WJ Henderson se meesterlike vertalings van Latynse gedigte

  • 6

Viva Camena
WJ Henderson
Naledi
SKU: 9781776172511

Koop die boek by Graffiti

Ovidius se oeuvre is groot in omvang en kwaliteit. Hy het op 18 jaar oud met sy digkuns begin en geëindig toe hy 60 was. Tussen 25 vC en 1 nC verskyn Amores (“Liefdesgedigte”, 49 gedigte in drie boeke oor die liefde); Heroïdus (“Heldinne”, 15 briewe van heldinne aan hulle mans of minnaars en ses antwoorde aan laasgenoemde – dit is ’n nuwe genre, met narratief en uitbeelding van die vroulike psige); Ars Amatoria (“Die kuns van die liefde”, drie boeke oor tegnieke en plekke om die teenoorgestelde geslag te betrek, Boeke 1–2 vir mans en Boek 3 vir vroue) en Remedia Amoris (“Teenmiddel vir die liefde”). Dit is alles volgens elegiese versmaat.

Van 1 tot 8 nC werk Ovidius aan sy epiese Metamorphoses (“Gedaantewisselinge”, 15 boeke oor ongeveer 250 mitologiese figure wat verandering van vorm ondergaan het, in die paslike epiese sesvoetige heksametermaat). Verder verskyn die Fasti (“Feesdae”, ses boeke oor die Romeinse kalender en feesdae in Januarie tot Junie, in elegiese maat – dit is egter nie voltooi nie).

Net Catullus onder die Latynse digters voor hom het so persoonlik, outobiografies gedig, en nie met so ’n omvang nie. Sy lyding was vreeslik as ’n mens dit vergelyk met sy lewe en sukses in Rome voor hy in November 8 nC deur Augustus na Tomi (of Tomis) aan die noordweskus van die Swartsee verban is. Tegnies was hy nie ’n “balling” (exul) nie, maar “verplaas” of “ingeperk” (relegatus deur relegatio), wat die behoud van sy eiendom en siviele regte behels het, maar hom tot ’n bepaalde gebied beperk het. Ovidius verskaf nooit die redes vir sy straf nie. Hy noem wel ’n “gedig” (carmen) en ’n “fout” of “dwaling” (error). Hy vermoed die gedig is die een wat as onwelvoeglik beskou is en dus ontug en egbreek aangemoedig het. Oor die error moet hy egter swyg om nie weer die keiser se wonde oop te krap nie (Tristia 2.207–24).

Ovidius skryf meermale oor die error waaroor hy die swye moet bewaar. Hy het iets gesien wat hy nie moes sien nie en dit probeer wegsteek; dit was toevallig en hy wou geen voordeel daaruit put nie. Hy was egter nie heeltemal onskuldig nie; hy was dwaas en bitter spyt. Maar ons almal weet: Spyt is ’n goeie ding, maar dit kom altyd te laat. Hy wou nie daaroor praat nie. Ovidius pleit om versagting van sy afsondering en hoop die keiser se hart versag (Tristia 2.103–4; 3.6.29–36; 4.10.99–100; 5.11.11–2; Epistolae ex Ponto 3.3.73–6). 

Die betrokke digbundel was die Ars Amatoria, wat sedert sy verskyning gewild en invloedryk geword het. Augustus het dit verbied en uit biblioteke laat verwyder, juis vanweë die didaktiese aard daarvan. In dié tyd was Augustus besig om die Romeinse moraliteit te hervorm. Met Augustus se afsterwe in 14 nC het sy opvolger Tiberius die beleid gehandhaaf en Ovidius nie na Rome teruggeroep nie.

’n Voorbeeld van só ’n gedig kom in Ovidius se Ars Amatoria 1, reëls 93–100 voor:

Soos ’n mier in druk verkeer steeds op en af loop
  en tussen alles deur die daaglikse kosvoorraad bespied;
soos bye in ’n bos swerm en in ’n weiland
  neerstryk en sorgsaam die blomkelke streel, só
haas menige sjarmante vroue hulle na die Spele,
  die talle skoonhede het my keuse alte dikwels vertraag.
Kom, kom kyk of hulle nie in jou oogveld verskyn nie:
  Vir gewaande kuisheid is daar nie juis plek nie!

