WF 2012: ’n Dag in my wêreld

  • 0

Die son sak en die tyd stap aan. Ek moet gou maak as ek my doel betyds wil bereik. Ek lê agter ’n bos en kruip saggies nader aan die man. ’n Takkie kraak onder my voet en hy draai skielik om. Een skoot en met ’n harde slag tref hy die grond.

Vandag is die dag waarna ek al so lank uitsien. My sak is vol lekker eetgoed gepak en die kamera se batterye is vol gelaai. Ons graad 11-Skeinatklas gaan vandag na die wetenskapmuseum toe. Die bus wag buite en met ’n gesukkel kom ek darem betyds daar aan.  My “nerd-sitplek”, heel voor in die bus, is soos gewoonlik oop en gereserveer net vir my. Hoekom ek juis daardie bynaam gekry het, sal ek nie weet nie. Ek sou “geniale, fenomenale, uiters gevorderde rekenaarfundi” verkies het, want almal weet as dit by rekenaars en speletjies kom, is ek die een wat alles weet.

Die museum is groot en ek borrel van opwinding om alles te beleef. Daar is alles waarvan ek gedroom het en nog baie meer. Ek stap van die een lokaal na die volgende en woon al die praatjies wat daarmee gepaard gaan, by. Ek stap verder en stop skielik toe ek die groot, groen bord sien … “Computer and Gaming Center”. Waarvoor kon ek nóg gevra het? Ek stap daar in met oë so groot soos pierings. Daar is ’n ou oom met skewe tande en spierwit hare wat besig is om iets bekend te stel. “Met hierdie nuwe tegnologie sal dit moontlik wees om van dimensie te verander. In plaas daarvan om ’n beheertoestel te gebruik vir die speletjies, sal dit moontlik wees om self die karakter in die speletjie te wees. Jy sal self die vrugte moet gaan pluk, die soldate in die oorlog skiet en die resies in daardie sportmotor moet wen. Hierdie is ’n geleentheid wat niemand moet misloop nie,” vertel die oom. Hy gaan voort en vra of daar enige vrywilligers is wat hierdie toestel vir die eerste keer wil probeer. Sonder om te dink, steek ek dadelik my hand op en hardloop na vore. Die oom lyk eers vreesbevange, maar gaan toe voort en verduidelik hoe dit werk. “Seun, ek gaan jou nou in hierdie stoel vasmaak en dan gaan ek jou en die stoel in die speletjie laat verskyn. As jy daar binne kom, gaan dit wees asof jy die hoofsoldaat daar is. Jy sal moet veg vir jou lewe en as jy aan die einde van die speletjie steeds leef, dan kan ek jou terugbring. Alles gaan oor beplanning en jy moet kyk vir ekstra lewens soos jy vorder. Sterkte en ons hoop om jou weer te sien.”

Nog voor ek kan kop uittrek, is ek reeds in die speletjie. Bomme wat ontplof, gewere wat skiet en kinders wat skree, is al wat ek hoor. Ek hardloop dadelik na die eerste gebou en kruip daar agter ’n muur weg. Die sak op my rug is swaar en die weermagpak wat ek aanhet, is baie warm in die son. Skielik, uit die middel van nêrens, kom daar ’n skoot in my rigting. Ek hardloop uit by die gebou en in die veld in. Daar is ’n klomp mense agter my aan en ek kan nie nou bekostig om ’n voet verkeerd te sit nie. Ek skiet ’n paar mense en hulle val soos sakke patats op die grond neer. Uitasem en doodmoeg van al die gehardloop kom ek by ’n punt waar dit slegs ek en een soldaat is wat oor is. Nog net hy wat geskiet moet word en dan kan ek uit hierdie vreesaanjaende speletjie kom en terug na die wêreld gaan wat ek ken. Ek sal moet gou maak as ek my doel betyds wil bereik. Ek lê agter ’n bos en kruip saggies nader aan die man. ’n Takkie kraak onder my voet en hy draai skielik om. Een skoot en met ’n harde slag tref hy die grond. Hy is morsdood en roer nie ’n voet nie. Die speletjie is verby en ek word onmiddellik teruggetrek na die realiteit

Almal staan verbaas na my en kyk. Die ou oom is so in sy skik dat hy sommer begin huil. “Ek kan nie glo dat dit uiteindelik gewerk het nie. Na al die jare van swaarkry het ek uiteindelik iets wat vir my naam gaan maak,” sê die oom.

My sitplek in die bus het skielik van heel voor na heel agter verander en almal hanteer my nou anders. Wie sou gedink het dat ’n dag wat so eenvoudig begin het, so drasties kan verander en my nou een van die gewildste kinders in die wêreld kan maak? Hierdie dag is definitief heel bo-aan my lysie van die beste dinge wat ek nog ooit gedoen het. Dit was ’n dag in my perfekte wêreld.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top