In aanloop tot die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se eeufeesviering in 2026, is daar vanjaar twee bekende persoonlikhede uit die Afrikaanse kultuurwêreld as beskermpersone van die WAT se Borg ’n Woord-projek aangewys. Kabous Meiring en Frank Opperman is op 16 Oktober, Internasionale Woordeboekdag, aangekondig as beskermpersone vir die volgende jaar.
Kabous Meiring is ’n Suid-Afrikaanse televisie-aanbieder, filmregisseur en diskoersfasiliteerder. Sy is veral bekend vir haar werk aan Dagbreek, Megaboere en Prontuit, waar temas soos landbou en sosiale ontwikkeling ondersoek word. As filmregisseur (o.a. Die tragiese saak van Pamina Vermaak) daag sy graag stereotipes uit. Sy glo in Afrika se unieke probleemoplossingsvermoë en bevorder entrepreneursdenke wat in plaaslike realiteite gegrond is.
Frank Opperman is ’n bekroonde akteur wat bekendheid verwerf het as Ouboet in Orkney snork nie. Hy het in verskeie televisie-, teater- en filmproduksies opgetree en geliefde karakters soos Pottie Potgieter en Ds Tienie Benade tot lewe gebring. Sy kragtoer as Lourens Adendorff in Nêrens, Noord-Kaap het weereens sy veelsydigheid as akteur uitgelig. Opperman is vroeër vanjaar vir sy lewensbydrae met ’n kykNET Fiësta-toekenning vereer.
Opperman beskou dit as ’n eer en ’n voorreg om ’n beskermpersoon van die WAT se Borg ’n Woord-projek te wees. “Ek dink in Afrikaans, ek droom in Afrikaans, ek bid in Afrikaans, ek vloek in Afrikaans. Ek is Afrikaans. Ons moet iets doen vir Afrikaans en ek hoop dat ek mense kan inspireer.”
Volgens Meiring is daar min dinge so interessant soos die leksikografie. “Kortom, leksikografie is sexy. Nou kry ek die kans om geassosieer te word met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal as beskermpersoon in hul honderdste jaar. Ek was juis nog nooit meer hoopvol en beïndruk met Afrikaans as nou, met die aanloop na 2026, nie.”
Die beskermpersone word aangewys op grond van hulle positiewe bydrae tot Afrikaans en omdat mense wat lief is vir Afrikaans met hulle identifiseer. Die fondsinsamelingsprojek is vanjaar reeds in sy sestiende jaar. Vorige beskermpersone sluit in: David Kramer, Charlene Lackey, Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, HemelBesem, Tracy Lange, Laurika Rauch, Dawie Roodt, Amanda Strydom, Hannes van Wyk, Amore Bekker, Frazer Barry en Rudie van Rensburg.
Dit kos R100 om ’n woord te borg en R5 000 om dit eksklusief te koop, dan behoort daardie woord net aan jou. Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en geborgde of gekoopte woord, asook toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf jaar as jy ’n woord koop. Boonop word jy ingeskryf vir ’n gelukkige prystrekking van R25 000 geborg deur Sanlam.
Gaan na die webwerf www.wat.co.za en klik op Borg ’n Woord. Deur ’n woord te borg of te koop werk jy mee aan die dokumentering van die Afrikaanse taal in sy wydste omvang.
Kommentaar
Hoekom is Frank Opperman en Kabous Meiring volgens die WAT "Afrikaanses" en nie Afrikaners nie? Is die woord Afrikaners dan steeds taboe onder die kulturmarxistiese Stellenbosch-akademici?