Waaroor gaan vandag se laaities eendag gesels?

  • 0

Foto: Canva.com

Daardie dag toe Drikus uit die onderhoof se kantoor gekom het met so ’n snaakse uitdrukking op sy gesig, terwyl hy sulke geluide maak wat van intense pyn getuig, sal my altyd bybly.

Presies hoe erg die pyn is, sou ek ook kort daarna uitvind toe die rottang my op die boude getref het. Deksels seer, dis wat. Dit was in my standerd 6-jaar en ons – ons was ’n hele spul seuns wat daardie dag pak slae gekry het – se sonde was dat ons nie die Saterdag gehelp het om op te ruim ná die laaste rugbywedstryd nie.

Nou, weens die situasie van omtrent geen sport weens die COVID-19-pandemie nie, dink ek baie kere aan die herinneringe wat ’n mens aan sport het – veral uit jou kinderdae.

Soos daardie Saterdae in standerd 4 toe ek by Adelaars-rugbyklub in Rietfontein in die Pretoriase Moot gaan speel het. Ons het geweet ons gaan verloor, die kere wat ons teen Harlequins, Tuks of daardie spanne gespeel het. Ons was immers meer agter ons eie doelpale terwyl ons wag vir ‘n doelskop-poging as êrens anders op die veld.

Langs die veld was altyd ’n oom wat bevele vir sy seun – wat op die veld was – geskreeu het. Tydens rustyd sou die oom sy seun uit die kringetjie, waar ons saam met coach gestaan het, getrek het en so paar meter weg indringend met hom gepraat het. Die seun sou niks gesê het nie en net vir sy voete gestaar het.

Wanneer die tweede helfte begin het, sou sy pa hom op die skouer geklop het en iets sê soos: “Gaan wys hulle. Maak my trots.” En hom ’n paar slukke van die koeldrank uit ’n bottel laat drink het.

Een keer, ná ’n wedstryd toe ek my fiets gaan haal het – die rooi fiets wat teen die paal vasgemaak is, moes ek ’n sleutel vir ’n oom vat. Hy het in die kroeg aan die verste kant gesit. Dit was effens donker daarbinne en die plakkaat van Lion Lager teen die muur het onheilspellend gelyk.

Dit was nie sommer net vir instap nie, jy moes die ooms ordentlik groet, waarna een iets oor die wedstryd gevra het. Hulle was besig om te gesels oor die kragmeting daardie middag tussen Noord-Transvaal en Transvaal.

Hulle gesprek was driftig. Eenkant het ’n koerant gelê, wat die een oom skielik nader gesleep het. “Dis nie wat hy (Quintus van Rooyen?) hier sê nie.” Dit het nie gelyk of almal saamstem nie, en die ooms het mekaar omtrent doodgepraat.

Een oom, hy het kalm gelyk, het ’n sigaret uit ’n pakkie in sy bosak gehaal. Hy het dit teen die kroegtoonbank gekap, aangesteek en die eerste rook in die rigting van die plafon geblaas.

“Laat ons maar sien,” het hy oplaas gesê. Daar was iets gesaghebbend aan die manier waarop hy dit gesê het, so asof hy iets geweet het wat niemand anders weet nie. En daardie middag sou ons baie mooi gesien het. Sien hoe Naas Botha die Rooibontes die soveelste keer in trane het.

Waarskynlik een van die beste oomblikke in my matriekjaar was toe ons die cool dudes (dis nou die manne wat ernstig rugby gespeel en in die eerstespan was) een dag tydens touchies in ’n LO-periode geklop het.

Die “veld” was so dwars oor die krieketveld, met skoene wat aan die kant die lyne aangedui het. Wat die sege spesiaal gemaak het, is dat die cool dudes die “wedstryd” ernstig benader het.

By ons kant van die “veld” was dinge meer ontspanne. Ons vleuel het daar naby die “kantlyn”  – soos die ’n goeie vleuel betaam – gestaan. Die verskil is dat ons vleuel so nou aan dan aan die sigaret wat in sy hand was getrek het. Dit terwyl die LO-onderwyser saamgespeel het.

Die vleuel het selfs gedurende die wedstryd die bal gekry en doellyn toe genael –sigaret en al! Latere jare het ek dikwels gewonder of daardie onderwyser regtig niks van die rokery gesien het nie. En of hy dit dalk nie wou sien nie.

Daar is baie herinneringe, soos toe ons deel was van die 50-jarige viering van die Noord-Transvaal Rugbyunie, almal uitgevat in ’n T-hemp – met as ek reg onthou ’n afbeelding van ’n madeliefie op die linkerbors.

Of die onderwyser by een van die skole in die omgewing wat glo eendag tydens ’n oefening gesê het: “Dan keer ons maar weer terug na die basics.” Daardie woorde het latere jaar gereeld in gesprekke opgeduik. Jy moes omtrent iemand soek wat die woorde eerstehands beleef het, tog was dit woorde wat omtrent oral gehoor is. Dit het latere jare opgeduik in gesprekke om ’n braaivleisvuur waar oor die “goeie oud dae” gepraat is – so teen die derde bier as dinge begin nostalgies raak.

Deesdae kan ek nie help om te wonder waaroor die laaities wat grootword tydens die COVID-19-pandemie eendag gaan gesels nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top