Uitgesluit uit die ryk, kulturele lewe in Rome en verlate in ’n koue en onvriendelike omgewing, het Ovidius in sy Tristia (“Verdrietige berigte”, in vyf boeke) en Epistolae ex Ponto (“Briewe uit die Swartsee”, in twee boeke) gedigte soos reddingsboeie aan familielede, vriende, vyande en ook aan Augustus uitgegooi en sy lewensomstandighede beklae. As daar net een oor was wat sy hulpkrete kon hoor en verstaan. 

“Tristia” is ’n onsydige meervoudsvorm van die byvoeglike naamwoord wat “hartseer” of “treurig” beteken en handel oor Ovidius se treursange in en oor sy ballingskap in Tomis. Die persone aan wie hy sy Tristia-gedigte stuur, bly anoniem om hulle te beskerm. Hy het egter keiser Augustus met sy titel “Caesar” aangespreek. Hiermee wou hy respek betoon. In sy Epistolae ex Ponto word die ontvangers wel by die naam genoem. Hy het dit seker gedoen omdat dit duidelik was dat Augustus of Tiberius nie verdere stappe sou neem nie. Die metrum is elegies en die toonaard dié van treur, klagte, troos en weeklaag. In  Ibis loods hy vir oulaas ’n aanval op ’n onbekende vyand. Ovidius het nooit weer na Rome teruggekeer nie. 

Ovidius se poësie getuig van ’n hoë vlak van tegniese vaardigheid en vindingrykheid. Hy beweeg met oënskynlike gemak tussen outobiografie, liefdespoësie, geskiedenis en mitologie. Sy gebruik van die mitologiese exempla is des te meer verbysterend omdat hy gedurende sy ballingskap in die vreemde geen toegang tot biblioteke, ander digters of vriende gehad het nie. Hy het hoogstens ’n beperkte aantal boeke saam met hom geneem. Sy ryk verbeelding, verstommende taalgebruik en die uitbeelding van dramatiese patos en menslike emosie het tematiese vernuwing en die gebruik van vorm (byvoorbeeld die epiese verse vir Metamorphoses) en elegiese verse bewerk. Hy skryf sy Ars Amatoria in die sogenaamde “distigon”, ’n tweereëlige kombinasie van heksameter en pentameter, oftewel van ’n sesvoetige en ’n vyfvoetige daktiliese vers. Die kombinasie van heksameter en pentameter vorm ’n kragtige afgeronde geheel (Grové 1992:297–9). Ovidius gebruik die heksameter as metrum in sy Metamorphoses. Hy praat ook van “my Muse op ongelyke wawiele” (imparibus rotis). Dit is ’n beskeie manier om te beskryf dat sy wapens meer krag het as dié van sy sogenaamde voorgangers (Henderson 2022:269–70). 

Dit is merkwaardig hoe Dante (25 Mei 1265–14 September 1321) tussen 1304 en 1320 onder byna dieselfde omstandighede (ballingskap) as dié van Ovidius sy manjifieke La Divina Commedia geskep het. Die een groot verskil is net dat Dante se terugkeer na Florence vir hom die doodsvonnis sou beteken. Die terza rima-rymskema is Dante se vinding. Hierdie rymskema is ’n vorm van kettingrym in die formaat: A-B-A, B-C-B, C-D-C, ensovoorts. Om die rymskema vir 100 canti aan te wend, is ’n ongekende literêre prestasie. Beeldspraak, vergelykings en literêre strategieë kom op talle plekke voor (canto XXIV). Dante benut ook die mitologie. Hiervan is die mitologiese monster Geryon ’n voorbeeld (canto XVII). Contrapasso-straf (“gepaste vergelding”) kom dikwels by Dante voor (canto III, 55).

Ovidius skryf: “laeta fere laetus cecini, cano tristia tristis.” Die vertaling lui soos volg: “As byna gelukkige (mens) het ek oor blye dinge gesing/gedig, nou sing ek oor hartseer dinge as (iemand wat) hartseer (is)” (Epistolae ex Ponto 3.9.35). In die jaar 17 nC het Ovidius in Tomis gesterf.

