Waar’s nog ’n volk soos my volk?

  • 2

Ons Afrikaanse plek-, dorps- en straatname word vervang, ons universiteite het verdwyn; Engels geword en dieselfde is besig om met ons Afrikaanse skole te gebeur.  Ons moet by die werk Engels praat en oral in die openbare lewe soos by die aanklagkantoor, die munisipaliteit, die belastingkantoor noem maar op.

Ons plaasboere word met eentonige reëlmaat by die honderde WREED vermoor en hierdie bedeling is openlik vyandig teenoor ons, ons taal en ons kultuur.  Ons word selfs openlik met die dood gedreig en die regering reageer skouerophalend daarteenoor.

En ons sê niks.  Inteendeel, die hoofstroom Afrikaners (miskien nie die meeste nie maar die A-groepie) loof hierdie bedeling oor dinge so wonderlik en vry sou wees.  Piet Croucamp, byvoorbeeld, het op ‘n kol gesê dit het nog nooit so goed met die Afrikaner gegaan soos nou nie.  Max du Preez skyn altyd gereed te wees om diegene te verguis wat durf waag om te beweer dat die Afrikaners hulself in ’n penarie bevind. 

Daar is ’n menigte van hierdie hofknape en regeringslofsangers  – koerantredakteurs, joernaliste, aartie faarties, lektore, professore en selfs predikante.  Terloops, wat ’n skreiende skande is dit nie dat predikante, veronderstel om die herders van ’n volk te wees, so stilswyend oor plaasaanvalle en –moorde is nie.

Ons, lyk dit my (meeste van ons) is super-onderdane; ons bied as’t ware aan om op getrap te word.  Ek wil nie hierdeur sê dat ons moet oorlog maak of toyi-toyi nie; ons moet verdomp darem iets sê, ALMAL van ons.

Jan Rap

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Jan
    Die Transvaalse en Vrystaat-republieke het die Engelse oorlog verloor met enorme lewensverliese, maar daarna sonder 'n skoot en sonder lewensverliese, het die Afrikaner die hele Unie van Suid-Afrika vir homself ingepalm. Die eerste geval verloor deur geweld, die tweede geval gewen deur slim diplomasie.
    Ons kan die huidige situasie verander, of deur middel van geweld, of deur middel van vreedsame beplande strategie uitvoering. Ooglopend staan die Afrikaner nie 'n kat se kans met geweld nie, dus is daar geen ander opsie as ondersteunde vreedsame beplande strategie-uitvoering. Die kernwoord natuurlik is "ondersteuning". Vanaf 1994 tot heel onlangs was daar geen sprake van "ondersteunde" strategie nie, weens die feit dat die Afrikaner oor genoemde tydperk leierloos was. Die situasie is geleidelik besig om te kristalliseer onder leiding van AfriForum, welke leiding stadig maar seker, besig is om die Afrikaner te konsolideer. Vergewis jouself gerus met AfriForum se Oktober 2015 vyfjaarbeplanning vorentoe vir die Afrikaner, welke strategie-beplanning reeds in werking en op tyd is. Lees veral mbt tot die stigting van private Afrikaanse tegnikons en universiteit; die opstel van 'n alternatiewe gratis media vir die Afrikaner; ens en die suksesse tot datum.

  • Jan
    Ek skryf voorts apart van my vorige respons, aangesien jy meer as een onderwerp raak.
    Max is eintlik reg wanneer hy sê dat die Afrikaner vandag ekonomies beter daar uitsien as onder die vorige bedeling. Onder die vorige bedeling was die Afrikaner se inkomste sosialisties deur die staat beskerm en van werk voorsien. Hy was gepamperlang in die staatsdiens, die weermag, poskantoor, banke, myne, ens deur werkreservering vir blankes alleenlik wat ongetwyfeld 'n onregverdige en onverdedigbare bestel was. Gemiddeld was die Afrikaner 'n blouboordjiewerker (blue collar) met 'n leefbare inkomste, asook groot skuld. Die Afrikaner het die politieke mag gehad, maar die Engelse die ekonomiese mag.
    Na 1994 het die Afrikaner grootskaals sy werk verloor tot sodanige mate dat 'n groot persentasie van hulle landuit was. Diegene wat moes aanbly, het onder swaar finansiële druk na alternatiewe begin soek. Pleks daarvan om in as en sak te sit en oor hulle lot te sanik, het hulle hul skouer aan die wiel gesit en 'n nuwe klas van klein entrepreneurskap, die ekonomiese ruggraat van die land geword.
    Verander van sosialisme tot kapitalisme; verruiling van 'n karige inkomste vir finansiële onafhanklikheid met die vooruitsig van onbeperkte inkomste. Vandag is dit die Afrikaner, en nie die Engelsman wat die ekonomiese mag van die land bestuur. Vanuit die 7 rykste Suid-Afrikaners wat Forbes behaal het, is vier Afrikaners, 2 Engelse en 1 Swarte. Dus was die verlies aan werk soos genoem, eintlik 'n bedekte seën vir die Afrikaner gewees. Die swart vakunies het by verre meer lede as Solidariteit, maar dit is Solidariteit wat daar beter finansieel uitsien.
    Hierdie ekonomiese mag van die Afrikaner het nou deel geword in die strategie-beplanning vir die Afrikaner vorentoe.
    En ja. Ons het die brandarmes onder ons, persentasie-gewys, heel kleiner as die geval onder die ander bevolkingsgroepe. En ja, daar moet ook vir hulle strategies beplan word, wat wel die geval is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top