Die vergeesteliking van getuie wees, kom uit die algemene verloop van die lewe. Gedurig is daar verskil, stryd, aanklag en verweer. Die hele lewe voel soos ’n hofsaak. En dis wat die Hemel so ’n vooruitsig maak; die aanklaer is uit die Hemel uitgewerp!
Nietemin, ons is nog hier.
Christene staan as getuies vir Jesus Christus ons GOD. Soos daar geskrywe staan:
... van hulle moet daar een saam met ons getuie word van Sy opstanding (Handelinge 1:22) want jy sal vir Hom by al die mense ’n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het (Handelinge 22:15). Maar rig jou op en staan op jou voete, want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot ’n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn (Handelinge 26:16)
Soms roep die mens, GOD as hul getuie. Soos daar geskrywe staan:
Want God wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun, is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink (Romeine 1:9). Maar ek roep God as getuie aan oor my siel dat ek om julle te spaar nog nie na Korinthe gekom het nie – (2 Korinte 1:23) Want God is my getuie hoe ek na julle almal verlang met die innige tederheid van Jesus Christus (Phil 1:8).
So is daar menige voorbeeld van ’n getuie wees in die Bybel.
Lees ek die saak met getuies in die Bybel, wonder ek soms wie die applikant (klaer) is, en wie die aangeklaagde – oftewel respondent is.
In die reël is dit asof Jesus se dissipels ’n saak gaan maak het in die wêreld. Ek kan wel verkeerd wees, maar GOD blyk die Applikant met die Evangelie te wees. As draers van die Evangelie, is gelowiges daarin dus getuies vir GOD.
Verklarings word gewoonlik vooraf van getuies geneem. Die applikant se eie getuies word nie onder kruisverhoor geneem nie. GOD neem ons ook nie in kruisverhoor nie (nie soos dit so menigmaal op die werf manifesteer nie). Getuies word gewoonlik met direkte vrae, sonder versoeking om af te wyk, ondersoek. Die teenparty se getuies word wel kruisverhoor.
Sou ’n getuie wat namens die applikant wel van die vooraf geneemde verklaring afwyk, dan bepaal die regter so ’n getuie as ’n vyandige getuie. ’n Getuie wat dan deur die regter as vyandig verklaar word, kan dan nes die teenparty se getuies onder kruisverhoor geneem word. Sou ’n draer (Christen) van die Evangelie afwyk, dan verklaar die wêreld vanself so ’n getuie as ’n vyandige getuie. Voorbeeld daarvan is legio en oral, selfs op die werf. Kruisverhoor is iets alledaags hier.
Tot hier; alles miskien heel eenvoudig.
Maar hoe raak ’n vyandige getuie die saak van ’n applikant voor die regter? Word die applikant gekritiseer vir sy getuie wat verondersteld geloofbaar moes wees? My grootste twyfel hierin; roep ’n mens soms ook getuies wetende dat hulle vyandig verklaar gaan word, en manipuleer daarmee die saak met so ’n vooruitsig? Baat ons egotistiese feilbaarheid dalk die Evangelie?
Ons is almal skuldig iewers in ’n saak, al is dit ook net ons eie.
Maar hoe kwes vyandige getuies werklik ’n saak voor ’n regter?
My vraag is bedoeld vir gelowige en ongelowige. My vergeesteliking daarvan is hoegenaamd nie absoluut nie. Ek is oortuig hier is ervare belangstellendes op die werf wat meer as net pararegskundig oor die saak kan uitbrei.
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese groete,
Cornelius Henn

