"Brief aan jou verlore liefde"-kompetisie: Trix

  • 0

My liefste,

Wanneer ek aan jou dink, voel ek steeds jou vel teen my wang waar ek met my kop in die holte van jou nek lê.  Dis sag soos goedgebruikte seemsleer.  Nes die ewe sagte vel oor die ronding van jou oë wanneer ek dit soen.  Ek adem jou in en die bekendheid laat my veilig en tevrede.  Want ek ken jou.

Ek voel weer hoe jy my gesig sag omraam met jou hande en ek voel die deernis en onthou hoe jy jou eerste kleinkind koester.

Kom ons gaan stap, het jy gesê.

By die strand, haak ek by jou in. Dit laat my glimlag wanneer jy jou armspier onopsigtelik bult.   Ek vind dit vertederend dat jy my steeds na al die jare wil beïndruk.

Met ons tone in die sand gevroetel, sit ons elk met eie gedagtes en luister na die seemeeue.  Woorde oorbodig.  Mens kommunikeer later so.

Wanneer ek van agter oor jou buk waar jy sit, ruik ek die sonwarm hitte van jou vel.  Net daar waar die haartjies skraal geword het op jou agterkop.   Die haartjies wat aan my neus kriewel fyn en geurig.

Die oomblik versplinter toe jy opspring en water toe draf.  Met deernis merk ek dat die eens sterk en fier liggaam besig is om te vervloei in die pretensielose tuiskoms in jou eie vel.

Lui leuen ek terug op die strand, gesus deur ‘n gevoel van genoegdoening.  Maar dit voel soos sekondes voor my oë weer oopvlieg.

En my bed is nat van verlange en pyn.

Ewig jou geliefde.

 

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top