In Memoriam: Pete Seeger

  • 2

Die ou behoefte om wat goed is uit die verlede te behou en daarop voort te bou in die toekoms kry interessante gestalte in populêre musiek.

Dit is maklik om uit te wys dat die gevierde folksanger Woody Guthrie en die digter Dylan Thomas ‘n groot invloed op een van die reuse van folk- en ander vorme van ligte musiek sedert 1960, Bob Dylan, gehad het. Dylan het dit self verklaar. Mens kon ook uit sy keuse van materiaal vir sy eerste album, Bob Dylan, ander afleidings maak oor wie hom beïnvloed het: Bukka White en Rev Gary Davis, en musiek wat verbind kon word met die Suide en die verskeidenheid sosiale en politieke opwellings aldaar.

En mettertyd het Dylan ook sy ander invloede aangedui: Leadbelly, Blind Lemon Jefferson, Blind Willie McTell en Pete Seeger.

Pete Seeger is oorlede tydens Bruce Springsteen se besoek aan Suid-Afrika. Tydens Springsteen se tweede konsert in Kaapstad het hy ‘n ontroerende huldeblyk aan Seeger gelewer en “We Shall Overcome” gesing.

‘n Mens neem half outomaties aan dat Pete Seeger ‘n baie groot invloed op Springsteen se musiek moes gehad het. Die bykans opruiende strydliedere van Jan Alleman, die herhalende patrone met die lirieke, Springsteen se politieke nous.

Springsteen self wys daarop dat toe hy in 1997 genader is om die liedjie “We Shall Overcome” te sing op ‘n versameling getiteld Where Have All The Flowers Gone: The Songs of Pete Seeger, hy eintlik min van Seeger geweet het, gegee sy rock-oriëntasie. Omdat Springsteen nie iemand is wat dinge half doen nie, het hy na die res van Seeger se musiek begin luister, en só baie daarvan gehou dat dit uiteindelik uitgeloop het op We Shall Overcome: The Seeger Sessions van 2006.

Dit ís so dat vandag se luisteraar gister se musiek makliker absorbeer wanneer een van vandag se sterre daardie musiek herinterpreteer. Met Pete Seeger was dit deur die jare die geval, veral in die sestigs toe hy, danksy die Civil Rights Movement, skielik weer relevant geword het.

Mens moet onthou dat hy in die jare vyftig om politieke redes feitlik deur die Amerikaanse hoofstroom verstoot is. In 1962 het die folk-trio Peter, Paul & Mary dit tot ‘n einde gebring met hul treffervertolkings van Seeger se “If I had a hammer” en “Where have all the flowers gone?”. Dit was die jaar waarin die stryd om gelyke regte vir swart Amerikaners in alle felheid gewoed het, met James Meredith wat die eerste swart student aan die Universiteit van Mississippi geword het en deur federale polisie begelei moes word.

Daarna, in 1967, toe die Viëtnam-oorlog ‘n hele nuwe vlaag van protesmusiek ontketen het, het die Byrds ‘n internasionale treffer behaal met Seeger se “Turn Turn Turn”, ‘n verwerking van ‘n Bybelteks. (Die feit dat die liedjie op ‘n Bybelteks gegrond was, het die destydse Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie dermate ontstel dat dit op hul senders verbied is.)

Daarna was daar ‘n hele vloed vertolkings. Trini Lopez, Sam Cooke, The Four Tops en Luther Vandross het almal welslae behaal met hul vertolkings van “If I had a hammer”. Eva Cassidy het “Oh, I had a golden thread” gesing.

Soos “Turn Turn Turn” aandui, was Seeger lief daarvoor om ou vergete liedjies nuwe lewe te gee. Die Suid-Afrikaner Solomon Linda se “Mbube” is deur Seeger verwerk as “Wimoweh” – en hy het enorme internasionale sukses behaal daarmee toe hy nog lid van The Weavers was.

Seeger en Lee Hays het die Leadbelly-liedjie “Kisses sweeter than wine” eweneens nuwe lewe gegee.

Heel van pas het Bruce Springsteen ‘n groot deel van Seeger se musiek nuwe lewe gegee – deur te kyk na die lys liedjies wat op die album ingesluit is, besef jy onmiddellik hoe ‘n sentrale rol Pete Seeger in die musiek van die 20ste eeu gespeel het: “Old Dan Tucker”, “Jesse James”, “Mrs McGrath”, “O Mary don’t you weep”, “John Henry”, “Erie Canal”, “Jacob’s Ladder”, “My Oklahoma Home”, Eyes on the Prize”, “Shenandoah” “Pay me my money down” en “We Shall Overcome”.

Peter Seeger is op 3 Mei 1919 in New York gebore, die seun van Charles Seeger, ‘n musiekdosent by Berkeley, en Constance de Clyver Edson Seeger, ‘n konsertviolis. Twee van Charles Seeger se kinders uit ‘n tweede huwelik, Peggy en Mike, sou folksangers uit eie reg word.

