Wanneer jy oor die Long Tompas vir Sabie doer in die verte sien, is dit asof jou liggaam en siel na die mooiheid daar ver onder jou snak. En outomaties na ’n laer rat oorskakel. Met ons laaste besoek aan Mpumalanga het ons besluit: Sabie toe. Ons het die N4 verby Belfast gehou. Waterval-Boven, Machadadorp. Mooi valleie, watervalle, boorde en plekke waarvan jy net lees of droom.
Ná die tolhek het ons oor Schoemansdal gery. Daar, in die vrugbare kloof, kom ons af op ’n saamtrek. Dit word gekenmerk deur luukse 4 X 4 voertuie - en stuur ’n boodskap uit dat die boere nie so swaar trek soos wat hulle voorgegee nie. Die byeenkoms is die Schoemansdal-lemoenfees.
Duskant Nelspruit, so ’n klipgooi van die sokkerstadion wat vir die 2010 Wêreldbeker-toernooi opgerig is, wyk ons Sabie toe. Vir ’n Saterdag is die verkeer baie stil. Net een kar flits verby ons in die rigting Nelspruit. En in die boomryke pad speel primate ewe rustig in die bome.
Wanneer ons eintlik by die T-aansluiting kom en met Sabie in sig, is ons by die onderste gedeelte van die pas. Maar Sabie het sy eie bekoring.
’n Anderse soort rustigheid. Skoon vars lug en die skerp ruik van dennebome – iets waaraan Sabie ryk is.
Daar is plek-plek nuwe geboue aangebring, insluitende die toeristesentrum. Tog lyk dit of die ouer geboue ’n soort hiërargie in die dorp se hoofstraat handhaaf. Iets wat jou dwing om na hulle met nuwe respek te kyk elke keer as jy deur die dorp ry.
Sabie het bekoorlike en heel skaflike byplekke. Ons het ’n plekkie bespreek net anderkant die Sabierivier. Vir die kinders is dit ’n heel nuwe ervaring.
Ons nuttig aandete by die Smokey. ’n Restaurant waar ’n kêrel wat sierlik korrel, jou begroet. En jy kan kies: binne, buite of in die treinwa. As jy op ’n lekker warm middag op die stoep sit, kan jy na die Mauchberge doer in die verte tuur. En jou gedagtes sal ook daardie oomblik ’n blaaskans vat.
Sabie is ’n klipgooi van Graskop (my gunstelingdorp). En ook nie ver van Hazyview nie.
Wat my bekoor van die dorp is die rustigheid en die ontspanne atmosfeer. Daar is niks gejaag soos wat ’n mens in die stad sien nie.
Pannekoek, lekker beesstert, goeie koffie en kaggels is wat jy in die eetplekke kan verwag. Nie die standardspyskaarte wat jy wyd en syd in die stede kry nie.
So tussen die rondry, verken, gesels en foto’s neem, kom ek iets agter. Die meeste watervalle in Sabie is bo jou. In Graskop staan jy gewoonlik bo die loop en kyk hoe die water afwaarts tuimel.
Dit is egter die totsiens wat jou laat besef – ek kom terug. By die kanonne maak jy ’n laaste stop voor jy die pad Dullstroom toe aanpak vir middagete.
Dit is ’n wêreld waar jy nie haastig moet wees nie. Wees kalm en bewonder die natuurskoon. Net iewers kan die natuur jou verras.
En as jy bo Long Tom is, loer jy vir oulaas terug ... En sug, dit was die moeite werd.
Dat dit die dorp van die jaar is, is dus geen verrassing nie ...
Yuri Thumbran
Kommentaar
Yurie
Baie mooi brief, met pragtige fotos.
Ek het ook baiemaal die Oos -ransvaal gereis, en soos jy, het ek die gevoel van 'n ander wereld.
"She" in Rydar Haggart se boek beskryf die wereld in misterieuse terme, en wanneer jy in die Oos-Transvaal ry, kry jy die gevoel dat "She" erens daar nog rondsweef.
Jaco Fourie
Beste Yuri