ATKV-Rieldansfinaal 2013 gaan die stof laat staan

  • 0

Op Saterdag 7 Desember gaan daar weer gedans word dat die stof letterlik staan tydens die jaarlikse ATKV-Rieldansfinaal wat in die Liquifruit-Amfiteater op Paarlberg plaasvind. Rieldansers van so ver as Loeriesfontein in die Boesmanland kom wys hul staal teen die beste rieldansgroepe van regoor die land, en soos altyd beloof dié geleentheid om ’n jolige aand onder die sterre te wees. Al gewonder waar die uitdrukking “dans dat die stof so staan” vandaan kom? Dan móét jy kom kyk – ’n rieldanser se vermoë word onder meer beoordeel aan hoe hoog hy of sy die stofwolke kan opdans.

Die rieldans word beskou as die oudste danssoort in Suider Afrika, en die hedendaagse vorm van die dans kan direk na die Khoisan, die eerste bewoners van die suidpunt van Afrika, herlei word. Die Khoisan het die danse in ’n sirkel om ’n vuur gedans om ’n goeie oes of jagtog te vier, en baie van die hedendaagse rieldanse word vandag steeds in ’n sirkel gedoen. In Nama staan die dans as die ?khapara bekend, maar die naam rieldans is afgelei van Skotse immigrante se “reel dance”.  

Die riel is veral tussen die 1940’s en 1960’s deur die werkersklas gedans, en hedendaagse rieldansers probeer om iets van daardie era vas te vang in hulle kostuums. Weens onder meer verstedeliking en die aanhang van popkultuur het die riel byna uitgesterf, maar danksy die ATKV se ingryping, en veral die werk van Elias Nel, het dié tradisionele dansvorm weer herleef. 

Die eerste ATKV-Rieldanskompetisie is in 2006 aangebied, en dié kunsvorm gaan sedertdien van krag tot krag. Jong rieldansertjies het die afgelope paar jaar onder meer by ’n amptelike parlementsopening gedans, en vroeër vanjaar het die huidige junior kampioene, die Betjies van Betjiesfontein, selfs by die luisterryke Huisgenoot Skouspel opgetree.

Die riel beeld dikwels die liefdespel tussen man en vrou uit, maar diere en voëls word ook deur dans uitgebeeld: ’n volstruis wat vlerksleep, meerkatte, ’n bobbejaan se streke, ’n pronkende springbok ... En dan is daar natuurlik die askoek! In dié dans, wat teen ’n ysingwekkende pas gedans word, moet die regtervoet gedurende die dans vinnig en sekuur bokant die linkerknie geplaas word sonder dat die danser sy balans verloor.

Vernuftige voetwerk en hope energie is nodig om die riel goed te dans, en daarvan is daar elke jaar volop by die Rieldansfinaal. Dansers van ses tot sestig wys hulle passies en ding mee vir die prysgeld en trofeë wat deur die ATKV geborg word.

Benewens die pryse en prysgeld vir die dansers, is daar ook twee spesiale pryse (beste rieldansmusikant en beste Afrikaanse rieldansliedjie) op die spel. Daar is ’n junior en senior afdeling, en in vanjaar se junior afdeling ding die heersende kampioene, die Betjies van Betjiesfontein, mee teen Korbeel  (Carnarvon), die Calvinia Sitstappers, die Nuwe Graskoue Trappers (Wupperthal) en Rapystone (Fraserburg). In die senior afdeling sal Witzenberg, die 2012-kampioene, hul slag moet wys teen die Grasvlei Grastrappers (Wupperthal), die Suurrug Suurtrappers  (Wupperthal), die Boesmanland Bitterbessies  (Loeriesfontein) en Griekwa Ratelgat  (Vredendal).

Moenie hierdie heerlike kultuurgeleentheid vir oud en jonk misloop nie. Kaartjies kos R60 vir volwassenes, en R20 vir kinders, en is te koop by die ATKV-Streekkantoor in Ryneveldstraat, Stellenbosch (021 886 7156/7162) of by die Cultivaria-kantoor in Hoofweg, Paarl (021 872 9754)

Hekke open om 16:00 en die kompetisie begin om 19:00.
 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top