Piet en sy houvrou

  • 1

Boswerker. Glimlag en het net hier en daar 'n vaal-geel tand, maar die glimlag is innie oë ook. Want as Piet lag dan lag sy hele liggaam saam. Ken 'n kettingsaag soos wat die deursnee vrou haar handsak ken. Kan na die eerste choke vir jou beduie om maar af te sit die ding ganie start nie. En dan woeker hy innie carb en dan draai hy 'n skroefie bietjie links en die skroefie langsaan bietjie regs en dan loop die Stihl soos 'n regte egte horlosie.

Alaml ken vir Piet as iemand wat nie baie geduld het nie, ten spyte van sy lag. Daarvan kan Sannie, sy vrou van baie jare getuig want sy loop soos die jare aanstap altoos al manker en dissie vannie ouderdom se kwale nie. Piet het 'n harde hand. Daarom sien jy nooit meer vir Sannie nie want om van doer onner by die rivier al die pad boontoe te stap is nie meer moontlik nie. Een keer per maand met Allpay dan span Piet die os in en Sannie word haar lê gemaak op die geprakseerde slee en die spul is boontoe van onner af.

Ek het al baie die plek beskou en die rande het in die kop gemaal want selfs in die nuwe Oesterland met al die massas wat inkom is hierdie plek so ver weggesteek dat die groot stad se mense letterlik hul voortanne sal gee hiervoor: Knus huisie langs een van die laaste skoon riviere, tussen die berge van Oesterland weggesteek. Eens die blyplek van 'n vername familie tot die pad boontoe net te lank geraak het en die bulldozers te duur om 'n begaanbare pad boontoe te stoot. En Piet en familie lewensreg gekry het. Soos die klogoete groter geword het, het hulle mos maar uitgewyk en hulle is nou versprei oor die aarde en ek hoor een van hulle is selfs iewers innie weermag doenig. Hoog geleer. Maar hy kom al jare nie meer daar nie. Dalk omdat dit net te onbegaanbaar is?

Piet kweek groente, plant aartappels en saag hout. As ek dit nie met my eie oë gesien het nie sou ek gesê het ek lieg: Piet beduie vir jou om 'n merk oppie grond te maak waar jy wil hê die boom moet val. Dan beduie hy vir jou dat jy moet wyd staan. En op die merk oppie grond lê daardie boom. So goed ken hy 'n boom en 'n saag. En sy ambag. Die grond doer onder innie rivier is so vrugbaar dat jy 'n dooie stok innie grond kan druk en dit sal groei. Daarom dalk dat vrouens nie op die welige gras wat daar groei mag lê en slaap nie? Ek wetie....

Sannie moes egter, omdat Piet nie so 'n geduldige man issie en Sannie dit gedurig moes ontgeld en nou mank aansukkel iemand inkry om huis te hou en te kook en hier en daar hand by te sit. Want as Piet beduie hy wil eet moet die kos reg wees anders, wel, Sannie lopie verniet mank nie, nè? So word Annie (logies word die regte name weerhou) gevra en sy het beduie dat sy sal omsien na die oom en tante se huishouding.

Ek loop laai annerdag hout daar by Piet en ek sien Annie issie te gehoorsaam nie. Sy sê wel nog Oom maar sy doen dit nie so onderdanig soos 'n huishoudster gewoonweg doen nie. Lag by myself dat die nuwe besem nie meer net besem wil wesie. Ek vra hoekom ek so lank moes roep na hulle want hier in die klowe staan die son stil en niemand wil hier innie klowe alleen gevang word met die son nie want hy gaan jou vrek brand en eks haastig ek het moer baie werk om te doen hulle moet klaar maak. Hulle beduie hulle is besig gewees en ek sien aan die trek van hul klerasie dat hulle nie takke uitgesleep hettie.

Ek vra vir Annie hoe dit met Sannie gaan en sy sê nee, die antie sit innie kombuis, sy’t groot genoeg vuur gemaak sommer vir die hele dag en 'n vol ketel koffie binne bereik as sy sou dors word. Sy vat die handbyltjie en sy beduie dat daar nog baie stompe is wat moet stukkend kom as ek more weer wil kom laai. Piet kyk haar agterna en ek sien Piet kyk met anner oë na haar.

Later, toe die bloues oorhandig is en die mooi woorde gepraat is vra ek vir Piet of Annie darem die moeite werd is wat betref die huishouding en of sy darem goed kyk na Sannie want Sannie is tog kranklik en die ou rousteenhuis issie meer wat dit was sestig jaar terug nie.

"Jirre, Oester, daai vrou doen haar deel. Sedert Seuntjie weg is doen sy mos maar wat hy gedoen het. Sy dra 'n hele stomp van daar onner af en dan is sy nie eens uitasem nie. Ek moes haar jare terug gehad het dan was ek nou baie verder." Sy kyk hom met 'n uitdrukking aan wat ek nie hier kan herhaal nie.

Ek kyk na die bospaadjie en die klowe wat die boomstompe (en dit is nie stompies nie) uitgedra moet word en ek het baie respek vir Annie, ongeag wat sy met Piet doen wat Sannie of Annie se man nie van weet nie.

oester

  • 1

Kommentaar

  • George Bekker

    Oester, jy begin met Piet se opregte glimlag, gevolg deur pragtige idiomaties uitdrukkings en aan die einde my (die leser) se ironiese glimlag – dankie, het dit geniet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top