Ses Snare sing slegs Afrikaans by Clover Aardklop 2013

  • 0

Ses Snare is ’n vanjaar op Clover Aardklop se musiekprogram. Hierdie keer – net Afrikaans! Wat is die agtergrond van die Ses Snare?

Die groep het in 2008 begin toe Mathys Roets en ’n paar van sy medemusikante iewers “backstage” gesit en gesels het oor hoe graag hulle ’n paar ouens bymekaar wou kry om net musiek te speel waarvan hulle hou – hy noem toe die idee vir my, en ons besluit toe om ’n paar ouens te bel en ’n konsert te hou – en so het Blackie Swart, Thean Kotze, Leon Ecroignard, Mel Botes en Wouter van der Venter deel geword van die eerste groep. Thean Kotze het die naam uitgedink, en hulle het een aand by Mathys se huis bymekaargekom en op die songs besluit: elkeen sou ’n oorspronklike komposisie bring, en elkeen van die ses ouens kon twee bestaande songs van sy keuse bring – so het Snare se eerste konsert bestaan uit songs van oa The Eagles, Dire Straits, Eric Clapton, Queen, Bob Dylan en Pink Floyd.

Daar was geen gedagte dat die “band” oorspronklik meer as een konsert sou doen nie – dit was eintlik net ’n bymekaarkom en speel vir die pret. Maar die eerste show by Centurion-teater was uitverkoop; daar was later in 2008 nog een show by Beeld se tent op Clover Aardklop – en toe spat die manne uitmekaar. Ons besluit toe egter om in te skryf vir KKNK 2009, word gekeur en vat toe die kans om die show by KKNK te gaan doen. Dit was voor daai KKNK in 2009 dat Mathys se ongeluk gebeur het, en van daar het die dinge maar geloop tot vandag – ’n deeltydse band wat reeds drie CD’s en twee DVD’s vrygestel het, meer as 50 konserte per jaar hou en dit steeds geniet.

Hoekom die besluit op "slegs Afrikaans" vir die Clover Aardklop-program?

Ons het nog altyd ’n paar Afrikaanse songs by ons programme ingesluit – meestal eie komposisies van die Snare self. Ons speel ’n wye verskeidenheid Engelse musiek – het pas ’n CD met net Beatles-musiek vrygestel. Baie mense sê Snare is net ’n “cover” band; my redenasie is dat Pavarotti en die Berlynse Simfonie-orkes ook nog net meestal “covers” gespeel het. Ons speel die musiek waarvan ons hou, verwerk dit vir ses stemme en ses akoestiese kitare en laat dit heel anders klink.

Die meeste van die songs wat ons speel, is deur ikoniese liedjieskrywers geskryf: Lennon-McCartney, Eric Clapton, Freddie Mercury, die ouens van Dire Straits, Eagles ens, ens. Maar ons weet mos lankal daar is ikoniese liedjieskrywers in Afrikaans, en die meeste van hulle het op die een of ander wyse ’n invloed op die Snare individueel gehad, en toe besluit ons maar net dis nou die tyd om ’n klompie van daai songs af te stof – die idee was om van die minder bekende songs te doen, nie noodwendig al die treffers nie. 

Die program beloof ’n wye keurspel van Afrikaanse liedjies – van Johannes Kerkorrel, Koos du Plessis en David Kramer tot Lucas Maree, Coenie de Villiers en Anton Goosen. Boonop word belowe dat “rock, pop en blues” gehoor sal word. Hoe is besluit op die liedjies wat so ’n breë spektrum van Afrikaanse musiek verteenwoordig?

Ons is almal ouens wat in die laat 1970’s en ’80’s grootgeword het, en die meeste van die songs kom uit daai era. Weer eens het elkeen van die Snare sy voorstelle gemaak van sy mees geliefde Afrikaanse songs, en toe het ons gaan kyk wat gaan lekker inpas by ses kitare en ses stemme, en hier en daar ook bietjie gimmicks – ’n Briels-medley met kitare en saag, ’n oorspronklike song van Leon wat gaan oor die ekspats in Ossie wat terugverlang na Suid-Afrika, kompleet met ’n didjeridoe as deel van die begeleiding. Daar is ook Zoid se “Afrikaners is plesierig” en Fokofpolisiekar se “Ek skyn (heilig)” wat ’n interessante verwerking gekry het. Koos du Plessis wat bietjie swing, ens, ens.

Watter produksies op die Clover Aardklop 2013-program sien jy na uit?

Natuurlik wil ek graag sien wat die reaksie is op Snare se show; sal graag Macbeth wil sien, en enigiets met Chris Vorster of Sandra Prinsloo daarin.

 

Ses Snare – Net Afrikaans

Lokaal: Roots Duur: 80 min Ouderdom: A
Taal: Afr. Prys: R 110.00    
24/9/2013 - 19:30 25/9/2013 - 9:30 26/9/2013 - 14:30 27/9/2013 - 12:00
28/9/2013 - 9:30

Koop kaartjies by Computicket

Besoek die Clover Aardklop-portaal vir nog feesinligting

Besoek Clover Aardklop se webwerf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top