Vir Annette – ’n villanelle
waar die land ophou en die see begin
staan ’n vuurtoring eenkant hoog op ’n duin
waar ek getye dophou en jou bemin
die toring strooi sy straal die duister in
oor donker see en land se duinetuin
waar die land ophou en die see begin
en ek verlang om jou so met woord en sin
te bereik en te bestryk en uit te basuin
waar ek getye dophou en jou bemin
ons eie kodeseine soos dolfyne met vin
en stert hier op ons eie golf se kruin
waar die land ophou en die see begin
en ek swem na jou toe in ons liefdeskring
in see en sandkasteel ons eie rotstuin
wil ek getye dophou en jou bemin
al is ek die land wat ophou, jy’s die begin
van nuwe lewe soos die see wat immer skuim
waar die land ophou en die see begin
wil ek getye dophou en jou bemin