..........
Uit Ovidius se omvangryke oeuvre het Henderson korter gedigte van Ovidius tydens sy ballingskap gekies, veral in die lig van NP van Wyk Louw se digbundel met die titel Tristia. Van Wyk Louw se bundeltitel stel via Ovidius die Romeinse elegiese tradisie as ’n literêre eenheid aan die orde.
..............

Uit Ovidius se omvangryke oeuvre het Henderson korter gedigte van Ovidius tydens sy ballingskap gekies, veral in die lig van NP van Wyk Louw se digbundel met die titel Tristia. Van Wyk Louw se bundeltitel stel via Ovidius die Romeinse elegiese tradisie as ’n literêre eenheid aan die orde. Die intertekstuele gesprek met Ovidius se Tristia behoort tot die intrakulturele dialoog (Pretorius 2006:188). Die elegiese toonaard van Louw se bundel, asook die deurlopende liefdesmotief, sluit sterk by die tradisie van die Romeinse liefdeselegie aan. Motiewe wat smartlik afloop, kom by Louw voor soos ons dit ook by Ovidius aantref. Die afskeid van die geliefde wat in die Romeinse elegie so sentraal staan, kom duidelik in Louw se gedig “Groot ode” aan die lig (Van Vuuren 1989:90; Du Plooy 2020:271).

Al is daar raakpunte met Ovidius se ballingskap is daar nogtans groot verskille. Louw het vrywillig in Amsterdam gewoon en gewerk, terwyl Ovidius deur die keiser na Tomis verban is (Du Plooy 2020:266). Louw pas Ovidius se ballingskap ironies oordrewe toe om sy eie ontworteling te beskryf; hy kreoliseer Ovidius, en beskryf hierdie kreolisering verder ondermynend as “ballinkie [speel] in Pontus” (in “Tristia en haar voyou”) (Viljoen 2020:44).

Teen die agtergrond van die persoonlike element in “Groot Ode”, wat rondom die “adamiese verleentheid” sentreer, verkry die antroposentriese terme nuwe lading en onderbou, en die teks baat aan eenheid (Van Vuuren 1989:92).

Ovidius gebruik die elegiese toonaard om oor sy verbanning en verguising te lamenteer en probeer vergifnis by keiser Augustus verkry sodat hy na Rome toe kan terugkeer (Du Plooy 2020:266).

Ovidius was deeglik vertroud met die Griekse digkuns en mitologieë. Dit blyk uit talle verwysings in sy Tristia (Homerus, Achílles, Hector, Penelope, Aphrodite, Amor, Ares, Charýbdis, Daédalus en Ícarus) (Vos 2014:152–9; Vos 2016:172–9; Henderson 2022:436–70).

WJ Henderson het as professor Grieks en Latyn gedoseer. Verder het hy uitstekende gedigte in Engels geskryf en gepubliseer. Met sy digterlike begaafdheid en kennis van Grieks en Latyn is hy deur die Muses aangewys om Viva Camena (“Lewende Muse”) uit Latyn te vertaal. Dit is in alle opsigte ’n tour de force. Henderson slaag uitmuntend daarin om die digterlike patroon en ritme van die Latynse gedigte in die Afrikaanse vertaling weer te gee. In dit wat nou volg, word voorbeelde van Henderson se voortreflike vertaling van Publius Ovidius Naso se werk gegee. Dit is die voorreg van die leser om vertalings van die Latynse digters, soos Gaius Valerius Catullus en Marcus Valerius Martialis en ander digters se werke in Viva Camena te lees en te waardeer.

Ovidius se pa het vir hom ’n ander loopbaan aanbeveel. Tristia 4.10, reëls 21–2:

Dikwels het my pa gesê: “Waarom kies jy ’n nuttelose rigting?
Selfs Homerus het geen rykdom nagelaat nie.”
  Hierdie wyse woorde is vandag nog vir digters waar!

Die begin van Ovidius se liefdeslewe was alles behalwe maanskyn en rose. Tristia 4.10, reëls 69–70:               

Ek was skaars ouer as ’n seun toe ’n onwaardige en nuttelose
  vrou aan my gegee is, ’n huwelik van korte duur.

