Bok van Blerk en die bagasie van veertig jaar

  • 0

Koos Kombuis in gesprek met die nuwe musiekheld van jong Suid-Afrika

’n Paar weke gelede hoor en sien ek die eerste keer Bok van Blerk se liedjie “De la Rey” op die MK89-kanaal.

My eerste ervaring van die liedjie is uiters teenstrydig. Eerstens besef ek dat dit een van die beste liedjies is wat ek nog ooit in Afrikaans gehoor het. Tweedens besef ek dat ek myself nie polities met die liedjie kan vereenselwig nie. Dit lyk, met eerste oogopslag, asof die lirieke en ook die beeldmateriaal ’n oproep tot oorlog is. ’n Musikale soort laertrek. Die Afrikaners teen die res.

My gemengde gevoelens oor Bok van Blerk skep ’n haas onuithoudbare spanning binne-in my, want aan die een kant is ek in staat daartoe om ’n goeie song te herken as ek dit hoor, maar aan die ander kant is ek die ou wat redelik onlangs uit Afrikanerdom bedank het in ’n omstrede rubriek in Rapport gedateer 15 Januarie 2006:

Ek wil net so ontsettend graag ontslae raak van al die onnodige sielkundige bagasie van “Afrikaner”-wees. Die bagasie wat aan my opgedwing is deur mense wat nou al oor die veertig jaar vir my probeer voorskryf wie en wat ’n "Afrikaner" is. Waarin ’n "Afrikaner" veronderstel is om te glo. Vir wie hy moet stem, watse kak klere hy behoort aan te trek en hoe hy sy openbare vakansiedae moet deurbring …

Ek vra my gedurig die volgende vraag af: Waarom, as my bedanking uit Afrikanerdom vir my so ’n heerlik bevrydende stap was, voel ek so onverklaarbaar diep geraak deur die “De la Rey”-liedjie? Dit is embarrassing! Met my verstand weet ek dat ek nooit sal kan terugkeer na ’n definisie van myself as lid van so ’n eng etniese beskouing nie. Maar wanneer ek die liedjie “De la Rey” hoor, sing my hart ’n ander storie … "De la Rey, De la Rey, sal jy die boere kom lei De la Rey. De la Rey, Generaal, Generaal, soos een man sal ons om jou val, generaal De la Rey …"

Ja, wanneer ek die liedjie “De la Rey” hoor, wil ek teruggaan Sondagskool toe, wil ek weer die Kinderbybel lees, wil ek sommer vandag weer by die army aansluit en die kakies en al die ander k-goeters sommer in hulle moere gaan skiet.

Hoekom? Watter meestersimbool is hier aan die werk? Wat gaan aan met hierdie liedjie, en hoekom doen hy sulke vreeslike soetsappige, simpel dinge met ons onderbewussyn? Dis tog immers die jaar 2006. Die lewe is nie meer so eenvoudig nie. Ek is, soos al my regdenkende vriende, ’n humanis. Die wenslikheid van die humanistiese idees, soos byvoorbeeld die skeiding tussen kerk en staat, is “self-evident truths” (vir die meeste mense, altans, indien nie vir George W Bush en Osama bin Laden nie). En selfs as die ANC my die bliksem in maak – soos wat hulle die meeste van die tyd doen – het dit, tot nou toe, nie eens een keer by my opgekom om die wapens teen hulle op te neem nie. Veral nie as Boer nie. My oorlog is met woorde. Die hopelik intelligent-beskaafde woorde van ’n stadsmens, ’n Suid-Afrikaner in die breedste sin van die woord. Ek is lankal nie meer ’n “Boer” nie. Ek blog al ’n jaar lank op Mweb, demmit.

