Om sportteleurstellings te oorkom is nie altyd vir almal ’n eenvoudige saak nie. Wat rugby betref was die tuisreeksnederlae teen die 1958 Franse span van Lucien Mias en die 1974 Britse Leeus van Willy John McBride katastrofaal en nog vars in die geheue. Wie sal ooit die teleurstelling van die derde toets in Auckland teen Nieu Zeeland (1981) vergeet toe die reeks verloor is deur ‘n omstrede strafskop teen die Bokke in die laaste minuut van die wedstryd.
’n Goeie vriend van my wat tans in Australië bly en ’n kenner van die sportsielkunde is, vra my of ek na die Japannese tragedie ’n wispelturige (fickle) of ware Bokondersteuner is. Hy stuur daarna vir my ’n uittreksel uit ’n interessante artikel waarvan ek ’n vrye vertaling hieronder gee:
Vurige sportliefhebbers is geneig om konsekwent te hou by hul passie vir hul span, maak nie saak wat gebeur nie. Aan die anderkant kan selfs die absolute ware onder die ware ondersteuners vind dat hulle “geloof” werklik getoets word wanneer dinge nie goed verloop vir hul geliefde span nie.
Sosiale sielkundiges het twee reaksiepatrone by sportondersteuners geïdentifiseer wat verband hou met die prestasies van hul span.
Eerstens, die beginsel van "FloGeRo." Hierdie term is nie 'n tikfout vir kanosport nie, maar is van toepassing op die verskynsel wat as "Floreer in Gereflekteerde Roem" bekendstaan. Wanneer jou span goed doen, is jy in ekstase. Navorsing toon dat op die dag na die oorwinning 'n span se ondersteuners beter voel oor hulself. Hulle sê "ons" het gewen (identifikasie met die span), en met "ons," word nie hulself persoonlik bedoel nie. Hoe hegter jy identifiseer met die span, hoe meer geneig is jy om te “flogero”. Mense wat “flogero” is meer geneig om die regalia van hul span op die dag na 'n oorwinning te dra.
In teenstelling hiermee verwys "AfGeMis" na die "Afsny van Gereflekteerde Mislukking." Jou span is vernederend verslaan en nou wil jy jouself so ver as moontlik distansieer van die span en hul skandes. Die vernedering word eenvoudig uitgeblokkeer in die bewussyn. Dit is nie "ons" wat misluk het nie, dit is "hulle". Tydens hierdie emosionele belewing word op die dag na die swak vertoning geen hoede, hemde of logo’s van die span gedra nie.
Dit is die onderskeidingstoets tussen ware en wispelturige ondersteuners. Die Afgemistes is die wispelturige aanhangers. Hul identifikasie met hul span styg en daal volgens die telbord. Ware ondersteuners (die Flogero’s) in teenstelling hiermee, sal die regalia van hul span dra afgesien van swak vertonings deur die span. Ware ondersteuners kan moedeloos voel, maar hul helde bly hul helde, selfs al word die gemoed effens gedemp deur die nederlaag.
Die vraag ontstaan dus of sportondersteuners bloot in twee kategorieë ingedeel kan word wat hul reaksie op wedstryduitslae betref. Die menslike persoonlikheid is natuurlik te kompleks hiervoor en die indeling in absolute kompartemente is kunsmatig en bloot ’n teoretiese oefening. Nogtans bly dit ’n interessante onderwerp van bespreking.
’n Voorbeeld van ’n middeweg is natuurlik om jou te wend tot skryfwerk wat beide sinvol en terapeuties van aard kan wees veral wanneer jou “geloof” in die span werklik dramaties getoets word, en wanneer jy nie ’n ware of ’n wispelturige ondersteuner kan of wil wees nie.
Die volgende gedig is ’n voorbeeld van verskuilde digtersvaardighede wat by ’n ware ondersteuner na vore gekom het, en wat nie vir kategorisering te vinde was nie.
Bokspan aan Flenters
(Lees op die versmaat van I D du Plessis se Kaalvoet Klonkie)
Verbysterende, bulkende Bokspan
Wat balle skop as hulle moet pass (of alternatief…..Wat trane stort asof dit reën…)
Met ons oulike groepie bejaardes
Die spelpatroon prikkel veral beswaardes
Ons kom met ons beseerdes
Deur die mistige Engelse weer
En helder sing ons die woorde
Op ons eie droewige toon:
Lekka lekka gatslag
Japannese bloeisels van oral oor!
Dis ‘n gebrek aan boerekos wat ons laat strand
Groot pak slae by die hys se kant
Oksimoron

