Woede

  • 0

12 Junie

Amice

Die begin van die beloofde verhaal stuur ek nou vir jou. Hoe verder, dit weet ek nog nie. Oor die geskiedenis rondom die storie sal ek jou in briewe inlig.

Hoewel die opgekleide mure van die plaashuis op Vadersgawe vier geslagte lank al staande bly teen die strafste winde en die hardste stortreëns, het die lang waenhuis vlak langs die ouhuis verval tot byna ’n ruïne. Wind en weer het lappe pleister van die dik mure laat loskom, later het dit afgereën of afgewaai; die strooi en die klippe in die opgekleide lae was toe onbeskut teen die seisoene en die rysmiere. Die geute het teen die mure af in bruin strepe gelek, later het die roesgate groter en groter geword, tot die sink van die houtstroke af losgekom en skeef begin hang het. Selfs die waenhuisdeur se sinkplate het begin roes en skeef gesak, die dwars sluityster het nie meer oor die kromming van die slothaak gepas nie. As die wind snags hard waai, het die deure krakend en piepend oop- en toegegaan, asof onsigbare kuiergaste uit ? vervloë tyd in die lig van die volmaan hul perdekar daar instoot. In die wind was die perde se ongedurigheid en die geknars van die wiele op gruis ver weg hoorbaar. In die gebou, bo van die ronde balke af – dun populierstamme waarop die riete en die kleilaag van die brandsolder eens gerus het - tot in die diep lae rommel op die vloer, was daar net stof en spinnerakke waar vroeër gevlegte swepe en blink tuie teen die mure gehang het. Agter die plafonriete was die maanlig van binne af sigbaar deur die gate in die blink plate van die sinkdak.

Soms het ek my gelê en verbeel ek hoor die geluide van die jaarlikse basaar of van ’n begrafnis, die stemme van boere langs die rivier wat daar bymekaargekom het om waterverdelings uit te pluis, of die reëls van die rivier te bevestig teenoor ’n nuwe intrekker.

Soms het ek my verbeel ek hoor vrouestemme in die klein woonstelletjie aan die rivier se kant (slaapkamer, eetkamer, sitkamer en kombuis) wat een van die eerste eienaars jare gelede, toe hy getroud is, daar laat verbou het vir sy suster. Die wind het snags stemme nageboots, stemme en gelag. Maar meestal kon ’n mens die stilte hoor in die waenhuis se beskermende ruimtes tussen die ouhuis en die plaasgewoel.

En soms het iewers vandaan – van doer ver onder uit die populierbos of deur krake in die stukkende houtdeure – ’n knaende gekerm gekom, soos van 'n viool, soos van ’n lang klag. Dan het die voëls in hul neste aan die doringtakke geswaai, geswaai en geswyg.

Verder is daar voorlopig nog niks.

Uit julle koerant- en televisieberigte ken jy al die verhale van wetteloosheid en geweld hier ter lande, die moorde, die inbrake, kapings, die verkragtings, korrupsie in die hoogste regeringskringe, politieke leiers se minagting van die onafhanklike regspleging, die inmekaarstort van infrastrukture. Selfs die makabere bly ons nie meer gespaar nie. Al die koerante berig vanoggend oor die eensame man in Gauteng wat na ’n hartaanval, en omdat die deure en vensters van sy huis almal vanweë sy vrees dig toe was, deur sy eie huisdiere opgevreet is.

Wanhoop is ’n verlate, troostelose geluid waarna niemand kan bekostig om lank te luister nie. Hoe groot ís die uittog al van diegene wat nie meer glo dat die verval net tydelik is nie? Ek sien selfs Van Dale se voorbeeld van hoe die woord verval by julle gebruik word, klink soos ’n waarskuwing: “zo zagen die mannen dan het verval van de Republiek wel, maar hielden het voor een voorbijgaande inzinking. (Geyl)”

 

19 Junie

Wat ek eers gedink het tamheid was, ’n soort tam terneergedruktheid oor die daaglikse aftakeling wat niemand kan miskyk nie (tot van medemenslikheid en mededoë, ja – en nie net in ander nie, nee, ook in myself): mense sterf in onbeskryflike wreedheid, dienste verbrokkel, en dit hou áán en áán - daardie tamheid het in die laaste tyd sy regte gesig gewys en ek het daar geen raad mee nie. Ek was nie vir iemand of oor iets kwaad nie; elke sug het eggo’s van ánder se gille, elke sterk emosie ’n horde redes en konsekwensies – niemand van ons is al vry van die roemlose verlede van magsmisbruik en diefstal en moorde wat ter wille van ons “veiligheid” gepleeg is nie. Maar as ek alleen in die bakkie was op pad iewers heen, kon ek myself nie meer bedrieg nie. Die gevaar van mag en eiebelang wat geen goed of kwaad, reg of verkeerd, ja, selfs wettig en onwettig erken nie, is nie meer mis te kyk nie.

