Wie se Afrikaans?

  • 0

Dit is die naam van ’n debat iewers in die Kaap vandag (Vrydag 16 Maart), uitgesaai op RSG. 

So’n naam is ongeldig; dit wil te kenne gee dat Afrikaans, of enige taal, iemand se besit kan wees ten koste van iemand anders, so al asof dit ’n materiële ding is soos ’n fiets of ’n blikke ingelegde perskes of so-iets. 

Twee ouens kan baklei oor ’n materiële ding en die ou wat verloor is daardie ding kwyt.  Dieselfde kan nooit ten opsigte van ’n taal gebeur nie; Engels is net soveel die Nieu-Seelanders en die Amerikaners s’n as die Engelse s’n, of Duits die Oostenrykers s’n as die Duitsers s’n.  Om die waarheid te sê, enige mens doen altyd sy bes om andere te oorreed om sy taal aan te leer, kyk maar na die Alliance Française.

’n Kaapse kollega het eenkeer vir my gesê ons het Afrikaans by hulle gekaap.  Dit is onmoontlik.  Jy kan ’n motor kaap en dan is die slagoffer die motor kwyt maar as jy ’n ander ou se taal aanleer het hy nog steeds sy taal.  Om die waarheid te sê sy taal is nou beter daaraan toe want meer mense praat hom.

Wat jy wel kan doen is om aanspraak dat jou mense meer vir die ontwikkeling en vestiging van die taal gedoen het as die ander ou se mense maar dit is ’n ander debat.  Sal nie ’n goeie een wees nie want dit het juis die ons-hulle-uitgangspunt waarvan almal probeer wegkom.

Magdaleen Krüger was dan ook verkeerd waar sy gesê het die "wit groep... [het die Afrikaanse radio] ... gekaap".  Die "wit groep" het net so min die radio gekaap as wat sekere Engelse die BBC gekaap het omdat ankers en nuuslesers Queen’s English praat (en is hierdie stelling van Magdaleen ’n aanwakkering van die ons-hulle-spook nie?).  Nie alle Engelse wil Queen’s English praat nie; Michael Caine, byvoorbeeld, is baie trots op sy Cockney-aksent.  Magdaleen se bydrae hier is dus niks anders as wat Theodor Dalrymple noem ’n kniebuig in die rigting van populêre kultuur nie, met ’populêr’ hier in die sin van die Latynse ’populus’.

Wat jy wel kan kaap is die prestasie, of onderskeiding, of eer dat dit jóú mense is wat hoofsaaklik vir die ontwikkeling en vestiging van die of ’n taal verantwoordelik is maar dit is ’n ander debat; sal wees soos ’n stryery oor wat die beste onderdeel van ’n motor is, die vonkverdeler of die dryfas; altwee is ewe belangrik want sonder enige een van die twee sal daar nie ’n motorkar wees nie.  Maar debat is debat; dit is miskien nodig om so iets uit te klaar al is dit hoe hetig.

Wat goed is vir Afrikaans is verskillende aksente, dialekte, tongvalle, die soort van ding en soveel as moontlik mense wat dit praat.  Wat sleg is vir Afrikaans is verbastering met Engels; dis nie oulik of kreatief nie, dis gewoon swak Afrikaans.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top