Watter kans staan Afrikaans om te oorleef?

  • 21

Om aan te voer dat, solank ons Afrikaans praat, sal Afrikaans nie verdwyn nie, is ’n mite.  Dis juis aan die manier wat Afrikaans nou gepraat word dat alle tekens daar is dat die taal aan die verdwyn is.

Dikwels hoor ek mense, insluitende omroepers of sal ek sê veral omroepers, sê “wat maak jy van” ipv “wat dink jy van”.  Al hoe meer praat ook van “wat as” ipv “sê nou” of “gestel nou”.  ’n Omroeper by een of ander skou praat heeltyd van “die skougronde” daar ipv “skouterrein”. Ook baie populêr onder die omroepers is “in terme van”, “wees op die uitkyk vir” of “kyk uit vir” en dan is daar nog hier en daar een wat van “uitmis” praat.

Nou die dag, net voor die verkiesing, sit twee van RSG se gesoute omroepers, Anita Visser en Piet Croucamp (ek vermoed hy werk ook by een of ander universiteit), oor die verkiesing en praat en Piet noem die woord “accountability” en wonder toe ook terselfdertyd wat die Afrikaans daarvoor is. Anita wonder toe ook, maar reken dit maak nie saak nie, iemand sal wel inbel en hulle help wat toe ook gebeur. Net na die verkiesing sit die einste twee toe weer en bespreek die pas afgelope verkiesing en jou wrintiewaar, daar wonder hulle toe weer wat “accountability” in Afrikaans is.

Ek hoor in ’n nuusberig die nuusleseres sê: “’n vragmotor het onklaar geraak en die ongeluk het ontstaan toe ’n ander vragmotor met dit gebots het.”  Nog is dit het einde niet want met die volgende nuusberig sê sy toe presies weer dieselfde! Die woord “doen” word ook nou al amper deur almal as onoorganklike werkwoord gebruik, soos in Engels.

Omroepers, en gaste, in omtrent elke gesprek, sê, nadat hulle een of ander iets genoem het, “in Engels ken ons dit as ...” en dan sê hulle die Engelse woord. Hoeveel keer hoor jy nie iemand sê “ek weet nou nie wat die Afrikaans hiervoor is nie” en dan sê hy die Engelse woord. Party dominees en pastore sê dikwels “die Engels is vir my so mooi” en dan kom hulle met ’n hele relaas in Engels. Daar is selfs dominees/pastore wat stukke uit die Engelse Bybel voorlees EN dan nog die gemeente in Engels laat sing ook.

Die gas wat die motorrubriek doen praat met die vorige program oor motorhandelsname en sê “Volvo” beteken “I roll”.  Wat laat hom dit in Engels sê? Van name gepraat, daar is welsynsorganisasies wat hoofsaaklik deur Afrikaanssprekendes bedryf word en amper uitsluitlik Afrikaanssprekende gemeenskappe bedien maar die naam is Engels. Selfde met Afrikaanssprekende vervaardigers; hulle saak, en hulle produkte, se name is Engels, selfs skilders se skildery-titels is deesdae omtrent almal Engels.

Ons Afrikaanssprekendes, lyk dit my, se houding teenoor Afrikaans verskil nie veel van die regering s’n nie; dink maar aan Lesufi. Ek kan met redelike sekerheid sê Afrikaans, soos ons dit ken (of geken het), het reeds sy gat gesien.

Jan Rap

 