Dit is opvallend dat Ovidius se droefheid oor sy ballingskap nie venyn teenoor die Caesar gewek het nie. Ovidius dig ontroerend oor die leed wat hy keiser Augustus aangedoen het en die keiser se verdraagsaamheid teenoor hom. ’n Voorbeeld hiervan is Henderson se voortreflike vertaling van Tristia 5.11, reëls 11–26:

My grootste straf is dat ek aan hóm aanstoot gegee het
  en ek wens die uur van my dood het vroeër gekom!
Nietemin is my boot verpletter, nie gesink of oorweldig
  en dryf tog op die waters al het dit geen hawe nie.
Hy het nie my lewe of besittings of burgerskap geneem nie,
  al het ek met my fout verdien om als te verloor.
Maar omdat geen misdaad aan daardie misdryf verbonde was
  nie, het hy net beveel ek moet my geboorteland verlaat.
Net soos vir ander van wie die getal ontelbaar is,
  so was Caesar se mag teenoor my sag.
Hy self gebruik teen my nie die naam “balling” nie,
  maar “verban”; met sy oordeel is my saak veilig.
Met reg, Caesar, sing my gedigte dus, soos hulle is,
  en na die beste van hulle vermoë, jou lof;
met reg versoek ek die gode om nog die hemelpoorte vir jou
te sluit en te wil jy bly ’n god apart van hulle.         

In Tristia 4.1, reëls 1–4; 35–40 dig Ovidius beskeie oor sy digterskap:     

As daar enige foute in my boeke was – en daar sal wees –
  beskou hulle, leser, weens hulle tyd, as kwytgeskeld.
Nou’s ek ’n balling. Ek soek vir myself troos, nie roem nie,
  sodat my brein nie alewig op sy ellendes fokus nie.

Ek ook geniet my boeke, al het hulle my seer gemaak;
  ek bemin die wapen wat my gewond het.
Miskien sou hierdie toewyding na waansin kon lyk,
  maar hierdie waansin het ’n sekere nut.
Dit verbied die brein om alewig na sy ellendes te kyk
  En maak dat dit die huidige lotgevalle vergeet.

Ovidius se gedigte troos hom in sy ballingskap, maar daar is niemand wat in die vreugde van sy digterskap kan deel nie. Dit blyk uit Tristia 4.1, reëls 87–92 en Tristia 5.7, reëls 39–40:

My Muse onderneem egter, ’n gas in sulke groot ellendes,
  om tot verse en haar ou rites terug te keer.
Maar daar is niemand aan wie ek my gedigte kan voordra
  of wat die Latynse woorde kan hoor en begryp nie.
Ek skryf en lees vir myself – wat kan ek anders doen?
  En my geskrifte is veilig in hulle eie oordeel.    

Ek hou my verstand besig en kul my smarte met studies
  en probeer om aan my sorge woorde te gee.

Die digter dink met heimwee terug aan sy tyd van afskeid uit Rome. Tristia 1.3, reëls 1–4; 17–24:

As daardie nag se uiters droewige beeld by my opkom,
  toe dit die laaste tyd vir my in die stad was,
as ek die nag herroep, toe ek soveel dierbare dinge verlaat
  het, gly daar selfs nou nog ’n traan uit my oë.

Ek huil en my liefdevolle vrou, wat self egter huil, omhels
  my, met trane wat oor haar onskuldige wange vloei.
My dogter was ver weg verwyder aan die Libiese kus
  en kon nie van my lot ingelig word nie.
Waar ek ook al gekyk het, het leed en gekerm opgeklink
  en binne het dit geklink asof daar ’n luide begrafnis was.
Vrouens, mans en selfs kinders het nes op my begrafnis getreur
  en elke hoek in die huis het trane gehad. 

Ovidius dig met soveel waardering oor sy vrou wat alleen in Rome agterbly. Tristia 5.14, reëls 41–6:

Ek het geensins jou dood nodig nie, maar jou liefde
  en trou: jy hoef nie met moeite roem na te streef nie.
Moet ook nie glo dat ek gee raad omdat jy so optree nie:
  ek gee nie seile aan ’n boot wat reeds met spane vaar nie.
Wie aanraai dat jy doen wat jy reeds doen, loof jou optrede
  met vermaning en keur dit met bemoediging goed.

