In die loop van ons lewens word ons meermale in die diep kant ingegooi, en jy moet maar swem. Daar is nie opleiding beskikbaar oor hoe om te swem nie. Jy moet maar net.
Op skool in Biologie leer jy dat ’n boom se stam xileem en floëem gebruik om kos op en af te vervoer, jy leer van trigonometrie en sin, cos en tan in Wiskunde, op ’n calculator wat jou ma R120 gekos het, en wat jy nog nooit weer gebruik het nie. Jy leer chemise verbindings en formules in Skeinat en jy leer die gedigte totdat jy dit woord vir woord 20 jaar later nog kan opsê … Tiger Tiger, burning bright, in the forests of the night, what immortal hand or eye, could frame thy faithful symmetry … (William Blake)
Maar hoekom leer hulle jou nie die pyn van kinders hê nie. Hoekom leer hulle jou nie hoe om jou man te ondersteun as hy langs die lyk van sy kind staan, en huil soos ’n babatjie nie. Hoekom leer hulle jou nie hoe om pyn en verlies te verwerk nie. Hoekom leer hulle jou nie wanneer is dit reg om met hom te praat oor sy verlies nie, en hoe lank om te wag, en wat om te sê nie.
Hoekom leer hulle jou nie wat om te sê vir iemand wat se kind dood is nie. Want om te sê jy is jammer is net nie reg nie. Daar moet tog iets wees wat jy kan sê of doen, maar niemand leer jou voor die tyd hoe hierdie situasie hom gaan afspeel nie.
Niemand leer jou wat vereis word van jou as jou eggenoot breek van hartseer nie. Niemand leer jou wat jy vir jou jong kinders moet sê as hulle gekonfronteer word met die dood, met ’n dooie mens, met hulle dooie boetie nie. Niemand leer jou hoe om al hulle vrae te antwoord nie. Niemand sê vir jou hoe die dood mense uitmekaar ruk en stukkend maak nie. Niemand sê vir jou hoe jy die stukke moet optel nie.
Niemand sê vir jou wat die emosies is wat jy en almal wat hierdie tragiese gebeurtenis meemaak, gaan ervaar nie. Die skok, die pyn, die “numbness”, die hartseer, en die verskriklike skuldgevoelens. Niemand het jou geleer hoe om iemand te help om verby die skuldgevoelens te kyk nie. Jy kan sien dit vreet hom van binne af op, maar jy is magteloos om te help. Jy self dra swaar aan skuldgevoelens. Jy begin terugdink aan die laastes. Wat was die laaste woorde wat ek vir hom gesê het? Wat was die laaste keer wat ek hom gesien het? Wat was die laaste ding wat hy vir my gesê het? Jy begin self dink aan wat jy NIE gedoen het nie. Jy kon nicer gewees het, jy kon meer met hom gesels het. Niemand het jou geleer dat skuldgevoelens normaal is nie, maar dat jy daarteen moet waak en baklei nie, want as jy dit toelaat sal dit jou consume.
Die dood is ’n onderwerp wat liefs vermy word, maar wanneer die dood se koue vingers stadig verstrengel in ons lewens, is daar geen wegkomkans nie, dan moet jy swem. Dan moet jy leer hoe om die dood in die oë te kyk, en te weet wat om te doen. Jy moet die regte woorde hê wanneer almal sprakeloos is van skok. Of dalk moet jy net stilbly, maar niemand het my gesê nie.
Aingeal

