Breking en die ekonomie: gaan die land 'n wins kan maak?

  • 2

Bron: http://www.incompass.co.za

Die beplande breking in Suid-Afrika is ’n grootskaalse, komplekse ingryping wat onder sekere aannames ekonomiese voordele mag inhou, maar ook aan groot onsekerheid en langdurige risiko’s onderhewig is. Die besluitnemingsproses vir so ’n tipe vraagstuk verg nie net beter inligting en ’n fokus op die vermindering van onsekerheid en risiko’s nie, maar ’n groeiende vertroue tussen alle belanghebbendes om tot volhoubare oplossings te kom.

Polarisering

Tans is die debat oor breking in Suid-Afrika sterk gepolariseer. Voorstanders van breking in die Suid-Afrikaanse konteks wys op die groot potensiaal vir inkomste, werkskepping en belastinginkomste vir die regering. Oor die algemeen word geargumenteer dat besoedelingsrisiko’s minimaal is en dat afvalwater herwin kan word vir hergebruik. Grondwaterbesoedeling sou die gevolg van swak konstruksie wees en kan met die nodige ingenieursvernuf en kontroles vermy word. Die regering voer verder aan dat die natuurlike gas ’n veel laer koolstofspoor laat as ander konvensionele energiebronne, en dat natuurlike gas ’n belangrike rol sal kan speel in die hantering van die elektrisiteitskrisis.

Fotobron: www.kevinpollard.com/blog/

Teenstanders van breking wys daarop dat die ekonomiese aannames wat gebruik word, veels te rooskleurig is, dat breking groot hoeveelhede skaars water sal gebruik, dat ’n groot deel van die chemikalieë wat in die proses gebruik word, in die omgewing sal agterbly, dat daar beduidende gesondheidsrisiko’s is en dat die regering geen genoegsame regulerende vermoë het om oortreders vas te vat nie.

Besluitneming

Sulke gepolariseerde menings kan gou verval in ’n selektiewe bevestiging van inligting wat net een kant van die saak belig. ’n Meer wetenskaplik verantwoordelike alternatief is om te bly investeer in ’n proses wat wetenskaplike monitering en versameling van data, ’n geïntegreerde modelleringskapasiteit en ’n deursigtige interaksie met belanghebbendes insluit. Die vertroue wat deur so ’n deursigtige proses gewen word, is van onskatbare waarde wanneer daar onderhandel moet word oor eventuele aanspreeklikheid ten opsigte van omgewingsrisiko’s en -kostes en die verdeling van die ekonomiese welvaart wat deur skaliegas-ontginning gewen sou kon word.

Die Karoolandskap (bron: http://www.treasurethekaroo.co.za/)

Prospektering

Op kort termyn is die Suid-Afrikaanse regering van voorneme om voort te gaan met prospektering (verkennende boorwerk) in die Karoo. Prospektering geskied per definisie op klein skaal en die risiko’s is dus meer beperk. In die huidige sterk gepolariseerde omgewing word hierdie stap al gou gesien as die eerste tree na volskaalse ontginning. Prospektering is egter ’n belangrike stap in die leerproses en is nodig om spesifieke inligting te versamel wat tot beter besluitneming kan bydra. In hierdie fase is dit van wesenlike belang dat onafhanklike multidissiplinêre wetenskaplike monitering van alle moontlike gesondheids-, sosiale, ekonomiese en omgewingsimpakte plaasvind. Prospektering kan egter nie net op ekonomiese haalbaarheid gefokus wees nie. Dit is ’n geleentheid vir wetenskaplike monitering wat goed benut moet word.

Modellering

Die resultate van prospektering is noodsaaklik, maar nie genoegsaam vir goeie besluitneming oor grootskaalse breking nie. Die beperkte skaal waarop prospektering plaasvind, bring beperkings op die tipe data wat versamel kan word en die afleidings wat gemaak kan word vir grootskaalse breking. Soos wat die skaal van breking vergroot, neem die onsekerheid en risiko ook toe. Nie net die spesifieke inligting van prospektering op eie bodem nie, maar ook algemene inligting van brekingsaktiwiteite regoor die wêreld kan met vrug gebruik word om ’n groter geheelbeeld op te bou. ’n Veel gehoorde kritiek is dat die teoretiese ekonomiese modelle wat wêreldwyd gebruik word om die lewensvatbaarheid van skaliegas te projekteer voordat bedrywighede begin, ontoereikend is – inkomste, werkskepping en belastinginkomste word oor die algemeen oorskat. Die Suid-Afrikaanse ekonomiese model wat gebruik word, is hierby geen uitsondering nie. ’n Enorme blinde kol in sulke ekonomiese modelle is dat die sosiale en omgewingskostes wat met breking gepaard kan gaan, nie getel word nie, en dat veranderings oor tyd nie ingesluit word nie.

Bron: http://podacademy.org/podcasts/the-fracking-debate/

Plaaslike veranderings

’n Kenmerk van die natuurlikehulpbronsektor wêreldwyd is die groot veranderlikheid in kostes en winsgewendheid oor tyd. Een voorbeeld van groot veranderings in die internasionale skaliegasbedryf oor die afgelope paar jaar is die pryse wat behaal word. In 2008 was die gemiddelde boorgatkopprys in die VSA ongeveer $8/mcf1, maar in 2012 was dit nader aan $2,50/mcf. ’n Ander aspek is die groot variasie in die koste van ontwikkeling, wat sterk bepaal word deur plaaslike faktore soos geologiese kompleksiteit, die beskikbaarheid van infrastruktuur en dienste, die houding van geaffekteerde gemeenskappe, asook die beskikbaarheid en koste van water. In die VSA is daar tans heelwat studie en besinning oor die vinnige uitputting van brekingsaanlegte en die kapitaalkostes wat benodig word om deurentyd nuwe en minder produktiewe boorgate oop te maak. Daar is ’n sterk aansporing in die bedryf om minder-winsgewende aanlegte te verkoop sodra winste begin daal en ook wanneer omgewingsaanspreeklikheid begin toeneem. Plaaslike veranderings bly dus ’n groot drywer van inkomste, kostes en risiko’s wat met die ontginning van skaliegas oor tyd gepaard gaan.

