Wat is 'n Afrikaner ...

  • 11

... tog so gepla met wat ’n Afrikaner is?  Hoor mens ooit hierdie soort van debat onder Vlaminge, Duitsers, Engelse, Dene ens?

Daar was nou die oggend weer een van hierdie politieke partydebatte op RSG, hierdie een tussen die VF+, Front Nasionaal en die DA.  Terloops, al drie die verteenwoordigers – Pieter Mulder, Dan Roodt en Änchen Dreyer – was uitstekend en daar was orde in die gehoor, baie min van die lawaai en uitjouery wat so ’n kenmerk van hierdie soort debatte is waar die ander partye by betrokke is.  Ek het Änchen se voetwerk bewonder toe sy gelooi was oor regstellende aksie en grondhervorming maar helaas, die DA wil twee here dien en, soos ek gesê het, het sy, en dus haar party, goed slae gekry hier.

Pieter Mulder was baie beter en meer geloofwaardig as Änchen, hoofsaaklik omdat hy nie toorkunsies nodig gehad het om kiesers te beïndruk nie en, natuurlik, Dan was die beste want hy is onbeskaamd pro-ons; glad nie gerem deur die vrees om op ander se tone te trap nie.

Maar ek dwaal af; ek was besig met die Afrikaner se probleem met die woord ‘Afrikaner’.  So ver ek kon onthou het Änchen en Pieter albei alreeds hierdie A-woord gebruik toe Dan dit noem en net daar neem die voorsitter, Kobus Bester, toe die debat oor; hy wil weet wat ’n Afrikaner nou eintlik is kan jy glo?  Natuurlik net ’n retoriese vraag om sy baasin (basin of nooi sal nie hier werk nie), topbestuur en natuurlik die sogenaamde liberaal-demokratiese element in die gehoor te beïndruk want die kwessie is al tot satwordens toe behandel en bespreek in die koerante, om braaivleisvure en op einste RSG. 

Die feit van die saak is dat Kobus Bester weet baie goed wat ’n Afrikaner is.  Sy manewales gedurende die debat was nou maar net weer ’n vertoninkie om sy partyverbintenis te illustreer (ontoelaatbaar vir ’n voorsitter, hoop hy’s oor die vingers getik daaroor).  As hy rêrig nie weet wat ’n Afrikaner is nie moet hy prof Piet Croukamp gaan vra want dié het op ’n kol gesê jy moet jouself tog net “nooit verpak as ’n Afrikaner” nie (wat natuurlik impliseer hy weet wat ’n ‘Afrikaner’ is). ’n Onsinnige stelling mar dit nou daar gelaat.   Of hy moet Jason Lloyd gaan vra; ek het al gesien hy gebruik die woord ‘Afrikaner’.

Een ding moet ek darem van Kobus Bester sê:  Sy Afrikaans is ’n vars briesie tussen al daardie oorrondings (pô en mô) en nasale oorplattings (aaitgebraaide aktiwitaaite) op die oggendprogram (ek wonder net hoekom praat hy altyd van ‘terugvoering’ in plaas van ‘terugvoer?).

Nou-ja, tot hiertoe dan.

Jan Rap

  • 11

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Cyril Ramaphosa het gesê: "Ons identiteit behoort nie deur kleur, taal of stamgroepe bepaal te word nie. Ons sal daarmee moet wegdoen, dit is beledigend" (Die Burger, 30 April, p 5). Hy is bang vir dominering deur groter stamme omdat hy 'n Venda is. Strydig met wat hy beweer, word die identiteit van die Afrikaner juis in hoofsaak deur kleur (wit) en taal (Afrikaans, verkieslik Standaardafrikaans) bepaal en dit is geensins beledigend nie.

     

    Johannes Comestor 

  • Beste Jan,

    Ek gesels nou die dag met 'n oubasie. hy vertel my toe hoe hulle Afrikaners in sy studentedae in die vyftigerjare die sogenaamde Blikfakkels (Torch Commando) se vergaderings opgebreek het deur hulle fyn en flenters te slaan met sambokke. 
     
    Lekker ou dae daardie, toe Afrikaner nog Afrikaner was.
     
    Afrikanergroete,
    Angus 
  • Beste Angus
    Gelukkig is daardie oubasie van 'n ander dam se ganse, soos jy sê, 'hulle' Afrikaners.  Dit was nie ons Afrikaners - soos ek en jy - nie.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Jan,

     

    In jou skrywe blyk dit dat jy vir seker weet wat 'n Afrikaner is, of sal ons liewer sê dat jy voorgee dat jy weet. Angus kan nooit 'n Afrikaner wees nie ( hy weet dit, en ek weet dit)  dus twyfel ek of jy werklik weet wat 'n Afrikaner is.

