Woordeboeksamestellers

  • 9

Waar kry woordeboekmakers die mandaat om woordeboeke en  -lyste saam te stel?  Op grond van wie se opdrag kan hulle besluit dat, as genoeg mense verkeerde gebruik handhaaf, dit reg word en in die woordeboek opgeneem word?  Hoeveel mense is die ‘genoeg mense’, of hoeveel keer se verkeerde gebruik in koerante en tydskrifte regverdig die aanvaar as korrek en gevolglike insluit in ’n woordeboek?

Daar is so ’n werk soos proefleser en ek kan my voorstel dat proeflesers dikwels woordeboeke, spellyste en stylleksikons (daar moet tog sulke goed wees?) en dies meer raadpleeg in die loop van hulle werk.  Selfde met taalonderwysers, joernaliste, skrywers, studente, skoliere almal wat iewers iets moet skryf;  hulle het woordeboeke nodig en raadpleeg einste gedurig.  Hierdie betrokke leksikons is dus, jy kan maar sê, voorskriftelik;  grootliks daar om verkeerde gebruik teen te werk.

Nou kan dit gebeur dat, indien proeflesers hulle werk nie deeglik doen nie, verkeerde gebruik deurgelaat word.  Dieselfde kan gebeur met die res van die mense wat ek hierbo genoem het; hulle ploeter voort en in hulle onkunde skryf en praat hulle verkeerd en al hoe verkeerder en hierdie verkeerde gebruik word algemene gebruik, woordeboekmakers neem dit in die woordeboeke op en dan, voortaan, is dit korrekte gebruik.  Dit maak mos nie sin nie, of hoe?

Op die program ‘Die Tale Wat Ons Praat’, so ’n paar Sondae gelede, vra Magdaleen Kruger die gas (dr Willem Botha?) of ‘met dit, vir dit, op dit, van dit’ nie maar as korrek aanvaar kan word nie aangesien al so baie mense deesdae so praat.  Die gas se antwoord was dat baie mense ook Hitler gevolg het en dit het die volg van Hitler nie reg gemaak nie.  Dus, dit is verkeerd, al praat baie mense so.

So, hoekom is ‘braaf’ nou reg, en ‘huidiglik’ en nog ’n klomp goggas dan nou reg?

Terloops, ek het dieselfde soort mandaatprobleem met fietsryers wat sekere naweke, veral Sondae, die paaie ‘annekseer’.  Mense met geldige motorlisensies moet ompad na hul bestemmings ry omdat die verkeerspolisie die paaie gesluit het vir ’n fietsrygedoente.  Wie gee die verkeerspolisie die reg om strate vir gebruikers te sluit?  Dis bollie van die duiwel.

Jan Rap

 

 

 