  • 21

Kommentaar

  • Jan, ek het nie vir jou antwoorde nie. Ek word ook erg vies wanneer ek mense hoor Afrikaans praat en dit met Engelse aanhalings/woorde meng. Dit is soos jy sê, die mense gee nie 'n duit om nie. Daar is die lot wat sê die taal moet groei en aanpas by ander tale en veranderings. Daar is mos maar altyd 'n verskoning en rede vir alles. Intussen word die taal verkrag verfoei en verguis.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Tydens ABO was daar hensoppers, verraaiers en oorlopers. Deesdae is dit herhaling van dieselfde tendens.
    Na ABO in 1905 was Jan Smuts, as Brits-opgeleide prokureur, die minister van onderwys in die Transvaalse-Oranje Vrystaat en het hy Engels as skooltaal in staatskole afgedwing. CNO (Christelike Nasionale Onderwys-kerkskole) het ontstaan in verset teen die taalbeleid. Hoog-Hollands/ Afrikaans was onderwystaal in hierdie skole.
    Daar is ’n obsessie om Afrikaans te laat uitsterf voor dit in 2025 100 jaar oud is. Ek dink dat Afrikaans sal oorleef ten spyte van skeptici. Ek het in Namibië geleer dat hul Duitse dialek baie ouer is as moderne Duits, maar ten spyte van als nog oorleef.

  • Baie dankie vir die artikel, dit word opreg waardeer!

    'n Geveg vir ons geliefde taal se suiwerheid en behoorlike ontwikkeling is beslis op hande!

    Ek lees tans bv Die Daggaboer en dit is al wat ek daaroor gaan sê, want hierdie is nie die forum om my verder oor die taalvermenging daarin uit te laat nie.

    Groete

  • Verantwoordbaarheid!
    Politiese korrektheid is besig om ons taal te vernietig, trouens, dit vernietig enigiets wat in sy pad staan, en is die vernietiger van kulture en diversiteit in alle dele van die wêreld. Die probleem is dat die verfoeilike verskynsel veroorsaak dat daar nie gedebatteer of gepraat mag word oor tekortkominge of gebreke nie, en sodoende bly die tekortkominge staan, en laai die griewe op sonder dat daar wedersyds gesprekvoering plaasvind en 'n mate van verstandhouding teweeggebring word.
    Politiese korrektheid gaan nog die einde (indien dit nie reeds op hande is nie) van die Westerse beskawing beteken, en daarom sê ek, dank die Here vir Trump, Salvini, Orban en Pole.
    Dankie.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Die bittereinders, waarvan ek myself deel ag, maak ons bydraes tot kollektief, wie glo dat ons moet selfbeskikking doen met selfwerksaamheid sonder regering se hulp, sal weet dat dit oor die taalbeleid gaan en nie oor etnosentrisme nie. Afrikaans sal net oorleef as die eienaars daarvan as kollektief bydrae.

  • Beste Jan, met my gaan dit nog goed. Hoe gaan dit nog met jou?
    Skouterrein? En dit van 'n man wat "suiwer" Afrikaans wil praat? Ag, nee, Jan! Dis mos tentoonstellingsterrein, of hoe?
    Dit is die probleem met Afrikaans. As 'n mens eers moet dink wat die korrekte woord en grammatika moet wees, dan gaan dit met jou soos met die duisendpoot.
    Dat Afrikaans soos ons dit ken, sy gat gesien het, is heeltemal waar. Die Afrikaans wat hulle in 1875 gepraat het, het ook al lankal sy gat gesien. So sal dit maar voortduur tot in lengte van dae. Oor 'n duisend jaar sal ons nie 'n woord daarvan verstaan nie.
    Groete,
    Angus

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek het Afrikaanse boek van 1925 gelees. Daarin was meer anglisismes en lelike anglisismes as aangehaalde Engelse terme. Wat vir my erg is, is dat bv selfstandige naamwoorde uit Engels in Afrikaans verbuig word, bv Chinese wat Sjinese word. China wat Sjina word in media ... Dit was/skynbaar hoogdrawende Afrikaans as mens Latynse woorde gebruik of Duitse uitdrukkings. In my 60 jaar onthou ek houe met liniaal oor hande vir gebruik van anglisismes.
    Jan Rap, hoe sou jy "grumpy old man" in Afrikaans vertaal/beskryf?

  • Avatar
    Hans Richardt

    Jan Rap, is ons terug by wat Standaardafrikaans is? Daar is Afrikaans en dan dialekte en streeksdialekte bv Kaaps. Jare terug was hierdie in lengte bespreek en tot geen gevolgtrekking gekom nie. Afrikaans in De Aar is nie Afrikaans in bv Pretoria of op Kaapse Vlakte nie.