     

    Ek gee vir jou n metafisiese raaisel oor Afrikaner-wees en die bestaan van 'n Afrikanervolk. Aangesien min mense buite die grense van Suid-Afrika, in die VSA., Brittanje, Europa en Asië nog nooit van 'n Afrikaner  gehoor het nie, bestaan so 'n entiteit in werklikheid? Gedurende die Anglo-Boere oorlog het belese persone in Europa wel van 'n Boerenasie gehoor wat geveg het teen die Britse Ryk, en baie simpatie vir hierdie volk gehad, maar daardie geslag lê al in die graf. Die hedendaagse jeug buite Suid-Afrika se grense het nog nooit van 'n Afrikaner gehoor nie.

     

    My definisie van n Afrikaner is as volg: 'n Wit persoon van Hollandse, Duitse en Franse afkoms met Afrikaans as huistaal, en wie behoort aan een van die drie protestantse susterskerke. Reken miskien daarby daardie calvinistiese Skotte wie uit haat vir die Engelse Afrikaans as huistaal aanvaar het asook die NG Kerk.

     

    Ek dink dat jy baie in jou noppies sal voel oor hierdie tradisionele beskrywing van n "Afrikaner". Wees nou 'n man en laat my weet wie in jou opinie 'n Afrikaner is.

     

    Groete,

     

    Pieter Redelinghuys 

  • Beste Pieter
    Jy gaan moeilikheid by Kobus Faasen en John Fagoedien oor die term "wit persoon"; hulle gaan vir jou vra wat is 'n 'wit persoon nou eintlik.  Jy gaan redelik moet rondval om dit te verduidelik want wetenskaplik, sê genoemde persone vir my, is daar nie iets soos 'ras' nie.  Die feit bly egter bestaan soos oom Piet Koornhof (of was dit nou die liewe Heunes) altyd gesê het dat jy, en ek, en genoemde twee persone, ALMAL, weet wat 'n wit persoon is.
    Netso met die begrip Afrikaner; almal weet wat dit beteken maar om een of ander rede is dit polities korrek om bewusteloos hieroor te pleit.  Ek het destyds met die debat hieroor, en 'n paar keer daarna, my definisie gegee omtrent "Afrikaner" maar laat ek dit maar weer doen:  'n Afrikaner is 'n persoon wat sê hy is 'n Afrikaner.  Terloops, dieselfde geld vir Fransman, Duitser, Amerikaner, Engelsman, Armenier, Rus of enige nasionaliteit waaraan jy kan dink.
    Jy is verkeerd wanneer jy sê niemand buite die grense van Suid-Afrika weet wat 'n Afrikaner is nie.  Die Engelse gebruik die woord net so, die Duitsers het dit verander na 'Afrikaaner' om dit te onderskei van hulle 'Afrikaner' wat beteken 'iemand van Afrika', net soos 'Amerikaner' beteken 'iemand van Amerika' (in Afrikaans en Duits).
    Jou definisie van 'Afrikaner' is onvolledig (dus verkeerd) want daar is derduisende Afrikaners wat aan die Apostoliese kerk behoort, en duisende ander wat aan die Katolieke kerk behoort en dalk nog duisende wat aan geen van die genoemde kerke of die drie susterskerke behoort nie.  Daar is ook duisende Afrikaners wat ateiste en Boeddhiste is en wat agnosties is en dalk nog etlike duisende wat nie wit is nie.  Daar is ook Afrikaners met Skotse, Ierse, Italiaanse en Poolse voorouers en saam met my in die weermag was 'n Afrikaanssprekende Jood (ek weet nie of hy homself ook as 'n Afrikaner beskou het nie; ek het hom nooit gevra nie).
    Nou-ja, daar het jy dit.  Laat maar weet of daar nog iets is wat vir jou onduidelik is.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Pieter

    Ek reken jou siening van 'n Afrikaner soos deur jou hierbo beskryf, lankal nie meer van toepassing is nie.  Solank daar mense is wat hulself as Afrikaner beskou, hetsy wit of anderskleurig, is daar Afrikaners.

    Ek beskou myself beslis as 'n Afrikaner, homoseksueel en ateis daarby, met 'n kulturele verbondskap aan 'n kulturele groep wat bestaan uit mense met 'n uiteenlopende lewensbeskouing, hetsy politiek, godsdienstig al dan nie, Afrikaanssprekend, asook eie seksualiteit.  Die feit dat Afrikaner instansies soos AfriForum, Solidariteit, ATKV, FAK, Handelsinstituut, ens. dieselfde siening as myne huldig, is genoegsame bewyse dat Afrikaners wel bestaan en nie volgens jou definisie nie.

