My antie Nel

  • 2

Die internet is werklik 'n wonderbaarlike ding. Destyds was dit gebruik om, as die tyd reg was, of soms, sommer lukraak die ou foto-albums uit die kaste te haal. Vergeelde gom wat nie meer die prentjies wou vashou nie en met verskonings is die foto’s teruggedruk iewers waar hulle moes wees. Soms, toe die tegnologie die ruimte-eeu begin betree het was dit skyfies en ek onthou hoe ons gaap-oog en half aan die slaap die vakansieskyfies deurgekyk het. Nou egter kan mens die goed sommer binne millisekondes oplaai en die ou goed kyk.

Ons het elkeen mos 'n tante. Ek het 'n hele spul want my voorsate het duidelik nie baie radio geluister nie en TV's was toe mos nog iets in die verre toekoms in. Baie van ons kan onthou van daai tante met die snor wat jou so oopbek nat gesoenlek het. Jou hele gesig vol.

My eerste herinnering aan my tant Nel is baie vaag want dit was 'n tragiese besigheid. Ek onthou bitter min daarvan maar ek onthou die hospitaalbeddens in Springs en lat ons later langs twee oop grafte moes staan. Ek weet nie en sal hopelik nooit weet hoe dit moet voel om op een dag twee van jou kinders te begrawe nie. Sy moes.

Ek onthou hoe ons as arm wittes hierdie land ingekom het. Letterlik met die klere aan ons lywe en 'n afgeleefde ou Hilux bakkie. En sy haar huis oopgemaak het, sonder om selfs 'n oomblik te knik of te wonder daaroor. Dit terwyl hulle dit regtig nie breed gehad het nie (om dit sagkens te stel). Ek onthou hoe sy soggens ure voor die son opgekom het reeds klaar kos reg gehad het. Want daar’s baie monde wat opkyk. Ek onthou hoe sy hard en duidelik die reëls van die huis vasgestel het en dat daar geen buig was nie. Want as jy sou durf het jy gebars. As etenstyd seweuur was dan is daar presies om sewe geëet, nie 'n sekonde later nie. As daardie klokkie op die sideboard gelui het, het hy net een keer gelui. Die kos wat vir jou opgeskep is moes jy eet en daar was nie enige argumente daaroor nie.

Ek onthou ook die: "Kom hier dat ek jou kan druk" en hoe sy jou in daardie sagte arms omvou het. En nee, sy het nooit geruik na oumens nie en haar ken was sag ... Sy het stiptelik elke datum en uur onthou en kon vir jou vertel van toe sy op die fiets moes skooltoe en sy het met trots die familie naam verkondig so wyd as die Here se genade.

Ek kry nou die dag 'n foto van antie Nel en ek vra wie dit is. "Dis my moedertjie ..."

"Sy lyk goed."

En toe besef ek dat tyd nie iets is wat geduldig is nie en tyd is nie genadig nie. Ek gryp na die ou gedagtes en die sagte arms want dis al wat ek oor het. Ek wonder oor hierdie ding van leer liefkry en leer respekte en leer van mooi en dit hoe dinge moet wees en dit suig dat die tyd ons nooit maar nooit genadig is nie.

Ek praat vanmiddag met hierdie tante van my wat so 'n ongelooflike uitwerking op my menswees gehad het en ek wil nie ophou praat nie want te veel tyd het verbygegaan tussen toe en nou en dit voel soos gister se gedagte. Ons grawe diep in die gisters se prente en dit maak dat jy wens jy kon weer daar wees, al was dit net om daardie sagte arms om jou kinderlyf te voel. Want toe was dinge nog maklik en dinge was goed en dinge was nie deurmekaar nie en hulle het vir ons besluit en hulle het reg besluit. En dit kom ons eers baie, baie jare na die tyd agter.

oester

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top