  • Beste Angus
    Goed dankie man. Lanklaas gepraat.
    Ek sien jy sukkel nog steeds met die begrip 'verandering'; daar is gevalle waar verandering besoedeling - en dus agteruitgang - behels en dan is daar natuurlik gewone verandering, die gevolg van tydsverloop. Jy moet maar sê as ek kan help.
    'Skou' is heeltemal korrek, dink aan 'aanskou die werke van sy hande', 'skouperd', 'skougehalte' beskuit ens - jy praat tog nie van 'n 'tentoonstellingsperd' of 'tentoonstellingsgehalte' beskuit nie. Dink ook aan 'ten aanskoue van die hele skare'; dit is nie 'ten tentoonstelling' van die skare nie.
    Evenwel, ek waardeer dit altyd as jy my op foute wys - wys jou hoe agteruit Afrikaans al gegaan het as selfs ek al so beïnvloed deur Engels is dat ek dit nie agterkom nie. So, help asseblief - ons moet waaksaam en die Engelse invloed vermy soos varkstr#nt op toebroodjies.

  • Hans, 'grumpy old man' is 'knorrige ou man' of bloot net 'n 'ou korrelkop'.
    Hoe sal jy 'kom sit hier by oupa in die sonnetjie' in Engels vertaal?

  • Jan Rap: “Come and sit with your grandfather and enjoy a bit of sunshine.”

    Taal word lewendig gehou deur sy sprekers en solank daar mense is wat Afrikaans
    praat sal die taal bestaan. Taal is soos mense veranderlik en soos mense aanpas
    by nuwe omstandighede sal hul die taal aanpas om die omstandighede die beste te omskryf en te vertel.
    Dat daardeur iets van die mooie van die Afrikaans waarmee 'n mens groot geword het verdwyn, is seker, want wie beskryf 'n winternag nog soos Eugène Marais?
    Winternag
    O koud is die windjie
    en skraal
    En blink in die dof-lig
    en kaal,
    so wyd as die Heer se genade,
    lê die velde in sterlig en skade.
    En hoog in die rande,
    versprei in die brande,
    is die grassaad aan roere
    soos winkende hande.
    O treurig die wysie
    op die ooswind se maat,
    soos die lied van ’n meisie
    in haar liefde verlaat.
    In elk’ grashalm se vou
    blink ’n druppel van dou,
    en vinnig verbleek dit
    tot ryp in die kou.
    Dit is een van die gedigte wat 'n mens in jou diepste wese aangryp en ontroer.

  • Avatar
    Yolanda Lindeque-Strauss

    Ek het nou nie die artikel gelees nie, maar het myself al dieselfde vraag gevra (tyd te beperk en klaar - soos sommige Afrikaners maar is - my kommentaar gereed). Verlede jaar het ek filmmakers van regoor Afrika by DISCOP ontmoet om ons draaiboek-agentskap te gaan voorstel. Niemand noord van die ewenaar het geweet daar is so taal soos Afrikaans nie. 'n Paar Europese lande weet darem en so ook Amerika (danksy hoofsaaklik die film "District 9"). My oplossing is om die wêreld (Afrika ingesluit) deur films van ons unieke taal te leer. Nie net ons eie mense nie. Tans is ek besig om die draaiboek waarvoor ek in 2006 juis op LitNet begin navors het, en met Dan Sleigh in kontak gekom het, oor Wolraad te skryf. Dit is nie in Engels nie, want die era was voor die Britte die Kaap oorgeneem het. Dit is in al die tale van die karakters wat daarin is, en natuurlik is een van die tale Afrikaans. Gelukkig is die wêreld nou meer ontvanklik as ooit vir veeltalige films. Die teikenmark is onder andere Europa, Afrika en Asië. (Dit is maar net een van die Afrikaanse films en reekse wat ek op internasionale vlak gaan maak.)
    Deur ons taal, wat seker net deur omtrent 10 miljoen mense in die wêreld nog gepraat word, onder die internasionale mark se aandag te bring, dink ek ons sal meer mense aan ons kant kry om vir die oorlewing daarvan te veg.

