ATKV/RSG Spel-intervarsity op die radio

  • 0

Ons mor dikwels dat die jongklomp nie meer kan spel nie, maar is dit regtig so? Kom luister saam na die ATKV/RSG Spel-intervarsity elke Sondag net na 11:00 op RSG en besluit self! Vir die volgende tien weke gaan spanne van die noordelike en suidelike universiteite dit uitspook om te kyk wie spel die beste.

Gerhard van Huyssteen, samesteller en aanbieder van die Spel-intervarsity, vertel dat hy na 'n manier gesoek het om 'n interaktiewe taalvasvra te hou op Die Tale wat ons Praat, RSG se weeklikse taalprogram. “In dieselfde tyd het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se inisiatief om 'n landswye Afrikaanse spelfees te organiseer ook op dreef gekom.” Van Huyssteen vertel dat die idee vir 'n spelfees al tydens die eerste Aardklop gebore is in 'n gesprek tussen hom, prof. Hans du Plessis, Abraham de Vries en wyle George Weideman. “Uiteindelik het 'n klomp rolspelers, waaronder ook die Akademie, ATKV en Woorde Open Wêrelde, 'n projek van die Universiteit van Stellenbosch, 'n samewerkingsooreenkoms onderteken om die Afrikaanse Spelfees van stapel te stuur. Die ATKV/RSG Spel-intervarsity vorm 'n onderdeel van hierdie Afrikaanse Spelfees.”

Volgens Van Huyssteen heers daar 'n wye bewustheid oor die belangrikheid van goeie taalgebruik en spelling. “Mense word egter dikwels dwars in die krop gesteek deur beterweters wat hulle met skerp liniale oor die vingers tik as hulle 'n fout maak. Met die Afrikaanse Spelfees in die algemeen en spesifiek ook met die Spel-intervarsity wil ons wys dat taal en spelling pret kan wees, en dat jy speel-speel jou spelling kan verbeter. Daarmee hoop ons om ook 'n groter bewustheid te kweek met betrekking tot beter taal- en skryfvaardighede.”

Ses universiteite het elk 'n span van twee deelnemers ingeskryf, en die universiteite is in twee groepe verdeel. Die noordelike universiteite (UP, UJ en NWU) en die suidelike universiteite (UWK, US en UV) ding in die eerste ses programme in 'n rondtomtaliereeks teen mekaar mee om die beste vier universiteite te identifiseer. Daarna word sake uitgespook in twee semifinales, 'n bronsfinale en 'n finale om die eerste, tweede, derde en vierde plekke aan te wys. Die wenspan ontvang prysgeld ter waarde van R10 000, en al die ander deelnemers ontvang geskenkpakke.

Van Huyssteen verduidelik dat elke program uit drie speletjies bestaan. “In die eerste speletjie, Beurtspel, spel elke universiteit presies dieselfde woorde. Terwyl die een span spel, het die ander span oorfone aan. Die deelnemers in elke span spel om die beurt 'n woord, en hulle moet probeer om soveel as moontlik woorde in een minuut korrek te spel. Dié woorde is geneem uit die Graad 9-woordelys van die ATKV en WOW se skolespelkompetisie. In die tweede speletjie, Liegbek, spel die universiteite vir mekaar woorde, hetsy reg of verkeerd. Die opponente moet dan sê of 'n woord reg of verkeerd gespel is, en hulle kry die kans om 'n potensiële fout te verbeter. In die laaste speletjie, Beterweter, word spelvermoë en algemene kennis gekombineer. Die deelnemer wat eerste sy of haar gonser druk, kan 1-, 2- of 3-puntvrae beantwoord (en dus 1, 2 of drie punte kry of verloor). Die vrae vir dié speletjie kom uit die vraagbank van www.beterafrikaans.co.za, 'n nuwe inisiatief waar jy daagliks vinnig-vinnig en speel-speel jou spelvermoë kan verbeter.”

Van Huyssteen sê hy en ander betrokkenes by die opnames was baie beïndruk met die studente se spelvermoë, maar dat idiome en algemene kennis – veral hedendaagse nuusgebeure – meer aandag kan kry.

Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG, sê dié radiostasie bied die Spel-intervarsity om verskeie redes aan. “Die belangrikste element in uitsaai is taal. Praattaal is nie al wat belangrik is nie. Korrekte skryftaal is net so belangrik. As 'n woord nie korrek gespel is nie, kan dit nie korrek uitgespreek word nie en kan daar 'n heeltemal ander betekenis aan die luisteraar oorgedra word as wat aanvanklik bedoel is. Ons wil ook wys dat ons jongmense wel nog belangstel in Afrikaans en kán reg spel, en wil ook ons luisteraars aanmoedig om meer aandag te gee aan korrekte spelling.”

Die Spel-intervarsity word geborg deur die ATKV, RSG, die Dagbreek Trust, CTexT en Trifonius.

*RSG saai uit tussen 100 tot 104 FM. Of luister aanlyn by www.rsg.co.za.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top