  • 9

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Iemand wou van Pat weet waarom die Iere altyd ʼn vraag met ʼn vraag beantwoord. “Waarom nie?” wou Pat toe weet. Ek het ook so 5% Ierse bloed in my are, en daardie 5% wil by jou weet:
    1. Moet ons maar die lede van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en alle woordeboekmakers verbied om met hulle werk voort te gaan?
    2. As jy, Jan Rap, ʼn woordeboekmaker was, hoe sou jy neologismes en woorde uit ander tale wat herhaaldelik gebruik word, hanteer het?
    3. Moet die gesproke taal deur die geskrewe taal voorgeskryf word hoe om te praat? Of is dit andersom?
    4. Wie bepaal of ʼn sekere stukkie taal verkeerd is? Big Brother Jan Rap?
    5. Moet ons Afrikaanssprekendes nou beboet omdat hulle ‘ons’ ipv ‘wy’ of ‘wij’ as onderwerp gebruik? Verkeerd is mos verkeerd, of mag ʼn mens dalk verkeerd praat as dit Jan Rap pas?
    6. Dink jy die ou wat uit sy motor klim in die veld om die leeumannetjie aan sy stert te trek is dapper of braaf?
    7. As ʼn mens in Afrikaans neologismes kan skep met die agtervoegsel –lik, soos bv persoon – persoonlik, doen – doenlik, wens – wenslik, aanskou – aanskoulik, klein – kleinlik, wat is dan verkeerd met huidig – huidiglik?
    8. Dink jy ons moet maar die verkeerspolisie afskaf, en almal toelaat om te ry soos húlle wil?
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Ek het 25% Ierse bloed in my are so ek kan jou maklik antwoord.
    1. Nee ons moet hulle aanmoedig om met meer ywer hulle werk te doen (en sommer saam met hulle ook die Afrikaans-onderwysers en -onderwyseresse) en NIE deur iets soos byvoorbeeld politieke korrektheid van stryk gebring word en dan allerhande twak in die woordeboeke op te neem nie.
    2.Net soos die teenswoordige woordeboekmakers. Ek sou egter anglisismes en swak en/of geradbraakte taal vermy.
    3. Bietjie van beide; daar is 'n tussenwerking. Kyk byvoorbeeld na Engels; baie praat van 'he don't' of 'it aint proper' of 'you could of helped me' maar geen onnie gaan dit deurlaat nie. Dit sal gewoon verkeerd gemerk word want dit is verkeerde taalgebruik.
    4. Enigiemand wat die taal ordentlik kan praat.
    5.Nee 'ons' is reg in Afrikaans, 'wij' is reg in Hollands. Dieslfde het gebeur met Engels, byvoorbeeld ' "who's there?" "It's me!" '. Engels is vol daarvan om die akkusativ of dativ in die plek van die nominativ te gebruik. Die tale waarvan Engels die dogtertaal is het nie hierdie afwyking nie.
    6. Nee hy's onnosel. Maar ek sien jy dink 'braaf' en 'dapper' is dieselfde. Dit is nie.
    7. 'Huidig' beteken 'tans' of 'teenswoordig' so 'huidiglik' is net so'n gogga soos 'tanslik' of 'teenswoordiglik'.
    8.Nee, hulle moet juis hulle werk doen en vir fietsryers sê "gaan ry in die berge of die platteland; julle kan nie hier ry waar motoriste met geldige lisensies moet ry nie."
    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan,
    Nou verstaan ek jou antwoorde, asook jou lewensbeskouing. Ek het heelwat las van skewe humor met die 5% Ierse bloed in my are. Jou 25% moet uiters sieldodend wees.

