Weer oor RSG

  • 27

Nou die dag op die ‘Praatsaam’-program, ek dink dit het gegaan oor boelies, bel ’n ou in en praat Engels.  Lynette Francis, die programleidster, antwoord hom in Engels.  Hoekom?  Die man het die hele program in Afrikaans gevolg tot op daardie stadium so hoekom antwoord sy hom in Engels; hy verstaan mos Afrikaans EN dit is ’n Afrikaanse radiostasie waarvan daar beslis luisteraars is wat nie Engels magtig is nie.

Nog is dit het einde niet; die gas (’n kindersielkundige of iets) lewer toe kommentaar op die perd se inset maar ook in Engels kan jy glo!  Daar in ’n Afrikaanse program op ’n Afrikaanse stasie vir Afrikaanse luisteraars praat die mense toe Engels net omdat ’n Engelssprekende luisteraar (wat goed Afrikaans verstaan) ingebel het.

Waar is daar nog ’n volk so gedienstig soos my volk!?  Sies man.

Jan Rap

  • 27

Kommentaar

  • Beste Jan,

    Jy sien die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekende mense is lankal nie meer deel van "jou volk" nie. Dalk verklaar dit vir jou die raaisel hoekom Afrikaanssprekendes lankal nie meer hakke inkap oor Afrikaans nie. Die taal is bevry van jou soort taal-outokrate.

    En so terloops: Hoeveel RSG luisteraars dink jy is nié Engels magtig nie? Gee vir ons 'n persentasie, toe man.

    • Beste Dirk
      Waar kom jy daaraan dat die meerderheid Afrikaanssprekende mense nie van my volk is nie? Gee vir ons 'n persentasie, toe man. En moet nou nie kom met Engfrikaans- of Afrengelssprekers nie; dis lank nie Afrikaans wat in daardie geval(le) gepraat word nie.
      Die persentasie Afrikaanssprekers wat nie Engels magtig is nie is heelwat, baie meer as wat jy dink. Maar al was dit so min as 1% maak dit nie saak nie; dis nog geen rede vir die radio om so gatkruiperig op te tree nie. Die feit bly staan daar IS mense wat op die Afrikaanse stasies inskakel juis omdat hulle Afrikaans is en dit is 'n afjak teenoor hulle om Engels en die Engelssprekers so terwille te wees. Die stasie vertrap hulle regte en maak terselfdertyd die Afrikaanssprekendes se naam gat.

    • Johannes Comestor

      Jan Rap, dankie, jy het reg. Moet jou nie steur aan dwarsgatte wat Afrikaans en Afrikaners skynbaar nooit genoeg kan afkraak nie.

  • Beste Jan,
    Jy sal moet help. Die woord 'boelie' ken ek glad nie. Ek ken die Engelse woord 'bully', maar ek ken jou ook al. Jy is nie 'n man wat sy tale so sal opmieks nie.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus, jy's reg, daar is nie so'n woord soos 'boelie' nie. Gelukkig luister jy nie RSG en word jy dus so negatief soos ek deur hulle beinvloed nie. Ek is bly jy is saam met my in hierdie 'hakke-inkapstryd' (dankie Dirk vir die begrip) want dis nou wanneer ons moer sterk staan. Verdere hulp in hierdie verband is altyd welkom; elke fout waarop jy my wys is een minder wat ek in die toekoms gaan maak.
      Groetnis
      Jan Rap

  • Jan Rap, met die vorige algemene verkiesing, het net so iets oor die 5000 wit Afrikaners vir "jou party" gestem. Onthou jy nog? Daar is maar min van julle oor. Omtrent nog net Jan Rap en sy maat.

    • Dirk
      Jy het gelyk. Maar wat het dit nou te doen met die feit dat RSG so uit sy pad gaan om Engels en die Engelse so terwille te wees?

  • Oud-Afrikaans bestaan nie meer as spreektaal nie. Ons lees dit net in boeke, en wanneer iemand tyd het om te wik en te weeg sodat hy foutloos en anglisismeloos kan skrywe. In deesdae se Afrikaans praat ons van boelies en hoe amyzieng die toksjou was op die tiewie.

