Winter in die Bo-Karoo

  • 6

Winter in die Bo-Karoo

Dis winter in die Bo-Karoo.
En die hemel se grys jas is toegeknoop.
Haar trane bots teen die venster.

Twee vir twee vat die druppels mekaar se lywe vas en tango ...
Hulle dans die lengte van die venster, ’n magiese minnespel speel af.
Twee vinnige treetjies, twee stadiges en dan swaai!
Dan, as die voorspel verby is, ná hulle eenwording en ’n intense klimaks, skei hulle paaie
          langs die houtraam af.

In die verte staan ’n Acacia karroo regop, trots en halfkaal,
sy immergroen blare en sekelvormige peule afgeruk deur ’n lywige wind
wie se ysige asem wooh, en sy skerp hande kap, en sy vinnige voete sleep tot sy
stofwolk ontplof soos die rok van ’n go-go girl!

Die heuwels en oop pleine is stil, geen wagter of vee in sig, net die reën en die wind wie se
          ge-wooh teen die berge uitklim.
Die dag en die nag is dieselfde hier.
Die son het lankal sy tassie gepak en op ’n boot al langs Afrika se kus weste toe gevaar.
Hier waar sy strale doodgebrand het, is nou tekens van lewe.
Hier waar hy gaan slaap het, ’n leë bed.

  • 6

Kommentaar

  • Ricardo, dit was heerlik om dit te lees, meer as een keer natuurlik. Die ongewone simboliek en beeldspraak is treffend en roer die hartsnare ... en verbeelding.
    Hou so aan om ons mooi land in die mooiste taal te besing.

  • Afrikaans bly heerlik en jy het dit so mooi opgedien. Smaaklik en vol verrassings Ricardo. 'n Weerlees-gedig. Moet tog nooit ophou skryf nie!

  • Ek dink ek het 'n nuwe gunsteling digter ... dit was wonderlik om dit te lees. Ek is MAL oor winter en kon alles sien in my geestesoog soos jy dit beskryf!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top