  • Beste Jan,
    Alle grappies op 'n stokkie.
    1. As jy dink die Taalkommissie het verbrou met die Woordelys en spelreëls, moet jy so gou as moontlik hulle daarop wys. Die woordeboek is 'n ander saak. Dit staan enigeen vry, wat dink hy is bevoeg daartoe, om 'n woordeboek saam te stel. Wat van Jan Rap se woordeboek? Maar dan sal jy moet kompeteer met die WAT en die HAT.
    2. 'n Woordeboek is gewoonlik 'n taamlik goeie weerspieëling van die gesproke taal se woordeskat met inagneming van die spelreëls. As jy nou Big Brother se Newspeak-reëls gaan toepas, sal jou woordeboek beslis nutteloos wees.
    3. Jy verstaan my vraag verkeerd. As 'n Engelssprekende sê "He don't" is dit verkeerde taal nie omdat die geskrewe taal so bepaal nie. Ek wil jou nie bemoei met moeilike begrippe soos taalvermoë ens nie.
    4. Hoe weet ons dat die "enigiemand" waarvan jy praat, die taal korrek gebruik?
    5. "Ons" is reg in Afrikaans slegs omdat die Afrikaanssprekendes dit so gebruik. Jy sê self dis 'n afwyking, en jy het geen beswaar teen hierdie afwyking nie. Waarom het jy dan beswaar teen ander afwykings?
    6. Jy slaan die spyker op die kop; 'dapper' en 'braaf' beteken nie presies dieselfde nie, daarom bestaan albei in Afrikaans. Die ou wat die leeumannetjie in die veld aandurf is braaf. 'n Soldaat wat sy gewonde makker onder koeëlreën gaan haal, is dapper.
    7. Hy jy al gehoor dat iemand 'tanslik' of 'teenwoordiglik' gebruik? Afrikaanssprekendes gebruik deesdae baie die woord 'huidiglik' en dit sal gou aanvaarbaar word net soos 'ons' (onderwerp), en 'onguur' soos in "ongure weer".
    8. Hoe gaan stedelinge hulle fietse op die platteland kry as hulle nie in die stad mag ry nie?
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    1 Ek het 'n ope vraag gevra, naamlik waar kry hulle die mandaat en hoeveel 'verkeerde gebruik' regverdig opname in 'n woordeboek. Jou reaksie hierop was of hulle verbied moet word om voort te gaan met hulle werk. Ek vermoed jy het nie die vraag verstaan nie.
    2 'n Woordeboek weerspieël die gesproke taal sowel as die geskrewe taal. Woordeboeke word geraadpleeg wanneer die skrywer (brief, tesis, storie, wat ook al) onseker is. As woordeboeke nou verkeerde spreek- of skryfwyses opneem is daar 'n soort van 'n teenstrydigheid. Ek vermoed jy het nie mooi gelees en/of jy begryp nie hierdie teenstrydigheid nie.
    3 Jy verstaan steeds nie - dis eenvoudig man; verkeerde gebruik in ENIGE taal word verkeerd gemerk.
    4 Ons kyk in die woordeboek (behalwe nou as die woordeboekmakers swig en sommer links en regs verkeerde woorde opneem soos 'braaf' vir 'dapper' ens); dit is juis waaroor ek besorg was (die teenstrydigheid wat jy nie gesnap het nie).
    5 'Ons' is reg in Afrikaanse gebruik en dit is wel 'n afwyking van die Hollandse 'wij' - niks snaaks nie. Kyk byvoorbeeld die Engelse; hulle gebruik die tweede persoon enkelvoud nominativ ook vir die tweede persoon akkusativ EN dativ EN DAN NOG vir die tweede persoon meervoud nominativ EN dativ asook die hofliksheidsvorm vokativ, akkusativ en dativ (ek weet nie of ek die naamvalle reg gespel het nie; ek het nie nou 'n woordeboek by my nie). So hulle gebruik net 'you' waar ons 'jy, jou, julle' en 'U' gebruik of waar die Duitsers 'du, dich, dir, ihr, euch, ihnen en Sie gebruik (en nog 'n paar ander dalk; my Duitse grammatikaboek is doer ver by my woordeboek). Jy kan dus net uit die konteks sien wat die Engelsman bedoel. Ons 'ons' is dus maar 'n klein gevalletjie waar mens uit die konteks moet sien of 'wij' of 'ons' bedoel word in vergelyking met, wat in hierdie geval, in Engels aangaan.
    6 Jy's verkeerd as jy sê die ou wat die leeumannetjie in die veld aandurf is dapper/moedig/onverskrokke, want 'braaf' beteken 'fatsoenlik, galant, netjies', baie soos die Engelse 'dapper'. Jy's reg as jy sê die soldaat wat sy makker onder 'n koeëlreën gaan haal is dapper, die Engelse sal hom 'brave' noem.
    7 Jy wou weet wat verkeerd met 'huidiglik' is en ek het aan jou verduidelik. Omdat die verkeerde gebruik baie voorkom maak dit nie dat dit reg is nie. Dit is juis die anomalie waarop ek gewys het (wat jy blykbaar nie gesnap het nie): Wat word van die voorskriftelikheid van 'n woordeboek as hulle verkeerde gebruik 'reg' maak?
    8 Weer het jy nie reg gelees nie; die vraag was waar kry die verkeerspolisie die mandaat om die lisensiebetaler se reg te ontneem om op 'n openbare pad te ry?
    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan,
    Natuurlik het ek jou vraag reg verstaan, maar nie besef dat jy absoluut in die duister is nie. Laat ek dus maar vir jou die sakie uitlê.
    In 1909 het genl JBM Hertzog die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in die lewe geroep. In opdrag van hierdie liggaam is ʼn Spellingkommissie gestig met die opdrag om die spelling en skryfwyse van Afrikaans te standaardiseer. Later het dit die Taalkommissie geword. Hulle is verantwoordelik vir die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls.
    Dit was noodsaaklik om ʼn mate van eenvormigheid te verkry sodat elke Jan Rap en sy maat nie maar kon skrywe soos dit hulle pas nie. Die spelreëls is ʼn logiese uiteensetting van waarom daar geskrywe moet word soos wat daar in die woordelys uiteengesit is. Van tyd tot tyd word die spelreëls hersien en gewysig soos die behoefte dit vereis.
    Met verklarende woordeboeke is dit heel anders gesteld. Dit staan enigeen vry om ʼn woordeboek saam te stel, en die gewildheid daarvan hang af van hoe bruikbaar die woordeboek is.
    Woordeboekmakers behoort eintlik elke woord na te vors om die gebruiksfrekwensie daarvan vas te stel. Hulle behoort navorsing te doen oor hoe die woord gebruik word, en waar. Dit is egter ʼn haas onmoontlike taak, en baie samestellers maak maar gebruik van woordeboeke wat voorheen geskryf is. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is uitstekend met die navorsing van woorde, en daarom vorder dit maar oor die jare so stadig. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is so ʼn uittreksel van die WAT.
    Woordeboekmakers is ook maar mense, en daar mag dalk foute insluip, wat hulle natuurlik sal korrigeer indien hulle daarop gewys word. Soms stempel hulle hul eie mening af op die gebruik van ʼn woord. As hulle taalpuriste is, sal hulle bv wys op anglisismes, ens. Neem bv die woord ‘braaf’ waaroor jy so gaande is. Die Kernwoordeboek sê dat ‘braaf’ ʼn anglisisme is vir ‘dapper’. Die HAT beweer dat ‘braaf’ nie die betekenis van ‘dapper’ het in Afrikaans nie, maar dat dit gaaf, goed en deugsaam beteken. Dit mag wel so wees as ʼn ou sy brawe ouers besing, maar dit is tog gedeeltelik sinoniem met ‘dapper’. (Onthou gedeeltelike sinonieme is woorde met nie presies dieselfde betekenis nie.)
    In die 16de eeuse Nederlands is die woord ‘braaf’ opgeteken as sinoniem van dapper. Van Dale se Groot Woordenboek der Nederlandse Taal gee drie betekenismomente aan vir ‘braaf’; een daarvan is dapper: een braaf soldaat vreest de dood niet. Die tweede moment is: flink, fiks, aanmerkelijk, met die aantekening dat laasgenoemde gebruik heel verouderd is.
    Ek het self jare gelede aantekeninge gemaak oor hoe Afrikaanssprekendes ‘dapper’ en ‘braaf’ gebruik. ‘Dapper’ word dikwels in die sin van “dom, onnosel dapper” gebruik. ʼn Student wat geblinddoek, oor die straat hardloop, is braaf. Nêrens het ek gehoor dat iemand van sy brawe seuntjie praat en daarmee bedoel dat hy fatsoenlik, galant en netjies is nie.
    Woordeboekmakers is skrikkerig vir anglisismes. Kan jy my asseblief die naam van ʼn woordeboek stuur waarin woordeboekmakers “swig en sommer links en regs verkeerde woorde opneem soos 'braaf' vir 'dapper' ens”. (Is ‘dapper’ ook vir jou dan ʼn verkeerde woord?)
    Terloops, iets wat jy nie verstaan nie: net soos grammatika, is woordeboeke nie voorskriftelik nie. Dit is slegs ʼn handleiding.
    Vandag is dit korrek dat ‘ons’ in die onderwerpsposisie gebruik word, maar dit was nie altyd so nie. Taalpuriste uit Nederland het heftig beswaar hierteen gemaak toe hulle dit agterkom, omdat hulle gemeen het dat grammatikale reëls van Nederlands verbreek word. Wat hulle nie verstaan het nie, is dat grammatikale reëls beskrywend is en nie voorskriftelik nie. As ʼn taal verander, moet grammatici daarvan kennis neem en dit so beskryf.
    Jy beweer dat dit verkeerd is om die woord ‘huidiglik’ te gebruik. Ek wil weet wat verkeerd is met ‘huidiglik’. Gee jou redes waarom jy dit as verkeerd beskou, en vergeet van die storie dat die verkeerde gebruik daarvan dit nie reg maak nie. (Verkeerde gebruik deur almal maak dit reg, soos bv ‘ons’.) Ek wil weet wat verkeerd is met die woord ‘huidiglik’. Daar bestaan tog so ʼn woord soos ‘huidig’ in Afrikaans en ‘-lik’ is ʼn heel produktiewe agtervoegsel. (moet dit nou asseblief nie verdraai en beweer dat ek ʼn voorstander is van ‘huidiglik’ nie.) Ek wil net weet waarom jy ‘huidiglik’ as verkeerd beskou.
    Verkeerspolisie kry hulle mandaat van die regering van die land om wet en orde toe te pas en te handhaaf. (Sou hulle motors, honderde fietsryers, donkie- en perdekarre, ossewaens, beeste, skape en voetgangers op dieselfde pad toelaat, sou dit chaos skep, en dan het hulle hulle plig versuim.)
    Groete,
    Angus

