Watteau

  • 0

Die hele ding het in ’n droom tot my gekom en daarom sal dit wel waar wees.

Ek droom ek reis deur die land met ’n slank, bleek man in my geselskap; ’n Europeër op besoek.

In die motor speel hy met iets wat hy iewers opgetel het.

’n Veer, sê ek wysneusig.

’n Varing, sê die Europeër koppig.

’n Varing sou al lankal verwelk het, kap ek teë.

’n Veer is nie groen nie, sê die Europeër.

Die ding wat ’n veer is maar nes ’n varing lyk, word ’n twispunt tussen ons, en om verdere onaangenaamheid te vermy, gaan ons na my mentor, ’n verstandige ou man, en vra hom om uitsluitsel te gee.

Die verstandige ou man is baie ernstig omtrent ons probleem.

Daar is maar één toets, sê hy, plant hom. Maar julle moet die grond deeglik verryk, met eie bloed en saad.

Toe ons tuis kom, bevrug ons die grond en plant die groen veer.

En kyk, die veer gee lote af; en die veer word ’n varingbos, met spore onder elke blaar. Die Europeër doop die varingbos Watteau, en ek aanvaar die naam, al weet ek nie mooi wat dit beteken nie.

En Watteau gedy, selfs ná die Europeër vertrek het.

Maar op ’n dag hou die Europeër op met skryf aan my, en waneer ek hom bel, is daar nie antwoord nie.

Ek hoef nie tuin toe te gaan nie, want ek weet al klaar wat ek sal sien: ’n varingbos wat gekrimp het tot ’n veer.

 

  • Uit die LitNet-argief.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top