Kollektiewe leerproses

Die inherente onsekerheid en risiko’s wat gepaard gaan met die voorgestelde grootskaalse breking in die Karoo vereis ’n kollektiewe leerproses wat oop staan vir, onder andere:

  • die waarde van prospektering vir die versameling van konkrete wetenskaplike data
  • die sosiale en omgewingskostes wat ingesluit moet word in ekonomiese modellering
  • die waarde van ’n multidissiplinêre wetenskaplike benadering wat ruimskoots gebruik maak van ondersoekskapasiteit op die terreine van ekonomie, sosiologie, geologie, hidrologie, energie, ingenieurswese en omgewingstudies
  • die lesse wat wêreldwyd geleer word
  • ’n oog vir die veranderlikheid in die skaliegasbedryf.

Vertroue

’n Deursigtige kollektiewe leerproses kan help om die huidige negatiewe spiraal van polarisering te stuit. Maar dit vereis dat daar ’n verbintenis is deur die regering, maar ook deur die sakesektor en ander rolspelers, tot die gemeenskaplike welsyn van alle Suid-Afrikaners. ’n Ekonomie gaan ten diepste oor vertroue. ’n Wesenlike vooruitgang in die bespreking van vrae hoe die voordele en kostes van breking effektief, regverdig en volhoubaar verdeel word, kan net in die konteks van wedersydse vertroue plaasvind.

1 mcf = eenduisend kubieke voet


Hier is 'n ander video wat ook handel oor die voor- en nadele van breking:

 

  • 2

Kommentaar

  • Die hoof geldmaakfaset van hidrobreking is inderdaad van etaangas en gepaardgaande verbindings afkomstig. Dit is onmoontlik om te kompeteer met steenkool sonder verregaande subsidies en hewige belasting.

    My vraag is: indien ons Bundu, Falcon (kom ons sê eerder Chevron), en Shell (wat het van Sungu ens gebeur?) toelaat om data in te vorder oor die toestand van gasdraende gebiede, en hulle verkoop hierdie inligting aan die hoogste bieër, op watter stadium dra hierdie proses by tot plaaslike ekonomie of beleggers? Ek bedoel nou nie die regering se gratis abba-koste, of Chancellor House nie.

    Hoekom kan die regering nie bloot vir PetroSA geld gee om rondom sy betreede gebiede ondersoek in te stel nie? Ek werk enige dag eerder vir BASF of DuPont as vir Eskom.

  • Gideon von Wielligh

    Aardbevingen door gaswinning in Groningen

    Gaswinning veroorzaakte in 2012 een aardbeving in Loppersum van 3,6 op de schaal van Richter. Dat was de reden voor het kabinet om de gevolgen van de aardbevingen te onderzoeken (...).De Nederlandse Aardolie Maatschappij (NAM) wint aardgas, onder andere uit het Groningerveld. Dit is het grootste gasveld in Nederland met 20 plekken waar de NAM aardgas uit de grond haalt.De gaswinning veroorzaakt tegenwoordig zo’n 50 aardbevingen per jaar. Tot 1986 kwamen er in Noord-Nederland geen aardbevingen voor. De eerste aardbeving was in Assen op 26 december 1986. Daarna registreerde het KNMI meer dan 1000 aardbevingen in dit gebied.Op 16 augustus 2012 was er in Loppersum een aardbeving van 3,6 op de schaal van Richter. Deze duurde langer en was sterker dan voorgaande bevingen. Onderzoek laat zien dat in de toekomst sterkere aardbevingen mogelijk zijn. Bijvoorbeeld met een kracht tussen 4 en 5 op de schaal van Richter (...) De aardbeving in Loppersum was voor de Rijksoverheid reden onderzoek te laten doen naar de bevingen in Groningen. Zo wilde het Rijk weten of de gaswinning sterkere aardbevingen veroorzaakt. En wat de effecten van de gaswinning zijn op gebouwen, huizen, buisleidingen, dijken en hoogspanningskabels.Het gaat om 14 onderzoeken. Op 17 januari 2014 zijn de uitkomsten van alle onderzoeken bekendgemaakt. Naar aanleiding hiervan heeft de Rijksoverheid een besluit genomen over gaswinning in het Groningerveld. In december 2014 heeft de Rijksoverheid het winningsplan definitief gemaakt (...) De zelfstandige uitvoeringsorganisatie Centrum Veilig Wonen (CVW) heeft sinds 5 januari 2015 een aantal taken overgenomen van de NAM. 150 mensen dragen bij aan het versneld afhandelen van kleine schades door aardbevingen. Meer complexe schade of specifieke doelgroepen krijgen een eigen contactpersoon. Ook houdt het centrum zich bezig met de bouwkundig versterking en de verduurzaming van woningen in het aardbevingsgebied in Noordoost-Groningen.Mensen kunnen sinds 5 januari 2015 terecht bij het Centrum voor Veilig Wonen met vragen over:afhandeling van aardbevingsschades;versterking en verduurzaming van woningen en gebouwen.

     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top