Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2014: Aankondiging van kortlys

  • 1

Die kortlys vir Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd is nou gefinaliseer. Die name van die kortlyskandidate is:


Frederick J Botha word groot op Heidelberg teen die hange van die Suikerbosrand.  Na matriek word hy ’n Puk en ontvang sy BA-graad.  Aan die Universiteit van Johannesburg voltooi hy sy honneurs in Afrikaans (cum laude) sowel as sy meestersgraad in Afrikaans (cum laude).  Hy is tans besig met sy doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands aan die NWU se Potchefstroomkampus. Hy woon in Johannesburg waar hy Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Johannesburg doseer. Twee van sy kortverhale is in Nuwe Stories 2 (2013) opgeneem.


Luka Dreyer is in 1995 in Kaapstad gebore. Vir die grootste deel van sy lewe het hy op Hermanus gebly, waar hy in 2013 matriek klaargemaak het. Hy bly nou weer in die stad en, alhoewel hy al jare vir skoolwerk en sy eie genot skryf, probeer hy hierdie jaar op ’n meer ernstige wyse daarmee aangaan (in beide Engels en Afrikaans).

 


Susan Gaigher kom oorspronklik van Pretoria. Sy het ’n meestersgraad in digitale uitgewerswese van die Universiteit van Pretoria en werk tans as uitgewer in Kaapstad.


Carla Kargaard het onlangs die stad verruil vir die platteland. Haar skootrekenaar is haar beste vriend en stories vertel is haar passie. Sy is (nogsteeds!) besig om haar graad in kreatiewe skryfkuns te voltooi. Verder skryf sy kopie en maak video’s om die pot aan die kook te hou. 


Corné Koegelenberg het in die Klein-Karoo in ’n eenvoudige huis sonder ’n swembad grootgeword.  Na skool het hy film- en televisie-produksie in Kaapstad gaan studeer. Tans woon hy in Pretoria waar hy as filmmaker en skrywer werk.  Hy is ook besig om die Valies die verskil tussen die Kaap en die Wes-Kaap te leer.


Martin Laubscher is ’n regsgeleerde en oud-Puk wat ook vryskutjoernalistiek beoefen. Hy is ’n  film- en musiekliefhebber en is passievol oor polemiek, goeie stories en interessante mense.


Ilisna Nel is in 1989 in Bloemfontein gebore. Sy het haar eerste gedig in 2004 geskryf en van toe af was daar geen keer nie. In 2007 het sy gematrikuleer by die plaasskool Hoërskool President Steyn. In 2008 het sy ’n diensjaar en deeltyds drama gedoen. Sy verwerf in 2014 ’n  B ed (FET) graad aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie, Bloemfontein.


Carien Smith verken na skool die wêreld. In Tasmanië kom sy van aangesig tot aangesig met ’n Tasmaniese Duiwel; op die rug van ’n olifant durf sy die waters van die Nam Khan-rivier in Laos aan, werk in dié tyd as mede-redakteur van ’n internasionale welsynstydskrif en leer Lao praat. Tans studeer sy voltyds sielkunde en gaan binnekort haar eerste referaat lewer.  Haar liefde vir drama lewer ’n aantal tekste op waaronder “Formalien” die top tien-kortlys vir die 2009 Nagtegaalprys haal. Sy is tans besig om aan haar debuutkortverhaalbundel te werk. Vir ontspanning leer sy Grieks skryf en praat. 


Heloïse van der Walt is in die Kaap gebore, maar spog nie met ’n aksent nie. Haar grootwordjare is geslyp in die plattelandse Noord-Kaapse dorpie met die naam Hartswater. Nuuskierigheid is haar ondergang en sy het na skool joernalistiek gaan studeer. Sy is heimlik mal oor bak, Johnny Cash en is ’n selferkende koffieverslaafde.


Christina van Deventer woon in Rustenburg saam met haar man, Bragi Thor en hul Huskies, Thor en Odin. Sy het in 2013 die PEN Afrikaans “New Voices”-kompetisie gewen. Haar verhale is in Nuwe Stories, asook Nuwe Stories 2 opgeneem.


Tanya van Buuren wil nie graag haar ouderdom bekend maak nie, maar is bereid om te laat val dat sy volgende jaar te oud sal wees vir hierdie kompetisie. Sy is in Johannesburg gebore, het BA Tale (Joernalistiek) op Tukkies studeer, vir byna twee jaar in Nederland gewoon en bevind haar vir die afgelope vyf jaar op die Moederstad se turf. Deur die week skryf sy eiendomsverwante artikels vir Seeff-eiendomme en in haar vrye tyd hou sy van lees, uiteet, om vreemde katte te voer en om op mooi plekke saam met haar kêrel te braai.


Elani Venter woon tans in Malmesbury, in die Wes-Kaap saam met haar man en twee kinders. Sy is besig om ’n B compt-graad te voltooi deur Unisa, en werk van die huis af as ’n rekenmeester. Haar groot passie is natuurlik om te skryf. Sy is lief vir goeie musiek, goeie wyn, goeie mense en kaggelvure.


Teen die sluitingsdatum van die wedstryd het Human & Rousseau altesaam 65 inskrywings vir die wedstryd ontvang. Die samestellers, Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn, moes daarna die moeilike maar opwindende taak aanpak om die beste verhale vir die kortlys te kies.

Die skrywers op die kortlys sal die geleentheid kry om hul verhale na aanleiding van twee keurverslae en terugvoering van ervare keurders af te rond. Die eerste en tweede weergawe van elke verhaal sowel as die keurverslae sal ook op LitNet geplaas word, sodat skrywers wat nié die kortlys gehaal het nie, ook uit die proses kan leer. Human & Rousseau sal die beste kortverhale in Nuwe Stories 3 publiseer. Die wenners van die kortverhaalwedstryd sal in November 2014 aangekondig word, wanneer Nuwe Stories 3 verskyn. Die prysgeld lyk soos volg:

1ste prys R8 000
Twee naaswennerpryse van R3 500 elk
Die skrywers wie se verhale gekies word vir publikasie sal elk R1 000 ontvang.

Geen manuskripte sal ná die keuringsproses aan skrywers terugbesorg kan word nie. Suksesvolle skrywers sal deur Human & Rousseau in kennis gestel word, waarna die redigeringsproses in oorleg met die samestellers sal geskied. Insluiting in die finale bundel berus op die suksesvolle voltooiing van die redigeringsproses.

Ongelukkig sal daar nie verslae of kommentaar aan alle deelnemers gelewer kan word nie. Die finale oordeel vir publikasie ná die redigeringsproses berus by die samestellers en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top