Ek ken my jammer hart én my hulpeloosheid by lyding. Ek ken die suur smaak van later oor ek die brutaliteit van mag en misbruik nooit verstaan het nie. Uit iewers diep in my, uit die buurt van daardie eerste week medelye en verdwaasde onbegrip, het in die laaste tyd ’n redelose drif gekom wat my onverdraagsaam maak en magteloos.

Het dit begin by die ruïne langs Vadersgawe se ouhuis? Nee, die ruïne het voor my oë gegroei. Ek dink dit het op ’n middag begin met Colas (my prokureursvriend, jy het hom al ontmoet) se onskuldige vraag: “Hoekom doen jy nie iets aan daardie gebou nie? Voor die plek op julle inmekaarval?” Omdat dit my gedwing het om die verval raak te sien?

Dat Ouboeta, Karlien en ons klein Danie oor ’n maand België toe emigreer, het ons van die begin af geweet. En tog. Dit gebeur nie meer net in ander gesinne nie.

 

28 Junie

Die datum, 1798, wat in reliëf op Vadersgawe se gewel staan, is nooit sonder skaduwees nie, want die son trek van oos na wes oor die nok van die gewel. Die eerste eienaar was ’n Du Toit: Gerhardus Johannes du Toit. Aan hom is die eerste wetlike bewys van besit gegee. Sy kleinseun het die ouhuis laat bou. Maar wie het dit voor 1798 besit? Khoistamme wat hier deurgetrek het, nomade op soek na water en weiding vir mens en dier. Toe kom die seilskepe van oor die see met die mense met sulke snaakse broeke en witterige velle. Voor hulle gekom het, was besit iets tydeliks, ’n nag se oorstaan met die diere, ’n week, miskien ’n somer, of so lank as wat die gawes van die winterveld gehou het. Met hulle koms het die weiveld eiendom geword, daar is gesaai en geoes, winste en verliese gemaak, die vrug van die seisoene het beskikbaar geraak vir geslagte lank.

En swendelary met mag in die naam van God en roeping en beskawing het daarvoor gesorg dat daar ook geslagte lank diegene was wat geploeg en gesaai het sonder om ooit te mog besit.

Is dit my opvoeding wat my lewe lank in my oor fluister: "Besit beteken geleen"? Geleen met ’n Opdrag en ’n Waarskuwing. Rooikappie, vat vir Ouma die mandjie met die koek en wyn, maar pasop vir die gevaar langs die pad, die wolf wat jou kan laat vergeet wat jou opdrag was en waarheen jy op pad was.

Waarheen lei Vadersgawe? Wat was die opdrag? Dié grond is nooit met wette of bevele van iemand afgevat nie. Dit sou besluite vergemaklik het. Maar Vadersgawe is aangelê waar eers net spoelgrond langs ’n rivier was en Karoobossies tot aan die limiete. Volgens oorlewering, en te oordeel aan die breë kleimure, is die ouhuis gebou óm die twee kamers en kombuis van ’n hartbeeshuisie wat die eerste Du Toit vir sy vrou gebou het. In die familiekerkhof en net daarbuite, geskei deur ’n ringmuur, lê die eerste geslagte wat hierdie plaas gemaak het: die Du Toits, later die De Genestets en die De Witts; buite die muur: die Windvoegels en die Blouws.

Dit is dié plaas wat ek geërf het in die Klein Karoo. Verval só naby aan die ouhuis het my, wat die erfenis moes bewaar ná broer Josua se dood, waarskynlik die eerste begunstigde gemaak wat oorweeg het om van Vadersgawe ontslae te raak. Daar is nêrens naby die opstal en die werf ’n berg of ’n diep ravyn nie; die Kleinswartberg met sy skeure en kranse is immer ’n veraf, beskermende aanwesigheid op die grens van die hele Klein Karoo. Van waar dan die gevoel van onvastigheid, van ’n onstuitbare, bodemlose val, van ’n suigwind uit ’n afgrond?

Cry, the beloved country.

