"Woordjager" deur Anton Meijer

  • 0

Woordjager

ek het al te veel geleer
om volkome myself te wees en af te wyk
van die voorgeskrewe styl
waartoe almal konformeer
die woorde is anders maar tog dieselfde
as miljoene ander wat die pen ontdek het
dit deel my in twee helftes
soos ’n bose wolf in maanlig en die ander een vol geesdrif
waai ek die wit vlag teen die clichés wat aan ons kleef
of veg ek my pad oop soos ’n ware profeet?

die woorde lyk mooier in my kop as op papier
en soos ’n koning van ouds
wens ek die skrif verskyn net teen die muur
daar is ’n gat in my brein
waar mooi verkleinwoorde in verdwyn
my torings van vers en vorm tuimel neer
en bereik nooit ’n hemelse afwerking nie
ek verkry net die skyn van die verfynde kuns
die res stort neer soos ’n babelse verwarring
en babbel ek woorde uit my mond
wat net ek kan beskryf
dit ruk aan my lyf
totdat ek soos ’n dier
die grammatika in die gras
herkou en kou en kou

alle verse verander in gekweste diere
’n Eland vrek in die genadelose son
en word uitmekaar geruk deur aasvoëls.
Die jagters en huursoldate los net ’n doodsreuk
van buskruit in die lug
vergeet van die ekspedisie en beweeg aan
na ’n vars verskalf
om die woorde verder af te slag.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top