    • Daar is nie so iets soos Oud-Afrikaans nie; daar is Afrikaans en dan vervalle Afrikaans waar links en regs op lukrake wyse Engelse woorde ingegooi word meestal weens gebrek aan taalvaardigheid maar ook in 'n baie groot mate venyn.

    • Johannes Comestor

      Standaardafrikaans bestaan steeds. Ek skryf en praat dit en is sekerlik nie die enigste een nie. Anders as voor 1994 het dit mode geword om met Afrikaans en Afrikaners te mors, asof uit daardie oord nooit iets goeds gekom het nie. Afrikaans is 'n onontbeerlike deel van Afrikanerkultuur. As Afrikaans nie ordentlik in stand gehou word nie gaan hy deur Engels ondergeploeg word. Diegene wat die verengelsing van Afrikaans geredelik aanvaar, doen dit om politieke en nie om kulturele of taalkundige redes nie.

  • Amyzieng die toksjou was op die tiewie,sê Angus is die hedendaagse Afrikaans. Nog vis nog vlees sê ek - nie Afrikaans en ook nie Engels nie.

    Nee, onse Afrikaanse taal moet ook gedekoloniseer word lyk my. Soms vra ek myself af waarom kon Jan die oorsaak van alle ellende in die paradys maar nie net aangehou seil het voordat hy alles hier kom bederf het.

  • Nie Engels of Afrikaans nie? 'n Ander taal dus. So het Afrikaans en enige ander taal ook maar begin.

  • Beste Johannes Comestor,
    Man, ek moet jou gelukwens. Jy is beslis deel van ʼn klein elite groepie wat standaard Afrikaans praat. Slegs diegene wat ʼn goeie taalonderwyser op skool gehad het, en deeglik onderlê is in Afrikaans, kan spog dat hulle amper standaard Afrikaans praat. Eers as hulle ten minste Nederlands-Afrikaans III agter hulle name kan skryf, en daarna gespesialiseer het in die Linguistiek, kan hulle begin om te spog. Die ander miljoene Afrikaanssprekendes wat nou nie so bevoorreg is nie, moet maar met mekaar kommunikeer met die taal aan moedersknie geleer, en hierdie taal staan maar sterk onder die invloed van Engels – verengels, soos jy sê.
    Verder, so lyk dit my, het jy nog nie veel όόr taal gedink nie. Niemand is ʼn voorstander daarvan dat Afrikaans verengels, of dat Engels verafrikaans, of veramerikaans, of verduits, of veraustralies nie. Dit gebeur orals met elke taal, en niemand kan dit verhelp nie, want taal is taal. Tale is almal verwant aan mekaar. Gaan bestudeer maar die oorsprong van Afrikaans: baie was verskriklik begaan oor die verkaapsing van Nederlands.
    Aanvaarding om politieke, en kulturele redes? Ek sou graag wil weet hoe jy daarby uitkom. Praat jy, wat Johannes Comestor is, nie die “suiwer” Afrikaans juis om politieke en kulturele redes nie?
    Jy hoef nie so te skrik nie: standaard Afrikaans sal in stand gehou word, maar slegs as skryftaal, want as ʼn mens skryf, kan jy wik en weeg watter woord “suiwer” Afrikaans is, en watter uitdrukking Anglisisties is. Jy kan op jou gemak die HAT nadertrek, en naslaan of jy veroorloof is om die woord te gebruik. Jy kan ook jou werkwoord, ens op die korrekte plek in die sin plaas en sorg dat jy die tweede nie nie verwaarloos nie.
    Taal is darem amazing, is dit nie?
    Groete,
    Angus

    • Johannes Comestor

      Ek het 'n goeie Afrikaansonderwyser gehad en Afrikaans-Nederlands III voltooi en was al dikwels spyt dat ek dit nie ook nagraads bestudeer het nie. Ek het al baie oor taal en Afrikaans gelees en besin. Tale is nie almal verwant nie. Ja, ek praat en skryf om politieke en kulturele redes by voorkeur Afrikaans. Diegene wat Afrikaans wil vernietig, wil dit om politieke en kulturele redes doen; om Afrikaners weens beweerde vergrype te probeer benadeel. Die spreektaal is primêr en beïnvloed die skryftaal. Die voortbestaan van gesproke en geskrewe Afrikaans hang af van die suiwerheid, veral die nie verdere verengelsing, van Afrikaans.