In die dae en weke na hierdie raaiselagtige innerlike konflik probeer ek vergeet van die angs wat Bok van Blerk in my wakker gemaak het. Maar dis nogal moeilik, want – soos ek verwag het – word sy liedjie skielik oornag bekend. Daar is ’n debat daaroor in die koerante. Ek kom agter, in my omswerwinge deur die platteland, hoe huge hierdie song skielik is. Van Malmesbury tot in Mpumalanga hou Afrikaanse gesinne “Bok van Blerk-paarties”; aande waartydens daar gebraai word, bier gedrink word, en die liedjie “De la Rey” op repeat gespeel word, oor en oor, uur na uur na besope uur.

Bok van Blerk is skielik nie meer net ’n nuwe musikant nie. Hy is ’n fenomeen. Hy staan vir ’n “Idee”.

Hy moet gekeer word, besef ek.

En ek sê toe ook so, in een van my Rapport-rubrieke.

Tot my opperste verbasing kry ek kort daarna ’n e-pos van Bok self. Hy wil met my praat. Hy wil raad hê … “oor die land, oor musiek, oor alles”.

Aanvanklik vermoed ek ’n triek van Jeremy Mansfield. Hulle gaan my ontvoer in ’n Casspir en Waterberg toe ry. Dan gaan hulle my teer en veer. Of hulle gaan my aflaai in die middel van Soweto en sê: “Kom ons kyk hoe liberal is jy nou!”

Teen my eie beterwete stem ek in tot ’n gesprek. Op ’n neutrale plek. Ek kies die restaurant langs die Centurion-teater, want die volgende aand moet ek daar gaan speel. Ek is bereid om Bok te stiek vir ’n ete as hy nie sy voorlaaier se punt in my rigting mik of my piets met sy kruisbande nie.

Ek verwag die ergste, want intussen het ek nóg gerugte oor Bok gehoor. Blykbaar autograph hy sy CD’s vir girls “aan ’n trotse Boerenooi” en blykbaar het hy regte boere in plaas van akteurs gebruik tydens die maak van sy musiekvideo. (Daar was waarskynlik nie ’n moffie binne honderd kilometer nie.) Vir party van die kakies moes hulle vroue gebruik en opmaak om soos mans te lyk, hoor ek, want die boere het geweier om kakies te speel. (Heimlik wonder ek wie al die slote gegrawe het: Jafta?)

Ek verwag ’n vloekende, aggressiewe persoon met ’n drankprobleem. (Dus iemand min of meer soos ek, behalwe dat hy kakie sal dra.)

Maar wanneer Bok die volgende dag opdaag, tien minute laat, terwyl ek al halfpad is met my Salad Nicoise en my eerste Beyerskloof, is ek verbaas.

Die jong man wat voor my sit, het weerlose oë. Hy is iemand wat al teleurgestel is deur die lewe. Wat al seergekry het. Om die waarheid te sê, hy herinner my aan ’n goeie vriend wat ek lank gelede geken het, maar ek kan nie onthou wié nie.

Dan, halfpad deur die gesprek, tref dit my soos ’n bom: Kerkorrel. Hy herinner my aan Johannes Kerkorrel.

Bok van Blerk … ’n sensitiewe siel? Is so iets móóntlik?

Ons dans die dans van woorde om mekaar se standpunte; ons soek gemeenplase en gerieflike hoeke vanwaar ons mekaar kan afskiet. Ons bou blokhuise in die lug. Of altans: ek bou blokhuise in die lug. Maar die goed wil nie bly staan nie.

“Ek weet niks van De la Rey nie,” bieg ek. “Ek weet net hy was ’n generaal in die een of ander oorlog. Ek is mal oor jou song, maar ek is bang dit sweep die volk op tot oorlog. En ons kan juis nie nou ’n oorlog bekostig nie. Net soos destyds, is ons hopeloos outnumbered.”

“De la Rey was nie ten gunste van oorlog nie,” troef Bok my in sy sagte stem. “Hy was ten gunste van vrede.”

“O?” mompel ek met my mond vol kos. “Ek het dit nie geweet nie. Ek sal hom moet Google.”

