Vulkaaneiland

  • 0

Vulkaaneiland
(by die dood van my pa)

Voel-voel teen die wande daal ek af,
’n duisend lewens diep, en dan ’n meer van sand.
Geen boom, geen voël wat sing, niks van jou liefdes;
suur stof wat in my oë en neusvleuels brand.

Ek soek tot lawa deur my spore borrel,
en een voet insink in die grond,
my seuns gespierd met sterflikheid verbystap:
Die gode wimpel in verbond.

By die tafel waar ons eens geëet het,
waar ons wêreldkaarte kon verken,
was ’n tuin met bome, bougainvilleas,
en jou glimlag as jy my herken.

By die braaiplek waar ons saam geskerts het,
soms in stiltes ons geheime deel,
was die sterre en die skepe
en die eilandvure een geheel. 

Sal hierdie berg en honger aarde,
die vulkaanverrykte aarde,
die deur na my pa se huis,
nou open?

Of sal die trane terugval in die ondersee?
Ek lees jou skrywes, druk ou skulpe teen my oor
om binne die gedruis oor skepe, heersers, markte, sangers,
jou stem nog een keer te kan hoor.

Soos vlinders uit die niet verskyn
herinneringe by ’n ou murasie.
Jy kyk uit oor die berg en baai,
verwonderd as die rooi son kwyn
en golf na goue golf bly spoel.
Jy wonder hoeveel wêrelde
met elke skip weer aanmeer of versink,
en as die lyf in stukke sterf,
begin ons sintuie die eerste trillings voel:
’n ander aarde, ander doel?

Ek vind oplaas jou groen wa en ’n boerepet,
’n beeld van rustelose Hermes in die as,
en bou met swart vulkaansteen uit die branders
rondom jou bome ’n terras.

Soms flits jou oë weer in my kinders, 
die eik se takke wuif ’n wederom;
maar as die seewind oor die krater waai
met wie gesels ek oor jou tuin wat blom?

Snags lê die eie lande nou verskeur, 
die vure en die sterre het verskuif:
soms bly ons iewers bymekaar
en iewers bly ons skepe vaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top