Toe Seeger sestien was, het hy Camp Rising Sun, ‘n internasionale leierskapskursus, bygewoon – die begin van sy aktivisme en ‘n vormende invloed op sy sosialistiese sienings. Hy is op 24-jarige ouderdom met Toshi-Alina Ota getroud, en uit die huwelik is drie kinders gebore. Toshi was die ander groot vormende invloed op sy loopbaan – ‘n sosiaal-bewuste rolprentmaker en ekologiese aktivis lank voordat so iets as ‘n beweging neerslag gevind het.

Seeger het in 1936 begin banjo speel. Hy was ‘n kort rukkie ‘n student by Harvard, maar sy politieke aktivisme het gou sy studies benadeel. Hy het sy studies in 1938 gestaak, sporadies begin optree en in 1939 by ‘n vriend van sy pa, Alan Lomax, die folkkenner, se Argief van Amerikaanse Folkmusiek begin werk.

Lomax het hom aangemoedig om self konserte te hou, en hom laat optree in Back Where I Come From, ‘n radioprogram wat Lomax saam met Nicholas Ray georganiseer het. Seeger het verskyn saam met Woody Guthrie, Burl Ives, Leadbelly en Josh White.

In dieselfde jaar het hy begin optree as lid van die Almanac Singers, saam met onder andere Woody Guthrie en Cisco Houston. Seeger moes onder die naam Pete Bowers optree ten einde nie sy pa se loopbaan in die staatsdiens te kompromitteer nie. Een van hul albums, Songs for John Doe, het hulle die gramskap van die regse politieke establishment op die hals gehaal weens die aansluiting by die ideologiese standpunte van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie. Die groep het Dear Mr President uitgereik om hul steun aan president Roosevelt se oorlogverklaring teen Hitler te steun, maar weens ‘n georganiseerde veldtog teen die Almanacs moes hulle uiteindelik ontbind.

 
In 1942 het Seeger by die Young Communist League aangesluit. Hy het in die Amerikaanse weermag diens gedoen in die Stille Oseaan, voor die troepe opgetree, en ná die oorlog People’s Songs gestig, ‘n organisasie wat Amerikaanse musiek moes bevorder. People’s Songs het die veldtog van Henry A Wallace van die Progressive Party in die Amerikaanse presidentverkiesing van 1948 gesteun. Dit het erg geboemerang teen Wallace, wat daarvan beskuldig is dat hy kop in een mus was met kommuniste soos Seeger en Paul Robeson.

In 1949 het Seeger as sangdosent by ‘n skool in Greenwich Village begin werk.

Die daaropvolgende jaar het hy die Almanac Singers laat herleef onder die naam The Weavers, met Lee Hays, Ronnie Gilbert en Fred Hellerman as die ander permanente lede. Later het Frank Hamilton, Erik Darling en Bernie Krause op ongereelde basis saam met hulle opgetree.

Die Weavers het ‘n bestuurder gehad wat gesorg het dat hulle nooit openlik by enige politiek betrokke raak nie. Dit het baie gehelp om die deure vir hulle oop te maak, en hulle het ‘n string treffers gehad: “On Top of Old Smokey”, “Goodnight Irene”,  “Dusty Old Dust (So Long, It’s Been Good To Know You)”, “Kisses Sweeter Than Wine” en “Wimoweh”.

The antikommunistiese aktiwiteite van senator Eugene McCarthy, asook van die House Committee on Un-American Activities, het ongelukkig veroorsaak dat die Weavers se musiek in 1953 oral op swartlyste geplaas is, en hul aktiwiteite is summier stopgesit. In 1955 het hulle weer konserte begin hou, en ‘n treffer behaal met “Sixteen Tons”.

In dieselfde jaar is Seeger gedaag om voor die HUAC (House Un-American Activities) se staande komitee te verskyn. Hy het geweier om enige vrae te beantwoord, en is skuldig bevind aan minagting van die Kongres, met tronkstraf van een jaar. Die straf is op appèl ter syde gestel.

Maar sy musiek was in die laat jare vyftig en vroeë sestigs op alle moontlike swartlyste. Seeger moes as musiekonderwyser ‘n bestaan probeer maak, en het mettertyd ‘n sentrale figuur in die groot folkmusiek-herlewing van die vroeë sestigs in New York geword. Dié herlewing het Bob Dylan sy vastrapplek gegee, en ander kunstenaars soos Phil Ochs, Tom Paxton, Joan Baez, Bob Neuwirth en Dave van Ronk gewild gemaak. Seeger het as rubriekskrywer van Sing Out! hul lof besing, en ook die tydskrif Broadside help stig, sodat aandag aan aktuele sake en musiek gegee kon word.

Seeger se nuwe gewildheid het hom op konsertreise buite die VSA laat gaan, onder meer na Australië, waar sy weergawe van “Little Boxes” ‘n massiewe treffer geword het.