  • En die rede is omdat die ekonomie verengels het. Ek kan sonder kunstefeeste leef, maar ek kan nie sonder 'n werk leef nie en om werk te kry - veral in die korporatiewe wêreld - moet ek Engels goed magtig wees. Solank as wat daar nie werksgeleenthede in Afrikaans is nie, sal mense (Afrikaners) verengels.

  • Avatar
    Uther Pendragon

    Ek is net so bekommerd oor die oorlewing van hoër-funksie Afrikaans, m a w Afrikaans as vak-, regs- en skryftaal en nie net as tuis-spreektaal nie. 200 tale het oor die laaste 60 jaar uitgesterf en elke twee weke verdwyn daar 'n taal. Daar word voorspel dat tot 95% van alle tale binne die volgende eeu gaan verdwyn.
    Ongelukkig is daar veel meer op die spel. In die VSA kommunikeer die gemiddelde gesin ongeveer 34 minute per dag met mekaar en spandeer die res van die tyd - vir ure aanmekaar op hulle selfone, die rekenaar of voor die TV. Die situasie is nie veel anders in SA nie. Dit help veel as mens 'n taal wil red as die sprekers daarvan in elk geval reeds in hulle koppe elders is - en ook heeltyd in 'n ander taal met absolute gemors besig gehou word.
    Daar is egter mense wat glad nie eens TV 's het nie, nog regte boeke lees - ook in Afrikaans en wat in Afrikaans skep. Hulle bring ook soveel van hulle tyd moontlik met hulle kinders en uitgebreide familie deur en is binne die taalgemeenskap bedrywig. Van hulle tuisskool en ander veg vir Afrikaanse onderrig in staatskole. Daar is derduisende van ons.
    Maar die prentjie word nog donkerder: toe iemand in AI onlangs gevra was wat die rol van mense gaan wees wanneer die vierde industriële revolusie en AI binnekort alles vir mense gaan doen, was sy antwoord dat daar binnekort geen nut vir mense meer sal wees nie. Reeds sit derduisende gegradueerdes in SA - en miljoene wêreldwyd - sonder werk en dit gaan net in die toekoms vererger wanneer meer en meer goed gemeganiseer en geoutomatiseer word. Kyk maar wat onlangs met die banke en DSTV gebeur - die publiek word deur rekenaars gehelp en werkers word oorbodig. Myne en fabrieke kan oornag gemeganiseer word en nog meer mense gaan hul werke verloor. Mense het ook super-spesialiste geword en kan net een spesifieke dingetjie doen en wanneer daardie dingetjie verdwyn, verdwyn die persoon se funksie.
    Hierdie dinge, soos klimaatsverandering en die Sesde Uitwissing, is onafwendbaar. Ek glo egter dat elkeen moet doen presies wat hy of sy wil - dit noem ek demokrasie. Dit is ook so dat mense nie weet wat goed vir hulle is nie - en dit noem ek natuurlike seleksie.

  • Yolanda Lindeque-Strauss, deur die taal wyd bekend te stel, soos jy nou maak, is natuurlik ook 'n manier om vir die taal te veg, 'n uitstekende manier om die waarheid te sê. Die ander manier van veg wat jy duer implikasie NIE van hou nie is uiters noodsaaklik anders gaan jy uiteindelik 'n taal aan die wêreld bekendstel wat nie bestaan nie.

  • Nee Hans 'Join grandfather in the sun' is gladnie die vertaling vir 'kom sit by oupa in die sonnetjie nie'; dit klink eerder soos 'n bevel van die ouma om die kind onder haar voete uit te kry.

  • Gaius, ONS Afrikaanssprekendes is die rede dat die ekonomie verengels het soos ons ook die rede is dat die hoër funksies van Afrikaans besig is om te verdwyn. Dis nie die pous, of die noodlot of die koningin van Engeland se skuld nie - dis ons eie onverskillige houding teenoor Afrikaans en ons skoorvoetigheid wat die oorsaak is dat Afrikaans nou aan die verdwyn is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top