Twee hoofregters en 'n aaklige droom

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Suid-Afrika se eerste hoofregter, lord John Hendrik de Villiers, is op 15 Junie 1842 in die Paarl gebore. Hy wou aanvanklik predikant word, maar het hom – nadat hy agtien maande lank in Nederland in daardie rigting gestudeer het – in Engeland in die regte bekwaam. Terug in die Kaap het hy lid van die Kaapse balie geword, en het gou 'n florerende praktyk opgebou.

Op dertigjarige ouderdom is hy as prokureur-generaal van die Kaapkolonie aangestel, en net die volgende jaar het die sonderlinge voorreg hom te beurt geval om hoofregter van die Kaap te word. Daar word vertel dat die senior Kaapse regter destyds, regter Denyssen, só gegrief was deur die aanstelling van die jeugdige De Villiers dat hy geweier het om hom as hoofregter te beëdig, met die gevolg dat regter De Villiers die takie toe maar self moes afhandel.

Lord De Villiers was voorsitter van die Nasionale Konvensie wat tot die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 gelei het. Hy self het van 1910 tot 1914 die Unie as eerste hoofregter gedien, maar hy word nie as 'n uitsonderlik bekwame juris onthou nie. Trouens, hy word vandag verwyt dat hy maar min bygedra het tot die vestiging van die Romeins-Hollandse reg in daardie eerste belangrike jare na Uniewording. Hy het te geredelik Engelsregtelike beginsels in die plek van Romeins-Hollandse beginsels ingevoer, word geglo.

'n Ander hoofregter van die Unie, sir Henry William Solomon, is op 13 Junie 1930 oorlede. Hy het in Maart 1927 hoofregter geword en dit word vertel dat sy voorganger in daardie pos, sir James Rose-Innes, drie jaar te vroeg afgetree het om aan sy intieme vriend die geleentheid te bied om ook hoofregter te word. Regter Solomon was 'n veelsydige en uiters bekwame juris, en talle van sy uitsprake word vandag nog nagevolg. Daarby was hy – anders as lord De Villiers – besonder gewild onder sy kollegas, hoewel hy onder advokate die reputasie gehad het dat hy in die hof 'n moeilike regter was. Na sy aftrede in Oktober 1929 het hy hom in Noord-Wallis gaan vestig, waar hy 'n paar maande later aan 'n hartaanval oorlede is.

Daar is nog ruimte vir my om ook 'n interessante hofsaak uit die Junie-annale van ons regsgeskiedenis te kan bespreek, na aanleiding van 'n voorval naby Pongola gedurende die nag van 13 Junie 1952. Ene mnr Dhlamini het saam met vyf ander mans in 'n hut geslaap. Op 'n stadium het een van die mans, wie se naam in die hofverslag slegs as Gideon aangegee word, wakker geword en in die lig van 'n lantern wat in die hut gebrand het, gesien dat Dhlamini regop sit op sy slaapmatjie. Sy oë was oop en dit het gelyk of hy diep ingedagte was. Een van die ander mans, met die naam Skosana, het van sý slaapmat opgestaan om 'n matjie wat naby Dhlamini gelê het, te gaan optel. Toe hy buk, het Dhlamini skielik opgespring en Skosana drie keer met 'n mes gesteek en hom noodlottig verwond.

Dhlamini is van moord aangekla, maar hy het 'n sonderlinge verweer gehad. Hy het aangevoer dat hy tydens die voorval 'n nagmerrie gehad het. Hy kon vaagweg onthou dat hy gedroom het dat mense deur 'n venster na hom kyk en dat hy deur hulle aangerand word.

Regter Price van die hooggeregshof in Pretoria wat Dhlamini verhoor het, het sy weergawe as redelik moontlik waar aanvaar en beslis dat hy sonder motief en heeltemal willoos gehandel het toe hy vir Skosana met die mes gesteek het.1 Die regter het aangehaal uit die werke van ou Hollandse skrywers soos Moorman en Van der Linde waarvolgens iemand wat 'n misdryf pleeg terwyl hy slaap, nie daarvoor aanspreeklik gehou kan word nie. Dhlamini is gevolglik onskuldig bevind en ontslaan.

 

1 R v Dhlamini 1955(1) SA 120 (TPA)

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top