 

11 Julie

Ek het na aanleiding van ’n advertensie vir ’n Lister-kragopwekker in die Landbouweekblad een gaan koop by ’n boer in Hanover se distrik in die Groot Karoo. Kragonderbrekings kom nou hier te dikwels voor; ons moet self voorsiening maak. Dit het laat geword, ek het nog sake op Beaufort en oornag nou hier. Vanmiddag het ek in die apteek ’n skoolskryfboek gekoop; dis waarin ek hier in my hotelkamer opteken wat ek vir jou wil vertel. Nie net vir jou nie, vir myself ook. Ek het nog maar min – en ek het al baie gereis - ’n groter vreemdeling gevoel as hierdie afgelope dag of twee, drie. Op baie dorpe in die Groot Karoo was daar nog altyd ’n fyn balans tussen verval wat omheen op die loer lê met son, stof, hitte, droogte - en daarteenoor opbou, herstel, skoonmaak wat met troffel, sement, graaf en verfkwas sterk moet staan teen die elemente. Karoo beteken droogte. Ek het onderweg Hanover toe en terug deur hoofstrate gery met een, miskien twee geboue waar die dakke en ruite almal heel is. Strate met gehawende woonhuise, winkels en kantore tussen opgestapelde afval, krake in die mure, ’n stoep waarvan stutpale gebreek het en flarde sinkplate wat skuins hang oor stukke broekieskant. Moenie die water drink nie, waarsku kennisgewings by krane. Daar word vertel van ’n dorp waar met die laaste reën die drinkwater vol drolle deur die begraafplaas gespoel het. Die hardste kors van fatsoen is teen hierdie skimmel van ontbinding nie bestand nie. Dié wat het, spandeer hier nie meer nie; dié wat nie het nie, teer op dit wat oorbly. As die swaar vragmotors wat soms deur die dorpe ry, verby is, is wind en stof al wat iewers heen beweeg.

Karoomense is die koue gewoond, maar daar is so min op straat: daar is dié wat uit ’n motor of ’n bakkie klim, iets gaan koop by ’n winkel of ’n slaghuis, ’n paar drinkers op die sypaadjie voor die kroeg, die prokureur wat in sy motor klim nadat hy met ’n boer langs sy bakkie gestaan en praat het, ’n paar kinders wat verveeld rondsit omdat dit skoolvakansie is. So lyk dit in al die dorpe. Daar is min mense oor. Waarheen is hulle almal? Wit en bruin? Dis nie net van plase af wat mense wegtrek nie.

Ek ken die Karoo anders: ’n mens ry met die verlate paaie deur die wye, troostelose landskap van klippe en hitte en hoë wolke, en die dorpe was skielike, onverwagte plekke van wéér by mekaar uitkom, dagsê, gegroet, hoe gaan dit? langs warm, kokende motors by die welkome kleure van vulstasies, hier en daar somers tussen die lustelose bome langs die warm stofstrate, ’n verkoelde kantoorgebou, hotel-restaurant of apteek; winters, reisigers met wolkrae wat handewringend soek na iets om te eet, iewers om ’n woord te wissel met iemand. Welkom, reisiger, neem iets van ons met jou saam, al kan jy net onthou nog oplaai, kom weer.

Nou staan die geboue en die huise met toe vensters langs te breë, vuil strate; by die vulstasies roep die vragmotorbestuurders na die pompjoggies; tuine en parke lê vaal tussen platgetrapte heiningdrade en half-oop hekke. Systrate lei na verlate stasiegeboue toe en treinspore waaroor die gras groei. Alle gevoel van tuis wees het verhuis na ’n yl paar nuwe rusplekke langs die lang paaie, na sementtafels en banke en oorvol vulliskonkas toe, rusplekke, nuwe stilhouplekke miskien selfs onder ’n peperboom. Maar wees versigtig, nie alle reisigers kan vertrou word nie – verlede maand is hier ’n ou man een nag vermoor.

Volgende oggend: Moedverloor se vlakte – dis waar ek gisteraand was. Hoeveel ander ook net al op hierdie dorp? Maar toe, met die wegdommel in die slaap in, het ek my pa duidelik hoor sê: “Man, verdomp dan nou!” Sy ou sêding as hy genoeg had van iets waaraan hy niks verder kon doen nie. Die soort sêgoed waarvoor ons hom onthou. Ek weet, ek weet. Daar is ook ander paaie, ander dorpe. ’n Ander Karoo. Nee, juis nie net in die verlede nie.