Vir sy stiefdogter het Ovidius ’n vaderlike wens en raad. Tristia 3.7, reëls 53–4:     

Mag ’n gelukkiger gebruik van jou kuns op jou wag,
  en ontwyk sover jy kan die komende brandstapel.

Ovidius se ballingskap het hom geestelik en liggaamlik geknou. Hy dig aangrypend daaroor. Tristia 4.6, reëls 41–6:  

Ek het nie meer die krag of kleur wat ek gehad het nie;
  my dun vel bedek skaars my beendere.
My liggaam is siek, maar my verstand is sieker en staan
  eindeloos in beskouing van sy lyding.
Die stad se gesig is afwesig, my geliefde vriende is afwesig,
  en – dierbaarste vir my – is my vrou afwesig.

Dit was ’n heerlike avontuur om WJ Henderson se skitterende Latynse vertalings te lees en te beleef. Hy skenk aan elke leser skatte wat hulle net sal verryk. Neem, tel op en lees! Nuwe opwindende wêrelde sal vir jou oopgaan. Die uitgewer Naledi verdien ’n pluimpie vir dié pragboek.

Bronnelys 

Du Plooy, H. 2020. Die liefdestema in Tristia van NP van Wyk Louw en sy “Groot Ode” as liefdeselegie. In R. Johl (red.). ’n Huldiging. NP van Wyk Louw silwer herberg in die sneeu. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Grové, A.P. 1992. METRUM. In T.T. Cloete (red.). Literêre terme en teorieë.  Pretoria: HAUM-LITERÊR.   

Henderson, W.J. 2022. Viva Camena. Gansbaai: Naledi.

Pretorius, R. 2006. Tristia: ’n lesing vanuit Postmodernistiese perspektief. In W. Burger (red.). Die oop gesprek. N.P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: LAPA Uitgewers.

Van Vuuren, H. 1989. Tristia in perspektief. Kaapstad: Vlaeberg-Uitgewery. 

Viljoen, H. 2020. Kreolisering en heling in Nuwe verse en Tristia van Van Wyk Louw. In R. Johl (red.). ’n Huldiging. NP van Wyk Louw silwer herberg in die sneeu. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Vos, C. 2014. Fragmente uit die Ilias. Pretoria: Protea Boekhuis.

Vos, C. 2016. Fragmente uit die Odusseia. Lynnwoodrif: Cordis Trust Publikasies.   

 

 
  • 6

Kommentaar

  • Treffend, smartlik, hierdie woorde, soos vandag ook vir groot digters in ons alhoe-mineurder wordende klein literere kringetjie:

    Maar daar is niemand aan wie ek my gedigte kan voordra
    of wat die Latynse woorde kan hoor en begryp nie.
    Ek skryf en lees vir myself – wat kan ek anders doen?
    En my geskrifte is veilig in hulle eie oordeel.

  • Hierdie is ’n wonderlike resensie deur ’n uitmuntende resensent! Laat ons meer resensies deur Cas Vos lees.

  • Sunelmarie van Rooyen

    Dit kon geen maklike taak gewees het wat WJ Henderson aangepak het nie. Te danke aan Cas Vos se resensie kan ek nie wag om hierdie boek onder oë te neem nie!

  • Chris Marnewick SC

    Wonderlike resensie, en ek gaan die boek aanskaf. Ek onthou die gedig oor 'n Schytiese Winter uit my matriekjaar.

    Hierdie verse het my ook getref, want dit is presies wat ek hier in my selfopgelegde ballingskap doen:

    "Ek skryf en lees vir myself – wat kan ek anders doen?
    ...
    Ek hou my verstand besig en kul my smarte met studies
    en probeer om aan my sorge woorde te gee."

  • Cas, ek het soveel waardering daarvoor dat jy WJ Henderson se Viva Camena, en daarmee Ovidius se verse, op ’n insiggewende wyse tot my gebring het. Omstandighede in Augustus se Romeinse Ryk word beskryf, maar meer nog: die impak van die poëtiese woord wat ervarings en denke in woordpatrone verpak. Wat ’n voorreg om met woordsensitiewe mense om te gaan en deur die eeue die lewe in woorde te vang.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top