  • Beste Jan Rap,
    So, jy ontken dat daar so iets is soos Oud-Afrikaans? Jy meen dus dat ons nog die taal van Meurant, Pannevis, Hoogenhout, Klaas Waarsegger, Een Ware Afrikaander en dies meer praat?
    Nee, Jan, daardie vroeë Afrikaans bestaan nie meer nie, en ons beweeg feitlik daagliks verder weg daarvan, of ek en jy en Johannes Comestor dit wil of nie. Afrikaans het ook maar sy nederige begin gehad met vele teenkantings toe Nederlanders met Maleise slawe moes kommunikeer. Hieruit het Kaaps ontstaan, of liewer Kaaps-Hollands, want die nuwe taal het basies ʼn Nederlandse struktuur gehad. Kaaps-Hollands het toe sterk onder Engelse invloed gekom, soos ons aan Kaaps kan sien. Dit is hierdie taal wat ons begin suiwer en veredel het deur Anglisismes uit te roei, Engelse woorde te vertaal, neologismes te skep, ens. So het ʼn standaard Afrikaans, of Algemeen Beskaafde Afrikaans, of suiwer Afrikaans tot stand gekom. Ek verkies gesuiwerde Afrikaans, want geen suiwer taal bestaan nie. Soos die term aandui, dit is gestandaardiseerde Afrikaans, maw hoofsaaklik doelbewus geskep, en heel moeilik om te praat, want jy moet gedurig wik en weeg of jou sinskonstruksie en woordgebruik korrek is. Dis makliker om te skryf, veral met die moderne rekenaar, want nou kan jy verander aan jou sinskonstruksie en woordgebruik. Terselfdertyd moet jy maar ook ʼn woordeboek byderhand hou, om te kyk of die woord toelaatbaar is of nie. Dra veral sorg dat jy die jongste Woordelys en Spelreëls langs jou het, en skaf maar ook die jongste druk van HAT aan. Dan mag jy maar die woord ‘boelie’ gebruik.
    Standaard Afrikaans kan dus net gepraat word, of liewer gebesig word, deur die elitegroepie wat Afrikaans liefs tot op ten minste honneursvlak bestudeer het. Gelukkig ook maar, want Afrikaans is nog ʼn jong taal wat nog geweldig moet groei sodat dit bruikbaar bly vir die miljoene Afrikaanssprekendes.
    Jy praat van gebrek aan taalvaardigheid. Dit is juis te danke aan hierdie gebrek aan taalvaardigheid dat ons met trots Afrikaans kan praat. Amazing, is dit nie?
    Groete,
    Angus

  • Beste FC Boot,
    Die enigste doel van taal is om te kommunikeer, of dit in jou oë (of ore) 'n gemors is of nie. Waar wil jy 'n groter gemors kry as Engels? En kyk net hoe kommunikeer dit?

    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Weereens 'n halwe waarheid - ons kommunikeer nie net om te praat nie, maar wel om onderlinge begrip te bewerkstellig omdat ons almal uit verskillende ervaringsvelde kom.
    Maar dan moet die woorde wat gebruik word dieselfde betekenis vir beide hê en dit doen jy nie in gemorstaal nie. Ek glo nie 'n mens moet jou kommentaar aanstuur na die koningin van Engeland nie, hulle het klaar genoeg probleme en sal haar afsterwe moeilik verwerk.
    Jy besef natuurlik dat sulke kommentaar jou onmiddellik 'n kandidaat sou gemaak het
    om geradbraak te word, nie te lank gelede nie. Na so 'n sessie sou die begrip geradbraakte taal vir jou nuwe betekenis gekry het.
    Mooi dag