Is dit oor al die dinge wat tot niet gaan, of is dit vir my eie magteloosheid wat my driftig en onverdraagsaam maak? Iewers in my is daar iets wat weier om saam met hierdie land in sy moer te gaan.

Vadersgawe se werf sal ek in stand hou.

 

25 Julie

Ek het die agtermiddag met die Lister teruggekom en die volgende oggend, nadat ek die masjien ingemessel, vasgebout en ’n slag aan die brand getrek het, het ek dorp toe gery en sement gaan bestel, en riviersand, twee vragte sand en kalk en sout. By die slaghuis in die hoofstraat het ek gevra hulle moet vir my ’n paar kilogram vet bymekaargooi om die buitemure se kalk teen die reën te beskerm. Nadat ek daar weg is, het Koos Slagter vir Henna gebel en gevra waarvoor ek soveel vet benodig. Sy ken die resep, sy’t geraai dis vir die waenhuis. Van toe af gee die hele familie en die personeel raad.

Maar eintlik wou ek vir jou vertel van ’n brief wat ek ontvang het van ene Nelis Cloete. Ek het hom nog net by vee-vendusies ontmoet, hy is by elke kraal waar daar ’n veiling is, meestal seker net uit belangstelling, want ek het hom nog nie gehoor bie nie. Nelis vertel van ’n merkwaardige huis aan die vlaktekant van hulle dorp wat hy vir hom en sy vrou gekoop het, ’n groot Karoohuis met drie luggate bokant die brandsolder, binneluike voor die vensters en ’n groot, swaar houtvoordeur. Verwaarloos, byna al uitmekaar aan die val.

Hy was van beroep ’n geskiedenisonderwyser; regstellende aksie het hom ’n pakket laat aanvaar. Toe het hy en sy vrou deur die hele land gery, oral uitgevra en oorgeslaap en uiteindelik eendag besluit dié Karoodorp het baie moontlikhede, dis waar hulle graag sou wou woon. Almal op die dorp het gedink dié twee is bietjie oorywerig toe hy en Martha ’n kunsgalerytjie (wat ook boeke verkoop) in die hoofstraat oopmaak. Nelis het iets van die toerismemark geweet, sy broer het in ’n toerismeskool by een van die Technikons klas gegee. Die galery is in die gerestoureerde plaashuis van die eiendom waarop die dorp jare gelede ontstaan het. Die rekenaar waarop hy vir my sit en skryf het, het sy vrou toe al van die galery se inkomste gekoop.

Maar oor die Karoohuis teen die koppie. Dit was toe al goedkoop van al die verwaarlosing. Iewers vandaan het hulle die geld gekry vir die deposito. Om nou polities dwars te praat (skryf hy), want hy ken nie my oortuigings nie: jare gelede was dit glo dié huis op die dorp, gebou deur ’n ryk en gesiene sakeman met vriende en invloed oral. Wie op die dorp skoolhoof geword het, wie die predikant was, wie magistraat en stasiemeester sou word, aan wie dié of daardie tender toegeken is, wie uitgenooi is om dié of daardie belangrike toespraak te maak, is dáár besluit. Nou en dan het daar ’n minister se motor onder die peperbome gestaan. Nadat daar opstande in die destydse lokasie uitgebreek het oor die gebrek aan lopende water en riolering, was dit die plek waar die polisie koffie gekry het as hulle laat in die nag moeg in die dorp terugkom. Party mense beweer hul opdragte oor wat om die volgende dag te doen “as die mense nog nie na rede wou luister nie”, het ook daarvandaan gekom.

Die eienaar is later oorlede, sy vrou kon na ’n ruk die alleenheid nie meer verdra nie – die “vriende” het nie meer so dikwels kom kuier nie, die minister het net een maal ’n kaartjie van deelname met “ons almal se groot verlies” laat stuur - sy het weggetrek en die plek in die hande van die dorpsprokureur gelaat om te verkoop.

Daar het die agteruitgang begin. Die prokureur was nie ’n gesonde mens nie, hy het die laaste jare van sy lewe net soggens gewerk. Die aanvanklike opdragte vir wat die huis moes word, ’n dorpsmuseum, het hulle na sy oorlye tussen sy dokumente gekry. Die tyd vir dié soort dorpsmuseum wat die gesin in gedagte sou gehad het, was verby. Vir ’n ruk was daar niemand in die plek om die verval teë te hou nie. Behalwe glo ’n “spook”. Nou ja. Die eerste nuwe bewoners was dan ook nuwe intrekkers op die dorp, maar dis hulle wat sommer sonder om te betaal een nag pad gegee het. Die twee bruin families is ook gou, kort na mekaar, weer daar weg. Daarna was daar nou en dan swerwers wat een nag selfs vuur probeer maak het op die vloer in die groot woonkamer.