  • Wat was die taalkommissie se kommentaar oor 'lik'.
    Die Afrikaanse Taalkommissie
    7 Desember 2014
    Oor "huidiglik":
    Lees 'n bietjie die rubriek wat hierby aangeheg is, veral die paragraaf oor
    "huidiglik". Die skrywe is bykans 10 jaar oud - wat natuurlik beteken dat die
    ultimatum waarvoor die berigskrywer die TK destyds geplaas het, nou besig
    is om sy vervaldatum te bereik. Tyd om standpunt in te neem.
    Hier is uittreksels uit normeringsbronne oor die woord:
    Die gebruik van "*huidiglik" ipv "nou", "tans" word nog steeds deur die
    Taalkommissie afgekeur. Dit lyk asof die gebruik daarvan aan die verminder
    is in openbare toesprake, maar dit het lank nog nie gesneuwel voor die
    ekonomiese alternatiewe nie.
    Afrikaans op sy beste (Prinsloo en Odendal):
    In sy gewone gebruik is "huidig(e)" 'n byvoeglike naamwoord. Onder talle
    taalgebruikers het die neiging ontwikkel om "huidig" of alleen of met die
    agtervoegsel "-lik" as bywoord (van tyd) in sinne te gebruik in plaas van die
    meer aanvaarbare sinonieme "nou", "tans", "deesdae", "teenswoordig".
    Norme vir Afrikaans (Carstens):
    Johan Combrink skryf in 1995 in einste "Taalskatkis" dat "huidiglik" eintlik 'n
    amptenaraanse weergawe van die Engelse vorm "presently" is. Hy
    verduidelik dan dat die agtervoegsel "-lik" gewoonlik saam met 'n bestaande
    stam gebruik word om predikatiewe byvoeglike naamwoorde te vorm
    (voorbeelde is "jammerlik", "goediglik" en "waarlik"). Aangesien ons nie in
    Afrikaans "huidig" het nie, maar slegs "huidige", is "huidig" + "lik" nie 'n
    natuurlike Afrikaanse skepping nie, maar 'n geforseerde oorklanking van die
    Engelse "presently".
    Die HAT het die woord opgeneem (onthou dat die HAT 'n verklarende bron is
    wat ten doel het om gebruikers te help om dit wat hulle teëkom te verstaan
    en nie noodwendig normeringsoordele maak nie), maar die woordeboek
    maan ook dat dit eintlik 'n niestandaardvorm is.
    Dit is alles waar. Maar die ongenaakbare werklikheid is dat die woord
    bestaan, al mag hy nie, en dat mense dit gebruik, al moet hulle nie. (166
    trefslae net in Beeld se argief. En Prinsloo en Odendal het baie duidelik nie
    deur etlike preke en prysuitdelings per jaar gesit waar die woord steeds in
    elke derde sin opduik nie.)
    Hoe maak die TK nou? Bly dit 'n "verbode" woord wat nie opgeneem word
    nie omdat individue op die Kommissie (lees: Sophia) dink dis 'n taalgogga, of
    erken die TK die woord omdat dit nie net in Standaardafrikaans (geskrewe
    en gesproke) gevestig geraak het nie, maar gedy?

