Wit: my wintergebed

  • 0

Foto: Canva

Wit: my wintergebed

Vir jou
hoop ek steeds: Die beste lê nog voor.
Maar jou herfsdae
het stil-stil hul kleur verloor.
Winter klop knaend aan jou deur.
Onverpoosde koue het
soos ’n dief in die nag
jou doelbewus bekruip
en trapsuutjies ingesluip.

Doodgevries
wat mooi en goed was.

Ek sien weer jou groot hande,
liggies, bewend
die papier vasklem –
herinnering se vlymskerp skalpel
sny dwarsdeur my.

Waarheen nou?
Die krag van daardie hande?
Die klokhelder lag?

Jou toekomspad,
vergrys, verdof,
verdwyn
in fyn windstof.

Môre is gesaai
met prikkende dorings
van selfverlore eensaamheid.

Bloulig-oë
veg vergeefs
teen skemeraand
wat stadig, seker
die donker afdwing.

Ek wens ek kon
vir jou genade afbid –
die gebreekte hemel toespit.

Maar ek versmoor
in die bitter, wit wasem
wat winter bring.

My keel brand
na verlossing –

verlossing vir jou,
verlossing vir my.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top