By die motor – het hy al vertel? ’n ’37 Chevvie wat in die vervalle ou waenhuis gestaan het – het niemand ooit uitgekom nie; die deur se groot ou slot was in een stuk verroes.

Ná die laaste mense weg was, het die eerste dassies toe ingetrek. Dis hoekom hy so jammer is ek het deurgery deur sy dorp sonder om aan te kom. Hy bedoel nou maar oor ek dié wêreld mos seker goed ken. Hulle was – om dit maar so te sê - die eerste mense wat toe weer by die dassies oorgeneem het.

Maar daardie huis, daardie garage, daardie motor was (verskoon sy taal, vra hy) tóé onder lae en lae en lae van tien, elf jaar se dassiedrolle en dassiepis. Die gang was vol, die sitkamer, die eetkamer, kombuis, al die slaapkamers, ’n spens langs die kombuis (mure met mooi houtpanele borshoogte gelambriseer), tot die stoep voor die huis ook, hoewel net die helfte daarvan eintlik behou gebly het, die res was al weggereën. As hy saans by sy huis terugkom, het hy eers buite in die tuin net in sy onderbroek gaan staan en hom met Lifebuoy gewas nadat Martha hom help afspuit het, dan nóg moes hy laventelgoed aanspuit voor hy by die etenstafel kon gaan aansit.

“Maar nou iets anders. Ek het die voorste slaapkamer links van die voordeur die eerste skoon gehad. Toe ’n stuk van die gang. Op aanbeveling van ’n vrou wat by Martha in die galery werk, het ek haar buurman en sy broer gehuur om te help. Toe het ons begin vloere afskuur en weer blink maak, later stadig die een vertrek na die ander uitgeverf. Terwyl hulle vir my die stories van die hele dorp en sy distrik vertel, so lank terug as wat hulle kon onthou. Tot van die spook ook, al was dit net maar kort en kursories. ‘Daardie soort witmense, meneer, nee wag, laat ’n mens maar liewerster stilbly. Dis oor en dis verby; maar waar wil so ’n ou mens ook rus kry?'

“Een nag het ek uit die bloute begin droom ek was in ’n donker, stink grot vol vlermuise. Jakkalse het die ganse tyd buite gehuil en diere het deur die dorpe gedwaal. Die reuk van die dassies was ondraaglik. Tog was ek bewus van elke beweging wat ek maak, my hele lyf, elke spier het gepyn. Iewers was daar ’n gerug van ’n groot oorstroming en water en ek moes sandsakke pak teen mure wat aan die inmekaarstort was. ’n Hele paar nagte het die droom teruggekom. Ek het my helpers om verskoning gevra dat ek so kortgebaker was bedags.

“Wanneer die drome begin verander het, weet ek nie. Maar die eerstes van die nuwes was almal van reën, reën hier in die Karoo, oral, in die veld, tussen koppies waar ek dwaal, een nag het ek selfs met die teerpad langs gestap in die reën. Soms het ek iewers gesweef oor baie lusernlande en oor stukke weiveld. Oral was daar ’n stowwerige reuk tussen die skerp geure van nat grond en bossies: boegoe, heuningbos. As ek wakker geword het in die nag, het ek stil bly lê, asof ek veilig was in ’n ark, en weer aan die slaap geraak. Saans as Martha my in die tuin afspuit, kon ek die verbleikblomme in die heining weer ruik. Dit was asof ek na ’n lang tog oor ’n leë, verswelgde land iewers aangekom het, iewers op ’n plek aangekom het wat soos ek is. Iewers wat in my is. Ek probeer dit alles nog uitpluis.

“Ns. As u iewers die sitplekke van ’n ’37 Chevvie raakloop, laat my weet. Die duco was dassiebestand, maar nie die sitplekke voor en agter nie.”

 

26 Julie

In die ouhuis is daar genoeg meubels wat ons deur die jare gekoop het by vendusies van omringende plase. Op die vloer sal ’n mat van die vrouens van Rorke's Drift mooi lyk, sê my vrou. Ouma Malie se kombuiskas kom in die spens.

