Ek sien die vraag "Wat is ’n taal?" op die LitNettuisblad met drie subvragies naamlik "Wat maak hom rats en gespierd?", "Wat laat hom oorleef?" en "Is die taal nie veral die mense wat hom praat nie?"
Dis maklik.
Taal is natuurlik ’n kommunikasiemiddel maar, tegelykertyd en dalk meer belangrik, deel van die spreker se identiteit. As sodanig ’n vlakkie of wat hoër as wat die keuse van sy klere se kleure, die maak van sy kar, die binneversiering van sy huis ens ens deel van sy persoonlikheid en identiteit is.
Wat hom rats en gespierd maak? Wel, siende dat ’rats’ en ’gespierd’ eienskappe van ’n lewende organisme is kan mens voortgaan met die analoog en dit stel dat, soos met die organisme, sorg oefening vir ratsheid en spiere. Hoe meer mense die taal praat en skryf hoe meer bydraers is daar en die taal groei. Gebrek aan oefening maak die organisme swak en hy kwyn en gaan uiteindelik dood. Ook maak gebrek aan oefening die organisme vatbaar vir siektes wat hom nóg vinniger laat sterf.
Wat hom laat oorleef? Wel, soos blyk uit wat hierbo genoem is, natuurlik gereelde gebruik, met ander woorde oefening. Mense moet hom gedurig en oral praat en waak teen besmetting deur allerhande virusse.
Of ’n taal nie veral die mense is wat hom praat nie? Nie rêrig nie; Latyn en Antieke Grieks en nog ’n hele klomp ander tale bestaan sonder dat mense dit eintlik praat. Daar kan nou wel aangevoer word dat dit nie lewende tale is nie maar die tale word nogtans gebruik. Dan is daar is nog kunsmatige tale soos onder andere Esperanto ook.
Bogenoemde tale is NIE die mens wat hulle skryf, bestudeer of geniet nie. Die mens is nie ’n taal nie en andersom. So is Afrikaans of Engels ook nie die mens wat hom praat nie; hy is die mens wat hom praat se kommunikasiemiddel en deel van sy identiteit.
Die vergelyking met ’n lewende organisme is nogal gepas. Soos ’n organisme siek kan word deur besmetting so kan dieselfde met taal gebeur. Om sonder rede vreemde woorde te gebruik kom neer op besmetting. As jy byvoorbeeld in Afrikaans ’innocent’, ’difference’ of ’introduce’ in plaas van ’onskuldig’, ’verskil’ of ’voorstel’ gebruik, soos algemeen in die Kaap gebruik word, is jy nie oulik of kreatief nie; jy’s besig om die taal te besmet. Terselfdertyd word ’n gedienstigheid openbaar teenoor Engels wat glad nie help om Afrikaans ’gespierd’ te hou nie. Is dit nie ironies dat Afrikaans die siekste is die sogenaamde bakermat is nie?
As ons so na die radio en TV luister, en Afrikaanssprekers oor die algemeen se taalgebruik, is die taal besig om agteruit te gaan. Nie meer lank nie, lyk dit my, is Afrikaans in die posisie van Gaelic, oorgeneem deur Engels en word hy net op feesdae vir die snaaksigheid met ’n liederlike Engelse aksent gepraat.
Jan Rap


Kommentaar
Bravo! Ek skryf 'n avontuurreeks wat afspeel in die laat neëntiende eeu, in suiwer Afrikaans dus, en die terugvoer wat ek sonder uitsondering kry van ouers, onderwysers en lesers jong en oud, is dat die taalgebruik so pragtig is. Baie moderne skrywers probeer atmosfeer te skep met die maklike foefie van taalvermenging en besef blykbaar nie dat die kuns juis daarin lê om jou eie taal reg te gebruik.