Of De la Rey wel ’n vreedsame Boere-generaal was, weet ek nou nog nie vir seker nie, maar een ding is seker: Bok van Blerk is ’n man van vrede. Sy glimlagte kom maklik en sonder moeite. Hy gesels oor ditjies en datjies. “Ek was in ’n ongeluk by die werk,” deel hy met my. “Vandag is die eerste dag dat ek sonder krukke loop.”

Na die ete stap hy saam met my teater toe. Ek moet ’n honderd en twintig bottels Beyerskloof teken met ’n koki-pen voor die konsert begin – ’n haas onbegonne taak. Bok maak vir my elke boks oop, haal vir my die bottels uit. Hy is een van die polaitste ouens wat ek in jare ontmoet het.

Hy gee my ook ’n CD van hom present. Later sou ek agterkom waaroor die ander songs op die CD gaan. Naas die “De la Rey”-song is daar slegs twee ander sogenaamde “politieke” songs: “Jy Praat Nog Steeds My Taal” en “So Waai die Wind”. Die res gaan alles oor girls, drank en rugby. Veral drank. En ’n right-winger kan hy nie wees nie, want sy rugby-song is geskryf vir ’n bruin ou: Bryan Habana.
 
Die musiek is deurgaans goed. Dis bedrieglik eenvoudig. Dit klink met die eerste deurluister plek-plek soos doef-doef-geraas, maar daar is interessante elemente in: boeremusiekklanke, hier en daar ’n stukkie giftige rock met ’n lead-kitaar-klank wat soos ’n luislang om jou vou. Maar alles is genuanseerd, subtiel. Sonder om ’n moerse geraas te maak, doen hy presies aan my wat Jan Blohm doen: hy vat my op ’n trip; hy bekeer my tot ’n nuwe teologie wat ek nooit heeltemal sal verstaan nie.

En hel, tussen hom en sy medeskrywers (Sean Else en Johan Vorster) kan hy tóór met lirieke … ja, daar is selfs shades van Anton Goosen op sy beste … “En so waai die wind, my kind, En so waai die wind ons blind,En so waai die wind, my kind, mos alles weg. Maar dis diep in jou gebore, Niks is ooit verlore …”
 
Tussen my en Bok, besef ek, is daar ’n kloof so groot soos die Visrivier-canyon. Ons beskryf dieselfde situasies vanuit twee verskillende hoeke. Maar, anders as wat ek eers gedink het, is ons nie opponente nie.

Want al het ek uit Afrikanerdom bedank, bestaan Afrikanerdom nog. Ek kan hulle nie wegwens nie. Hulle is nie almal sogenaamde “poese” nie. Die werklose blanke outjies wat deesdae staan en bedel met kartonbordjies en kakie outfits by verkeersligte in Brits se hoofstraat suffer netso veel soos wat die ongeskoolde Soweto-jeug van 1976 gesuffer het.

En party van hulle is net so kwaad.

En net so moedeloos.

Maar ten spyte van die feit dat ek met Bok oor die weg kom, ten spyte van die feit dat hy toe, tot my opperste verbasing, ’n doodgewone ou is, weet ek dat ek nie tevrede sal wees voordat ek nie meer weet oor sy ikoon nie.

Wie was Generaal Koos de la Rey werklik? Was hy wel ’n man van vrede, soos Bok beweer, of was hy net een van daardie larger-than-life oorloghelde wat later in die annale van die FAK en die Calvinistiese skoolboeke in brons gegiet is en tot ridder geslaan is? Waar pas hy in in die nuwe geskiedenis van Afrikaanse musiek, en waarom het Else, Vorster en Van Blerk juis hóm gekies? Omdat hy vaagweg trek op Haile Selassi? Omdat sy van rym met al daai lekker maklike “y”-woorde waaruit die liedjie bestaan?

Terug in die Kaap, klaar met my konserte, gaan soek ek hierdie misterieuse man op die Internet. Soos ek belowe het, Google ek hom.

En ’n nuwe reeks moontlikhede en denkpatrone gaan voor my oop.

