
Snaakse ding, die Olimpiese Spele. Kom soos ’n dief in die nag, elke vier jaar. ’n Magdom items, meeste waarvan g’n mens volg nie. Wie gee in elk geval om vir boogskiet, of judo, of bantam-gewig-boks, of waterpolo, of die sub-69 kg gewigoptel vir vrouens? En wat maak dit saak of China meer medaljes kry as Amerika?
En tog, en tog … Wanneer dit aanbreek, dan kyk ons. Soos ’n ongeluk waarby mens verbyry op pad werk toe, kan jy net nie help om so ’n klein bietjie aandag te gee nie. En as jy weer sien, dan sit jy vasgenael voor die televisie, en jy raak opgewonde en hartseer oor deelnemers uit verre lande van wie se bestaan jy ’n paar uur tevore nie eers bewus was nie, in sportsoorte waarvoor jy eintlik ’n veer voel.
Soos enige rooibloedige Afrikanerman (al is ek dan ook een wat bly in die land van die Kakies) ken ek my voorkeure. Gee my springbokbiltong, gee my boerbeskuit, gee my lekker koffie, en los die ander uit. En bedien asseblief saam met ’n hoofdis van rugby, en/of krieket, en/of gholf.
En, liewe leser, ingeval jy nie opgelet het nie: nie een van hierdie Boere-sportsoorte (in teenstelling met boeresport-soorte) vorm deel van die Olimpiese Spele nie. As gevolg waarvan ek eenvoudig nooit eers belanggestel om te registreer as amptelike kaartjie-aansoekdoener vir hierdie grootste-van-alle-sportgebeurtenisse nie.
Dis nou tot en met Die Spele hier in ons dorp gearriveer het, ’n week of wat gelede. Jip, ek bly (weer) in Londen, saam met ’n miljoen Poolse loodgieters en ’n paar honderdduisend Suid-Afrikaners wat hulself suid-wes van die Teems bevind. Destyds was dit mos Tuks of Niks, nou is dit Putney of Glad Nie.
Londen was nog altyd vol uitlanders, vra maar vir Kevin Pietersen en Mouritz Botha. Maar jy kom vinnig agter wanneer die uitlanders nie heeltemal hier tuis hoort nie. Hulle staan op die hoeke van die strate met hulle neuse diep gebêre in die A to Z, en hulle staan aan die linkerkant van die roltrappe op ons tubes. En sewe dae gelede het hulle begin opdaag in hulle hordes, met hulle kameras en hulle gebottelde water en hulle veelkleurige nasionale vlae. En natuurlik hulle kaartjies vir die gimnastiek en die hokkie en die gesinchroniseerde duik-items, so skaars soos hoendertande, weggebêre in daai geheime sakkies aan die binnekant van hulle rugsakke.
En skielik wou ek ook die Olimpiese Spele bywoon. Enige sitplek, enige sport, enige dag – solank dit net aan die binnekant van die stadion is. Skielik maak dit nie meer saak dat ek nie regtig belangstel in die spesifieke sportsoort nie; skielik is al wat saakmaak die primitiewe kudde-instink binne-in my (en ek vermoed binne-in meeste van ons?); skielik wil ek darem nie heeltemal uitmis nie.
Hier is ek, in onteenseglik een van die wêreld se voorste stede, ten tye van een van die wêreld se mees toonaangewende georganiseerder geleenthede, en ek het nodig om behoorlik deel te voel daarvan.
Neem deel en word deel, het Bok de Lange (my ou hoërskoolhoof) altyd gesê, dertig jaar gelede. Wat beteken dat ek nou ten alle koste moet plan maak om een of ander Olimpiese item by te woon.
En, soos die toeval dit wil hê, kruis my pad op kort kennisgewing met 3 kaartjies vir gister se beach volleyball (jammer, al julle taalbulle, maar strand-vlugbal klink hoegenaamd nie ewe seksie nie).
Jip, beach volleyball, van alle sportsoorte. Dis nou as jy dit ’n sportsoort kan noem. Binnekort gaan sandkasteelbou en frisbee seker ook Olimpiese items wees. Om nie eers te praat van balgooi-vir-die-hond en touch rugby en boeklees-onder-die-sonsambreel nie.
Allegeval, so trek vroulief en vroulief-se-maatjie en ek toe mos gistermiddag op, rigting St James’ Park (skuins-oorkant Horse Guards Parade, oftewel die naaste ding aan ’n strand in Londen, noudat hulle ’n paar vragte vol seesand ingevoer en oor die perdemis gestrooi het).
Voel die Olimpiese atmosfeer aan ons lyf die oomblik wat ons by die mensemassa aansluit wat in dieselfde rigting beur. Is 12,000 siele egter genoeg om daarna te verwys as ’n mensemassa? Daar was wel ook ’n hele paar honderd sekuriteitspersoneel om ons te deursoek (Heathrow kan maar kom kers opsteek), sowel as vriendelike tannies in helder-pienk baadjies en kanarie-geel broeke wat rigting aanwys , en ’n horde ander werkers om kroeë te beman en allerlei ander takies te verrig...
En ek’s baie bly ek was daar. Ek’s dankbaar om te kan sê dat ek nou amptelik die Olimpiese Spele bygewoon het (en ek het ’n pers kaartjie met vyf ringe om dit te bewys).
Maar ek dink nie jy sien my gou weer by beach volleyball nie (dis nou behalwe as ek toevallig in Desember in ’n wedstryd vasloop in Margate of Stilbaai of Clifton).
Ja, die tannies lyk oulik in hulle skrapse kleredrag. Soos een van die joernaliste nou die dag tereg opgemerk het: tussen die vier deelnemers in enige gegewe wedstryd is daar minder materiaal in die somtotaal van hulle kleredrag as wat jy in die tipiese sakdoek sal aantref. Herinner my aan daai ou vergelyking tussen doringdraad en ’n bikini: dit beskerm mos privaateiendom, sonder om eintlik die uitsig te versper...
Maar sport? Nee wat. So sit ek in die reën, en ek dink aan braaivleis, en rugby, en sonneskyn, en Chevrolet.
En na vier wedstryde (periodiek onderbreek deur ’n klomp danseresse in kostuums uit die 1960’s, wat rondspring op die maat van musiek wat daarby pas) is dit tyd om huis toe te gaan. Tyd om die hordes toeriste op die tubes aan te durf, tyd om hulle uit die pad uit te elmboog waar hulle op die linkerkant van die roltrappe staan. Tyd om vir die res van die aand tussen 4 TV-kanale rond te spring, op soek na iets wat darem meer na sport lyk.
Tyd om te sien hoe Chad le Clos geskiedenis maak en vir Michael Phelps wys presies waar Dawid die spreekwoordelike wortel gegrawe het.
Tyd om na die medalje-seremonie te kyk; tyd om Nkosi Sikelel’ Iafrika uit volle bors te sing. Tyd om snot en trane saam met Chad en Chad se pa te huil, hier in my piepklein woonstel in Londen, nie minder nie as 6,000 myl van die huis af. Tyd om te wens ek was nou in die land van my geboorte, waar ek sommer net in die straat wil afstap en ’n vreemdeling omhels.
Tyd om te wonder of ek dalk nog kaartjies kan kry vir volgende week se atletiek... wie weet, dalk kan ek in die stadion wees wanneer Caster Semenya vir die res van die wêreld hakskene wys?
Voetstoots van Tonder
Londen
1 Augustus 2012
Welkom terug, Voetstoots van Tonder. NM