  • Beste FC Boot,
    Dankie vir jou inligting; jammer dat dit nou Jan Rap die moeite spaar om dieper te dink oor Afrikaans.

    Ek het, nou al ook jare gelede, juis met Johan Combrink oor dieselfde woord en ook ander woorde in Afrikaans gesels. 'Huidig' is 'n probleemwoord, want dit word net attributief gebruik. (Huidige omstandighede.) Hoe maak 'n mens nou met die predikatiewe vorm? Engels het die woord 'presently'. In Afrikaans maak 'n boer maar 'n plan en siedaar! 'Omstandighede is huidiglik maar beroerd.'

    Ek weet, taalpuriste sal sê gebruik die woord 'tans' ens.

    As my vrou se melktert 'n bietjie uitmekaar val, dan sê ons: "Eet hom reg." Deur herhaalde gebruik in Afrikaans, praat ons hom reg. (Hier moet ek vinnig vir Jan verduidelik: ek is nie 'n voorstander daarvan nie, ek beskryf net wat werklik in die taal gebeur. Ek hou van melktert wat mooi geset het.) Dis hoe 'n taal sy woordeskat genereer. (Chomsky is my leermeester.)

    Daar is hope woorde wat so reggepraat word in enige taal. Dink maar aan 'onguur' en 'ons'. Woorde ondergaan ook soms veredeling soos bv 'bres' (vir iemand in die bres tree).

    Groete,
    Angus

  • Huidig -- huidiglik: 'n verdere verduideliking.
    Die agtervoegsel -lik maak dit moontlik vir 'huidig' om sintakties in te pas in die predikaat of die werkwoordstuk, waar dit dan 'n bywoordelike funksie (van tyd) het.
    [Omstandighede] = naamwoordstuk (NS) [is huidiglik maar beroerd] = werkwoordstuk (WS)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top