  • Pieter

    'n Verdere beskouing mbt Afrikaner.

    Bv. Prof Pierre de Vos beskryf homself soos volg:  "I am a white, Afrikaans speaking South African. But I am also a gay, HIV positive, constitutional law professor; a citizen of the world.  Although I am proudly Afrikaans speaking, I am decidedly not an “Afrikaner”

    Hy beskou homself 'n "wereldburger", trots Afrikaansprekend, maar beslis nie 'n Afrikaner nie.

    Nou vir 'n geleerde, 'n dom stelling.  Die konsep "wereldburger" is so vaag, dat dit skaars polities en/of kultureel  defineerbaar is.  Sy Afrikanerskap, al wil hy dit misken, kan hy nie daarvan ontsnap nie.  Buite die Afrikaner gemeenskap, word hy beslis as Afrikaner aangesien.  Indien Richard Dawkins sou gese het, hy is 'n wereldburger, beslis nie 'n Brit nie, sou hy ook nie sy Engelskap, sou kon ontsnap nie.  Almal sien hom als Brit aan.

    Die bekende Rushdie, 'n Britse burger van "Satanic Verses" faam, word steeds als Iranier aangesien, al het hy sy kultuurgroep misken.

    Dieselfde geld vir Beyers Naude, Van Zyl Slabbert, Johan Heyns, ens.  Buite die Afrikanergemeenskap, word hulle gedurig steeds as Afrikaners aangesien.  Wat se dit?  Jy kan nie maklik jou Afrikanerskap ontsnap nie, al wil jy. Verder se dit vir my dat non-Afrikaners weet wie en wat 'n Afrikaner is.

  • Jaco, hier't jy die spyker op die kop geslaan. 
    Wat prof De Vos betref:  Die feit dat hy al daardie goed noem wat op hom van toepassing is, soos dat hy sy skoene met Nugget skoonmaak, 'n wit/rooi/groen/blou kar ry, hy 'n prof in grondwetlike reg is ens ens  het niks te doen met die feit dat hy homself nie as 'n Afrikaner beskou nie.  Hy kan slegs verklaar dat hy nie 'n Afrikaner is nie volgens 'n stel kriteria waaraan Afrikaners volgens hom voldoen en wat dus nie op hom van toepassing is nie.  En, vir al wat ons weet, sit hy die pot mis met sy stel kriteria - ons weet nie, hy't nie gesê wat dit is nie.
    Jan Rap

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Jan en Jaco,

     

    Baie dankie vir julle terugvoer en die interessante idees wat julle voortbring. Miskien het die definisie van "Afrikaner" maar ook verander sedert die Sestigerjare van die vorige eeu. Gedurende die Verwoerd-era was  Afrikaneridentiteit beslis soos wat dit in my definisie neergelê is. Volgens Jan se hersiene definisie sluit dit almal in wat sê dat hy 'n Afrikaner is. Is daar nog vandag "super-Afrikaners" soos wat hulle tipeer is in die Sewentigerjare? En dalk ander onderverdelings volgens sosiale status en taalgebruik?

     

    Terloop Jaco, Rushdie is 'n Britse burger van Pakistani oorsprong. Ek wonder wat hy homself beskou en hoe hy homself sien? Dalk net "British" ( n historiese staatsbegrip) weens die feit dat hy nouliks enige affiniteit met Pakistan kan aanvoel of met die Moslem geloof.

     

    Identiteit is darem 'n interessante ding. Dit hang nie saam met bloedverband, land of taal nie ( hoewel al drie n rol speel tot minder of meer mate)  maar met  n ondefineerbare geestestoestand.

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • Pieter

    Dankie vir die regstelling mbt Rhusdie.  Ek het op foutiewelike geheue staatgemaak.

    In die 1970's sou dit ongehoord gewees het dat Afrikaners vir die Progge gestem het.  Vandag het die oorgrote meerderheid Afrikaners vir die Progge-verwantskap, nl. die DA gestem, en die tradisionele Afrikaner politieke partye verder afgemaai.  Dit se tog iets omtrent die hedendaagse Afrikaner of hoe?

    Die feit dat jy vanuit die mistige noorde inskakel met Afrikaners, duisende km's ver, se vir my jy het 'n nostalgie vir die Afrikaanse taal en vir Afrikaners.

    Dit wil voorkom dat jy ook nie jou Afrikanerskap kan ontsnap nie.

  • Jan

    Dankie vir jou respons.

    mbt Afrikanerskap, het ek en jy baie in gemeen.  Ek vind dit net jammer dat jy so met die politiese verlede vashaak, waar ons prioriteit die Afrikaner se hede toekoms hoort te wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top