Met Seeger as ‘n informele leiersfiguur was dit vir die nuwe geslag folkmusici van die jare sestig eintlik vanselfsprekend dat hulle in sy voetspore sou volg. As mens sy loopbaan volg, dan is dit merkwaardig hoe sentraal Seeger as aktivis in ‘n wye spektrum veldtogte gestaan het.

Hy het voorspraak gemaak vir die regte van werkers. Hy was gekant teen die Franco-regime en het die republikeinse magte in die Spaanse burgeroorlog gesteun. Hy het Stalin goedgepraat (en later daarvoor om verskoning gevra). Hy was ‘n kampvegter vir burgerregte vir almal, en meer spesifiek die regte van werkers. Hy was gekant teen segregasie en het rassegelykheid voorgestaan. Hy was ‘n verbete antimilitaris. Die aktiwiteite van die Sowjetunie in die laat vyftigs (veral in Hongarye) het hom teen hulle laat draai – en insgelyks het hy die VSA se Viëtnam-beleid met mag en mening probeer beveg. Die hoogtepunt hiervan was toe hy op 15 November 1969 meer as 800 000 betogers in ‘n protesoptog na die Wit Huis gelei het, en voorgegaan het in die sing van John Lennon se liedjie “Give Peace A Chance”.

Seeger was van die middel-sestigs af, met sy vrou as mentor, aan die voorpunt van eko-aktivisme in die VSA. Hulle het ‘n sloep, die Clearwater, laat bou en dit gebruik om die besoedeling van die Hudsonrivier te bekamp.

In die jare tagtig het Seeger geld help insamel vir die Poolse Solidariteit-beweging en moeite gedoen om te verduidelik hoekom hy steeds ‘n kommunis is: “Ek noem myself steeds ‘n kommunis, omdat kommunisme net so min dít is wat Rusland daarvan gemaak het as wat die Christendom is wat die kerke daarvan gemaak het.”

Hy het tot laat in sy lewe op verskeie fronte aktief gebly. Hy het tot ses dae voor sy dood op 27 Januarie vanjaar in ‘n houthuis gewoon wat hulle self gebou het op die stukkie grond wat hy en Toshi in 1949 gekoop het.

Pete Seeger is die vader van protesmusiek. Sy loopbaan het ‘n patroon van aanvaarding en verwerping, aanvaarding en verwerping gevolg, en ten laaste vredige aanvaarding deur die publiek.

Dit het ‘n patroon geskep wat dikwels herhaal is in die ontwikkeling van moderne musiek, en op skouspelagtige wyse in 1976 met die protes van die punks teen die gevestigde ordes in die musiekwêreld self.

Die verstoting wat hy in die vyftigs moes verduur van die kant van die konserwatiewe politieke magte het hom gehelp om ‘n klimaat te kep waarin Bob Dylan kon “gebeur”. Op dié manier het hy die groot kritiek teen hom, dat hy binne die groter musiekstelsel afwykend is, besweer, en ‘n hele nuwe geslag kunstenaars wat hul menings wou en kon uitspreek, die kans en plek gegee om dit te doen.

Op Woody Guthrie se kitaar was daar ‘n inspirerende spreuk te lees: “This machine kills fascists.” Dit het Pete Seeger laat besluit dat hy sy lewensmotto op sy banjo sou plaas: “This Machine Surrounds Hate and Forces It To Surrender.” Die nuwe aanwins van Bruce Springsteen se E Street Band, Tom Morello, is, nes Springsteen, ‘n nasaat van Seeger se aktivisme. Of hulle geïnspireer is deur hom of nie, hulle loop dieselfde pad. Op Morello se kitaar het hy dié woorde aangebring: “Arm the Homeless.”

Tydens Bruce Springsteen se Suid-Afrikaanse konserte het hy een van die groot protesliedjies van die post-Seeger-era gespeel: “Born in the USA”.  Springsteen is self alte bewus dat daar baie mense is wat dié liedjie verkeerd opneem, as sou dit ‘n verheerliking van die Amerikaanse manier van dinge doen wees.

Maar ek is seker daarvan dat hy op die aand van 28 Januarie, net ná hy met Morello aan sy sy hulde gebring het aan Seeger met “We Shall Overcome”, met baie besliste bedoeling direk daarna “Born in the USA” gespeel het.

Groter hulde kon hy nie aan Seeger gebring het nie.

 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • C Victor R Honey

    Kerneels , hierdie  stuk oor Pete Seger was vir my wonderlik. Ek onthou hoe ons in die vroeër 1960s dws ek en Hester; Tony en Val Heard; en Roley  en Freya aan hierdie (destydse verbande musiek van Seger ) op 'n plaat wat Roley Darrol vanaf oorsee gebring het), geluister het. Dit was 'n unieke en spesiale geleentheid .DIt was wonderlik en weereens -

     DANKIE.
    Victor en Hester Honey
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top