Het Michelangelo 100% vir kuns gekry?

  • 4

Sit ek mos toe by die prysuitdeling by die skool. My eie skoolloopbaan, en hoe sal ek dit nou stel, was nie iets waartydens ek myself juis onderskei het nie. Dus is ek niemand se kenner van die pedagogiek nie. Tog het ek ernstige bedenkinge oor die huidige stelsel van onderwys, en veral oor hoe objektief die toekenning van punte is.

Een dogtertjie wen, byvoorbeeld, die trofee vir die beste prestasie in die vak Kuns. Sy het na bewering 100% behaal. 100%? Regtig? Was al haar werkstukke dus volmaak? Sou Michelangelo of Leonardo vir ál hulle beelde en skilderye volpunte verdien het? Ek is jammer, maar selfs nie eens ‘n jong Michelangelo se kuns was heeltyd volmaak nie, en mens kan selfs die Sistynse kapel se plafon kritiseer.

Die geneuk, glo ek, is die indrukspunte wat deesdae iets soos 80% van die finale rapportpunt uitmaak. Goed, Kuns is per definisie ‘n vak waar die indrukke van die onderwysers die meeste tel, maar ander vakke ly ook aan hierdie sindroom; ook vakke wat na bewering wetenskaplik moet wees. Jou kind kan dus byvoorbeeld maklik in ‘n iedere en ‘n elke toets vir, sê maar, Natuurwetenskap bo 80% kry, asook in die eksamen, maar dan kry hy minder as 80% op sy rapport, want sy indrukspunte tydens die kwartaal was nie juis waffers nie. Jy het boonop nie geld geskenk vir die hoof se nuwe motor nie en was nie sigbaar genoeg by die kermis nie. Oeps, mag ek dit sê?

Hoe dit ook al sy, wanneer 'n kind bo 80% in beide sy toetse en in die eksamen vir 'n vak kan behaal, maar dan, sê maar, slegs in die 60's op sy rapport, en wanneer 'n kind 100% vir Kuns kan behaal, begin ek te wonder oor hoe objektief hierdie stelsel is.

‘n Ander ding wat opgeval het was die volume van die pryse. Ek is nooit destyds na die prysuitdelings genooi nie, maar ek was gelukkig nie die enigste een nie. Die groot meerderheid van my klasmaats het ook maar tuisgebly op daardie geleenthede, want dit was slegs die waarlik slim kinders wat die pryse loop haal het. Die prysuitdeling waartydens ek my sitvlak deurgesit het, was egter ‘n ellelange affêre, want bykans al die kinders het pryse gewen, selfs die skolierpatrollie se kinders. Dis ‘n Amerikaanse ding hierdie, lyk dit my, wat kinders meen te vertel dat almal wenners en toppresteerders is.

Nee, toe nie, hoor. Slegs een uit elke honderd eerstespan-rugbyspelers op skool sal ooit vir die WP speel. Is hierdie oordadige opbouery van die kinders se selfbeeld en die geweldige “prestasies” nie juis besig om hulle ‘n onreg aan te doen nie?

Wat ek kan onthou van varsity, so tussen die gejool en gesokkie deur, is dat die stelsel van assessering genadeloos was. Die dosent het soms ons gesigte geken (OK, die ander studente s’n, want ek was maar min in die klas), maar selde ons name. Daar was twee semestertoetse, ‘n prakties en ‘n tut hier en daar wat 50% van jou semesterpunt getel het. Die eksamen was die ander 50%. Daar was bitter min sprake van ‘n indrukspunt.

Selfs in my dae was die uitsakkoers bitter hoog, maar vandag kla universiteite meer as ooit tevore oor hoe onvoorbereid die eerstejaars is. Selfs diegene met 7 of 8 onderskeidings in matriek, sak dikwels uit. Is dit nie juis agv hierdie vreeslike opbouery van hulle selfbeeld dmv onwetenskaplike indrukspunte en die politieke korrektheid dat almal ‘n wenner is nie?

Dit lyk vir my hierdie onwetenskaplike indrukspunte en ongeregverdigde ge-"boost" van skoolkinders se selfbeeld skep studente wat totaal onvoorbereid is vir die ongenaakbaarheid van semestertoetse en eksamens op varsity. En miskien selfs ook vir die lewe se stampe en stote.

JP

  • 4

Kommentaar

  • Jy slaan die spyker op die kop (behalwe die storie ten opsigte van die hoof se kar; baie onnies hou nie juis baie van die hoof nie en sal nie 'n slegte indrukpunt gee as die spesifieke kind se ouer nie bygedra het tot die hoof se nuwe kar nie, inteendeel.  Maar, sou ouers bydra vir die hoof of enige onderwyser of onderwyseres se kar is dit in die haak; dis geld goed spandeer, beter as om dit byvoorbeeld aan die sending of vir een of ander van die legio organisasies wat aanspraak maak dat hulle met die teenswoordig hoog-in-die-mode 'opheffing' besig is, te skenk).
    Jan Rap

  • Alles heeltemal geldige punte, Joe. Ons sleep leerlinge aan hul ore deur matriek, en sodra hulle op universiteit kom, waar niemand meer sleep nie, gaan die helfte van hulle ten gronde. 

     
    Nou ja, wat kan mens doen? Die gemors in nasionale opvoeding is so groot ek weet nie waar om eers te begin opruim nie, en beny nie die verantwoordelike ministers hulle werk nie. 
     
    Ek het egter lankal opgemerk dat ons groot probleem is met ouers eerder as met skole. Ek sou aanbeveel dat ons daar begin, en ophou kla oor die departement van onderwys, want dit sal waarskynlik nie veel help nie. Daar is in der waarheid eintlik nie veel wat skole KAN doen aan die hele probleem nie, in elk geval nie voor ons die probleem met swak ouers opgelos het nie. 
  • Beste Joe,

    Verwar jy nie nou die skoolhoof met die dominee nie? Dis mos die kerkraad wat die vrouens laat pannekoek bak as Dominee verlede jaar se Merc ry.
    Groete,
    Angus
  • Joe,

     Ek't gehoor  van 'n ou wat moontlike vigs-infeksies wegstort en vir hierdie soort van insig, ere-doktorate ontvang.

     Ons kan mos nie minderwaardigheidskomplekse op skool kweek nie, of hoe ?

     Raed-na-Gael 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top