Die landskap strek vaal en ver weerskante van die pad uit. Hier en daar word die strak lyn van die horison deur lae bosse afgewissel en binne-in die bus lag en gesels die seuns ontspanne na ‘n suksesvolle kooruitvoering in Tallinn, hoofstad van Estland. Aandete was hamburgers en tjips in ‘n restaurantjie in Vittna, ‘n dorpie op pad na die Russiese grens.
Die wêreld waardeur ons nou ry raak al hoe platter, die bome en bosse al hoe verder uit mekaar. Dis ‘n vreemde ervaring, hierdie wit nagte van die Europese somer wanneer dit nooit heeltemal donker word nie.
Buite begin misslierte soos desperate spookvingers oor die verlate vlaktes rondsweef. Kort voor middernag is dit steeds skemer wanneer ons uiteindelik die dorpie Narva-Joesuu binnery. Soos met so baie ander dorpies langs die pad is daar nie veel tussen die donker silhoeëtte van die bome sigbaar nie. ‘n Bushalte doem asof van nêrens in die laaste lig op en ‘n entjie verder staar ‘n vervalle woonstelgebou uitdrukkingloos na die verbygaande toerbus. ‘n Jong paartjie loop hand aan hand op die sypaadjie en in die dofverligte vensters van ‘n spitsdakhuisie sus ‘n vrou ‘n baba in haar arms aan die slaap.
‘n Maer hond hardloop skeef voor die bus verby en die bestuurder moet vinnig rem. Dié wat geslaap het is nou wakker en sit regop.
Die toerbus draai by ‘n nou straatjie in en kom wiegend voor ‘n groterige gebou tot stilstand. Vir ‘n paar sekondes beweeg niemand nie, maar dan staan een van die seuns halfhartig op en die res volg onwillig, maak hulle goedjies stil-stil bymekaar. Buite het die bestuurder reeds die luike van die bagasieruim oopgesluit en van die ouer en sterker skoolseuns help hom vinnig om die swaar tasse uit te tel.
Dis ‘n bedremmelde spulletjie wat agter mekaar aantou na die jeughostel toe. Hier is nie sprake van enige straatligte nie en lang grasse gryp in die ligte briesie na kuite en tasse terwyl ons fronsend voortstrompel. In die reuse, kaal voorportaal bondel die seuns weer saam. Die reuk van nat sement hang swaar in die lug. ‘n Ouerige vrou kom half agterdogtig van agter die skemer beskerming van ‘n ietwat verweerde houttoonbank in die een hoek te voorskyn.
Teen die muur langs ‘n piepklein hysbakkie is ‘n plakkaat opgeplak en ek staan nuuskierig nader terwyl Manlief en die toerleier die kamersleutels uitsorteer. Die sinistere waarskuwing in groot swart letters langs ‘n weerwolfkarikatuur stuur onwillekeurig kriewels langs my ruggraat af: “Beware of criminals – lock your car!”
Een van die seuns lees die woorde hardop oor my skouer en gee my skielik ‘n idee. Ek probeer nie eers die duiweltjie wat hom op my skouer tuismaak wegjaag nie. “Het jy geweet hierdie weerwolf is Narva-Joesuu se amptelike embleem?” vra ek.
Sy siniese, dog benoude laggie laat my besef dat my poging tot humor jammerlik gefaal het. Hierdie seun is die argetipe bedorwe brokkie met ‘n pa wat ‘n string luukse hotelle in Engeland besit – vannag se akkommodasie haal beslis nie eers eenster-status in sy boekie nie.
Manlief bring ons kamersleutels en terwyl hy seker maak dat almal geholpe raak, klim ek met die breë trappe op na die eerste vloer waar die sementreuk nog meer intens raak. Gelukkig is daar darem ‘n liggie wat die donker skaduwees terugdryf en ek kyk so onopsigtelik moontlik rond terwyl ek die kamerdeur oopsluit.
Die twee enkelbeddens in die beknopte en muwwerige kamertjie se matrasse hang halfmas ondertoe en die hangkas se deure gaap lusteloos. Hier vertoef ek beslis nie op my eie nie! Ek glip dadelik weer uit. Twee seuns, duidelik onbewus van my teenwoordigheid, het so pas hulle kamerdeur langsaan oopgestoot. Een van hulle kyk op, reg teen die optiese illusie van my swart-en-blink leeuveltiertert blinkertjiebloesie vas.
Die arme kind gee net een lang, benoude hoë C-gil en spring soos ‘n wafferse gimnas ‘n meter of wat in die lug in op. Sy maat skrik hom yskoud vir die onverwagse gil in sy linkeroor en val ‘n oktaaf hoër in - enige katte-duet se droom!
Dit neem ‘n goeie vyf minute vir die drie van ons om tot bedaring te kom voor die res van die groep met die trappe opstorm.
Heelwat later is almal rustig in hulle kamers, maar lank na amptelike slaaptyd klink daar steeds ‘n sporadiese, bloedstollende gil of ‘n dowwe gelag vanuit die maag van die gebou op ...
Sewe-uur val ek half uit my ‘hangmat’ uit en stoot die glasdeur na die balkonnetjie toe oop. Buite begroet hoë, vriendelike bome my en iewers tussen die lang stamme deur glinster ‘n saffierblou see in die verte. Onder kronkel die opritpaadjie vrolik en aan die anderkant van die straat staan die toerbus geparkeer, reg om te vertrek.
Manlief gaan gou seker maak dat almal wakker is en vyf minute later is hy terug. “Jy sal dit nie glo nie!” sê hy verdwaas. “Al die bagasie is reeds in die bus gepak en die seuns het almal al ontbyt gehad!”
Wanneer die bus se wiele later weer rol kyk ek na die seunsgesigte om my en luister na al hulle opgewonde stories. Geen enkele seun het die nag alleen deurgebring nie en ‘n klomp terggeeste het mekaar met allerhande poetse tot laat nog skrik op die lyf gejaag. In sommige kamers was daar selfs agt, nege matrasse langs mekaar op die vloer ingeryg.
Iemand tik my op die skouer. “Weet Juffrou wat? “ vra Jacobus met ‘n vonkel in sy oog. “Hierdie plek was vir jare lank ‘n vakansie-oord vir Russiese weermagoffisiere! Cool!”
Ek glimlag terug, maar dan onthou ek die nagmerrie wat my drie-uur vanoggend in koue angssweet laat regop sit het. Soldate, gewere, vreemde eggo’s uit die omringende woude. So anders as die bekende, gerusstellende Afrika-klanke waaraan ek gewoond is.
Ek sak terug teen die sitplek en kyk met ‘n gevoel van behaaglikheid hoe die laaste, sinistere woonstelmurasie van die dorpie net nog ‘n stippel op ‘n lang horisonlyn word ...
Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