En die ovaalraam wat Sara gestuur het met haar en Petyn se seun saam wat in Boys' High in die Paarl onderwyser is. Sy het ook al gehoor die waenhuis word reggemaak. Petyn was sy lewe lank so geheg aan die foto, van sy sterfbed af kon hy nog daarna kyk. Die laaste vakansie wat ons almal saam op Vadersgawe was. Hoe kon ons weet? Vader en Mutti, Sara en Petyn, ek en broer en sus. Die Vadersgawe van my jeug. Miskien is daar darem ’n plekkie vir hulle ook? het Sara gevra. Of iemand sy ma die laaste dag van volgende maand kon bring dat sy dit self, met haar eie hande kan ophang? het ek voorgestel. Dis afgespreek en ek het gedink: die datum het Petyn jou wragtag ook reggekry om uit sy graf uit te reël! (Maak tog net klaar! Die skoolmeester sal nie vir jou wag nie! Ek gaan nie weer met die plaas se bakkie jaag nie. Ja, Petyn, ja ...)

 

17 Augustus

Ons het die waenhuisdeur uitgebreek en die boonste driehoek opgekleide muur met ’n wilger-dwarspaal teen instorting versterk. En elke dag wonder ons, gaan die kleimuur hou? Die vensters en die deure is groot. Eers met die inbreek van die damkant s’n sien ons hoe groot die klippe is wat daardie jare se bouers in die klei ingepak het.

Wéér met klippe, reken die bou-opsigter toe ek hom vra hoe ons die stukke muur wat al verkrummel het, gaan opbou. Dis ’n sterker storie hierdie klei en klippe en strooihalms as wat die hol stukke rofkas mens laat dink, meester, sê hy. Die oumense was maar bôkkers, nes ons, maar party was slim bôkkers.

Hy is een van daardie mengsels van baie bravado en 'n baie klein hartjie wat 'n mens soms hier onder die boerebevolking kry. Ek hoor Vadersgawe se manne wat om die beurt die lusernsaad dors en help bou, noem hom Oupie! - iets tussen Oubaas en Oompie. Hulle het hom in die sak, maar as hy naby is, is hulle so sedig soos brode.

Met hom is verhale dinge wat regtig gebeur. Hy was al alles: matroos, garage-eienaar, boer, visser, slagter, bouer. Op see was hy en 'n doofstom Herero uit Namibië baie groot maats. Dan lê hulle saans op die boot in die donker en hulle gesels, die Herero het hom met een hand aan die keel beet, sodat hy met sy vingers kan "hoor" wat Oupie sê; Oupie weer is die enigste op die water wat die dowe se binnensmondse pratery agter uit sy keel uit kan verstaan. Maar oor die stemme wat iedere nag tot wie weet hoe laat uit die donker uit kom, dink die ander vissers toe die twee is besig met 'n soort geestesoproepery. “Ons is byna versuip van dié gepratery in die donker," sê Oupie. “Vriendskap was daardie jare lelik gevaarlik!”

Partymaal, onverwags, asof dit iewers in hom oorkook, vra hy vir my: “Waarnatoe reken meester is die mense op pad met ons? Kyk net hoe lyk die wêreld. Bo in Zim is nóg plase afgevat.” Dan sê ek, nee, dit weet ek ook nie, en ek maak maar ’n grap: solank Vadersgawe nog in die familie is, moet ons so goed moontlik bou; die weerburo voorspel reën.

Soms as ek ons so bekyk (buite wit hulle nou ook al die mure af, die vet is uitgekook in die ongebluste kalk), dink ek: ons ken almal hierdie land, ons weet hoe voel verbrokkeling, ons weet wat wind en weer aan wonings doen, ons leef almal saam met die verkragtings en verminkings en moorde waarvan die koerante by julle ook skryf (die plaasmoord op Hannes en sy vrou was skaars vyftien kilometer hiervandaan), ons kén die weeïge reuk van bloed, ons ken die stilte van rysmiere wat stadig sterk mure laat verkrummel, ons weet van die leegte wat groei op plase wat onbewerk lê en vergaan.

Moenie vra hoekom ons dit doen en vir hoe lank en vir wie nie. Daaraan dink ons ook nie. Dis winter, die dae is koud en kort tussen stukke nag waarin alles begin en eindig. Ons bou saam aan die paar vertrekke met breë mure en groot vensters. Jare gelede het Vadersgawe so begin. Daar kom tye waarin bou al is wat oorbly.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top