  • Beste Johannes Comestor,
    Soos alles wat lewe, het tale ook 'n gemeenskaplike voorouer: linguiste kan nog net sover terugwerk as Proto-Indo-Germaans, of sommer net Indo-Germaans, deur middel van taalvergelyking. Voor dit is daar nog 'n taal waarby hulle seker eendag sal uitkom.
    Groete,
    Angus

  • Beste FC Boot,
    Lees weer wat ek geskryf het: die enigste doel van taal is om te kommunikeer.
    Nêrens het ek gesê, ons kommunikeer net om te praat, nie. (Wat dit ook al beteken!)
    Die sogenaamde "gemorstaal" waarvan jy praat, sal alleenlik deur sprekers gebruik word as dit kommunikeer. Met die ontstaan van Afrikaans uit Nederlands was Afrikaans, of liewer Kaaps-Hollands, vir die Nederlanders 'n "gemorstaal". Die rede waarom dit in 'n taal ontwikkel het is omdat dit so goed gekommunikeer het. Ek sal maar raai wat jy as gemorstaal bestempel, so 'n sin maak, en dan die standaard Afrikaans daarvoor gee. Jy moet nou self besluit watter van die twee kommunikeer die beste.

    Vergelyk:
    Ek ry gou met my bike om vis en tjips by die keffie te koop.
    Ek ry gou met my fiets om vis en aartappelskyfies by die vis-en-aartappelskyfiewinkel te koop.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Jy is die een wat nie verstaan nie. Jy kan kommunikeer soveel soos jy wil. As dit nie onderlinge begrip bewerkstellig nie is dit nie kommunikasie nie. Jou woord 'bike' kan vir die ontvanger verskillende betekenisse hê.
    'n Vis-en-aartappelskyfiewinkel is 'n spesifieke plek en beskrywing waar jy net dit met miskien 'n koeldrank kan koop. 'n 'Keffie' is 'n algemene klein handelaar waar jy 'n groot verskeidenheid goedere kan koop en wat ook vis en aartappelskyfies verkoop.
    As ek jou moet soek indien jy dalk rigtingbedonnerd is gaan ek die hele stad rondry om jou te soek na aanleiding van jou eerste sin. Met jou tweede sin sal ek jou gouer opspoor omdat daar waarskynlik minder plekke as 'keffies' is wat uitsluitlik net vis en aartappelskyfies verkoop.
    Lekker dag

    • Angus,

      Niemand betwyfel jou insigte oor die kruisbestuiwing van tale nie. Maar die sprekers van 'n taal het tog sekerlik die reg om te debatteer oor wat beter of slegter sal wees om oor te dra aan ons nageslagte. Ek betwyfel egter of die "Engels" waarmee ons te doen kry (eintlik 'n nuwe taal wat Breyten Breytenbach "Coca-Cola" doop) ons gaan help om onsself te verryk en iets waardevol oor te laat. Angus, eerlik waar weet ek nie of dit die mees-amazingste uitkoms vir ons sal wees nie ...

  • Beste Pyrrho,
    Ek kan nie onthou dat ek iemand oor die vingers getik het omdat hy my insig oor die kruisbestuiwing van tale betwyfel het nie. Ek kan ook nie onthou dat ek voorgegee het dat my insig juis so belangrik is nie. Indien wel, vra ek om verskoning.
    Ek kan ook nie onthou dat ek enigiemand die reg om oor taal te debatteer ontsê het nie. Indien wel, vra ek om verskoning.
    Breyten Breytenbach het die reg om neer te sien op tale as hy wil. Ek beskou enige taal as iets kosbaars, wat net tot die mens behoort, hoe kreools of pidginagtig dit ook al mag wees. Taal is daar vir die mens om mee te kommunikeer. Engels is 'n wêreldtaal omdat dit van alle tale regoor die aardbol opslurp soos 'n spons. Afrikaans behoort dit ook te doen, en nie neusoptrekkerig verwerp dit wat bruikbaar en nuttig is nie.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top