies van hierdie verskynsels (ons weet nog nie eers eintlik presies wat dit is nie).  Maar ek is nie seker of dit jou bedoeling was nie.

    Jy sê " ... wetenskaplike teorieë verklaar sekere verskynsels ..."  Nie heeltemal korrek nie; wetenskaplike teorieë POOG om sekere verskynsels te verklaar en kan tydelik, en in 'n mate, werk soos byvoorbeeld die hakies (valensie) aan atoomkerne of die vaste elektronbane om kerne destyds in Chemie en Fisika.  Feit bly staan, 'n teorie is 'n teorie, nie 'n verklaring nie.

    Jou stelling dat dit ”... beteken ongelukkig nie dat enigiets moontlik is net omdat jy daaraan kan dink nie”, of dit geldig is (hierdie stelling van jou nou) of nie, vloei dus nie voort uit jou ander twee stellings hierbo nie want die een is vaag en die ander een is verkeerd.  Terloops, en interessantheidsonthalwe; ENIGIETS waaraan jy kan dink mag moontlik wees; dink maar aan die idees van destydse wetenskapfiksieskrywers.  Daar het selfs goed tot stand gekom waaraan hulle nie eers gedink het nie soos GPS op selfone byvoorbeeld (tensy dit in stories was wat ek nog nie gelees het nie). 

    Jy sê “ ... die wetenskap en blindelingse geloof is onversoenbaar.”  Verkeerd, daar is wetenskaplikes wat, desnieteenstaande ontmoediging van medewetenskaplikes (en vriende, familielede en kerke), so vas in hulle eie teorieë geglo het dat hulle net vasgebyt het, dikwels ten koste van lewensgehalte, en hulle teorie as waar bewys het.

    Skot

    Wat jy sê is reg; omdat jy nie as onwaar kan aanvaar wat nog nie bewys is nie, kan jy ook nie, ipso facto, as waar aanvaar voordat dit bewys is nie.  Dit is logika, of ‘streng gesproke’, of logiese semantiek. 

    Dit is nie waarom dit hier gaan nie.  Ek praat van ‘n heersende praktyk of kultuurding.  Jy kan byvoorbeeld nie vir die Rooihuide, of koningin Modjadji-hulle, gaan staan en sê hulle moet ophou met die reëndans nie want volgens jou is daar geen bewys dat dit werk nie.  Jy kan nie vir ‘n Pedi sê dis onsin dat ‘n kousel van koring wat drie dae aan ‘n tak langs die rivier gehang het nie sy smetterige wond gaan genees nie omdat dit vir jou absurd klink, of daar volgens jou geen bewys is nie.

    So ons is terug waar ons begin het:  Ek sê gebrek aan bewyse vir die bestaan van, sê ‘n yljinbasis op die donkerkant van die maan, het niks met so’n maanbasis te doen nie; hy kan bestaan of nie bestaan nie (laat mens dink aan Schrodinger se kat).  Jy aanvaar, uit geloof kan mens maar sê, dat daar nie so’n basis is nie omdat daar nie ‘n bewys is daarvoor nie.  Absurd.

    Jou verklaring dat godsdiens onsinnig is, is dus ongegrond.  Jy kan wel sê dis volgens jóú onsinnig, maar dis bloot ‘n persoonlike mening.

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top