Martin de Wit

My naam is Martinus Petrus (Martin) de Wit. Ek is op 25 Februarie 1972 in Pretoria gebore. Ek is die oudste seun van Tjeerd en Goverdina Adriana (Diny) de Wit, wat albei in 1970 uit Nederland geëmigreer het, en ek het vier sibbe: Rynald, Marieke, Erik-Jan en Hans. My studie in ekonomie het in 1990 aan die Universiteit van Pretoria begin. Opgewonde oor die vooruitsig om nader te wees aan my geliefde Rianne, deesdae my vrou, het ek in 1993 na Kaapstad verhuis om ’n honneursgraad in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch te verwerf. Dit is gevolg deur ’n magistergraad in Nederland (1995) en ’n doktoraat in Pretoria (2001). Albei grade het gehandel oor die ekonomiese benadering tot omgewingsbeleid, wat in daardie stadium algemeen aanvaar is as ’n alternatief vir staatsaangevoorde beheerstrategieë om die ekologiese probleem te hanteer. My werkservaring sedertdien was ryk en bevredigend – van die studie van hoogs abstrakte ekonomiese ontleding en modelle tot veldwerk saam met ekoloë en sosiaalwetenskaplikes in enigiets van moerasse en berge tot die stede en landelike gebiede van ons wonderskone land en verder. Ek het vir twee jaar by die Suid-Afrikaanse Reserwebank gewerk, vir sewe by die WNNR, en vir agt op my eie as ’n omgewingsekonoom. Ek dien steeds in die direksie van ASSET Research, ’n nieregeringsorganisasie wat hom beywer vir studenteontwikkeling op ekonomiese, ekologiese en ontwikkelingsgebied. Mettertyd het Mariska, Tiaan en Julia ons gesin voltallig kom maak. Teen die einde van 2013 is ons weens ’n sameloop van persoonlike uitdagings en ontluikende geleenthede, sowel as die finansiële en ekologiese krisis, na Vancouver, Kanada, vir ’n tydperk van studie, besinning en avontuur. Ek was in April 2016 geseënd genoeg om ’n MA-graad in teologiese studie aan Regent College, ’n sustersinstelling van die Universiteit van Brits-Columbië, te voltooi. Kort daarna het ek ’n professorskap in omgewingsregeerkunde aan die Universiteit Stellenbosch aanvaar. Sedert 2017 is my betrokkenheid by A Rocha sowel as Footsteps to Good Hope, albei omgewingsbewaringsprojekte, ’n besondere bron van inspirasie oor wat ons persoonlik in die aangesig van oënskynlik onoorkomelike ekologiese probleme kan doen.

Environmental governance, the human being and the social order: a reinterpretation

Martin de Wit Academic research 2019-01-15

"The objective of this article is to reinterpret the increasingly dominant economic approach to environmental governance. This objective will be achieved by focusing on three interrelated factors, namely the importance of the human person in environmental governance, the images of social and moral order, and the implications for human behaviour and decision-making."

Omgewingsregeerkunde, die menslike persoon en die sosiale orde: ’n hervertolking

Martin de Wit LitNet Akademies (Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) 2019-01-15

"Sonder ’n staat wat sterk genoeg is om openbare goedere te voorsien, misluk die geliberaliseerde moderne markorde in vele opsigte om die wêreld se grootste ekologiese en sosiale probleme die hoof te bied. Die populistiese reaksie is ’n gevaarlike pad wat na ander vorme van totalitarisme lei."

Breking en die ekonomie: gaan die land 'n wins kan maak?

Martin de Wit 2015-02-13 "Een voorbeeld van groot veranderings in die internasionale skaliegasbedryf oor die afgelope paar jaar is die pryse wat behaal word. In 2008 was die gemiddelde boorgatkopprys in die VSA ongeveer $8/mcf, maar in 2012 was dit nader aan $2,50/mcf."
Top