Skielik besef ek Sunette Bridges is dalk reg: dis tyd vir introspeksie (nie omdat ek deesdae leë sale trek nie – allermins – maar omdat ek stupid genoeg was om te dink alle Afrikaner-ikone uit die ou tyd was so vervelig, en so hardkoppig, en so eendimensioneel soos Bles en PW).

Feit nommer een: Koos de la Rey was die laaste Boere-generaal wat oorlog toe gegaan het; hy het tot op die einde probeer werk vir ’n vreedsame oplossing.

Feit nommer twee: Koos de la Rey het, saam met generaal Piet Joubert, Paul Kruger se anti-uitlander-beleid teengestaan uit vrees dat dit tot ’n gewapende stryd sou lei.

Feit nommer drie: Koos de la Rey was, ten spyte van sy hoop op ’n diplomatieke oplossing, nie bang vir oorlog nie. Toe oorlog eindelik onafwendbaar word, het hy hom hart en siel in die stryd gewerp. Van al die Boere-generaals het hy die hoogste slaagsyfer gehad en ook die langste staande gebly.

Feit nommer vier: Koos de la Rey het guerrilla-oorlogvoering ontdek en hy was die eerste ou wat ontdek het wat die waarde is van loopgrawe. Hy was ’n taktiese genie.

Feit nommer vyf: Anders as die Engelse, het De la Rey sy krygsgevangenes met respek en deernis behandel. Toe hy die gewonde Britse bevelvoerder Methuen in hegtenis neem, het hy hom dadelik teruggestuur na die Kakie-linies toe in die hoop dat hy daar beter mediese hulp sou kon kry.

Feit nommer ses: Na afloop van die oorlog het De la Rey hom tot die politiek gewend, waar hy, in kontras met die meeste van sy ou oorlogskamerade, Louis Botha se pogings gesteun het om vrede te maak tussen Boer en Brit.

Feit nommer sewe: Koos de la Rey was ’n teenstander van Hertzog. Hy was nie ’n Afrikaner-Nasionalis nie. Hy was ’n ware Suid-Afrikaanse leier, met ’n groter visie as die eng, etniese en rassistiese ideologieë van ander Afrikaner-leiers.

Feit nommer agt: Ergste van alles, De la Rey het gesterf op ’n eg Suid-Afrikaanse manier: hy is getref deur ’n dwaalkoeël by ’n padblokkade. Die victim van ’n drive-by shooting. Soos Brett Kebble.

Feit nommer nege: Dit is ’n feit soos ’n koei, en Bok van Blerk is reg as hy daarvan sing: ons het vandag, meer as ooit, leiers soos Koos de la Rey nodig. Of hulle wit of swart is. Of hulle Afrikaans of Engels of Xhosa of Zoeloe is. Want De la Rey was die perfekte Afrika-takhaar-ghoeroe. Hy was die ideale sintese tussen PW en FW.

Feit nommer tien: Hy was ons Steve Biko.

En dis van hierdie ou wat Bok van Blerk sing wanneer julle hom hoor wanneer julle braai-partytjies hou van Malmesbury tot Mpumalanga. Hy sing nie van Eugène Terre'Blanche nie. Hy sing nie van Marthinus van Schalkwyk nie. Hy sing nie eers van Adriaan Vlok of Jake White of Hannes Nel of Trompie nie. Hy sing van ’n man van durf en daad, ’n man van aksie, ’n man met gewete, ’n ware leier wat, indien hy vandag gelewe het, nie net ons volk nie, maar die ganse Suid-Afrikaanse nasiedom sou help vorder het tot by daardie wonderlike land wat die Nuwe Suid-Afrika nog altyd veronderstel was om te wees.
Dit is waaroor hierdie veelbesproke lied gaan.

En dit, vermoed ek, is waarom daar so ’n diep hartseer agter Bok van Blerk se oë lê.

Want, jonk soos wat hy is, dra hy, net soos ek, net soos alle denkende Afrikaanse mense, net soos die ganse Suid-Afrika, baie swaar aan die pyn en die bagasie van die afgelope veertig jaar.

 

<< Terug na die miniseminaar oor Afrikaanse musiek <<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top