Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Spesiale vrou

  • 0

Haar oë is olyfgroen. Nee, seegroen. Blougroen? Albasterdeurskynend mooi. Dit alles, want daar is ’n diep omgeesiel agter daardie oë.

Elsabé was ’n kollega van my by Sanparke. Ons het nooit mekaar se drumpels deurgetrap nie, maar die kere wat ons mekaar gesien het, het ek net geweet ek hou van haar. Sy het my neerhalende eksman eenkeer lekker op sy plek gesit. Hy het gereeld geskinder oor hoe slordig ek is. By daardie geleentheid het ons kollegas vir die eerste keer in ons nuwe plothuisie kom kuier. My eks het gebad en die bad se rand en sy vuil klere net daar gelos. Ons kollegas het deurgestap om die plek te verken. Elsabé het tong-in-die-kies opgemerk: “So sien ons nou wie eintlik die slordige enetjie is!”

Onwaar. Dit was gewoonlik ek wat omgekrap het, maar ek kon Elsabé se voete soen omdat iemand ’n slag my kant gekies het.

Elsabé is van hoofkantoor af Skukuza toe. Ons het daar vir haar gaan kuier. Soos altyd het ek my slap gelag vir haar humorsin en kwinkslae. Sy was verlief op ’n man met ’n kuiltjie in sy ken. ’n Kuiltjie wat sy met genoeë uit sy kennebak wou suig, sou sy dalk die geleentheid kry. Wat sy blykbaar nooit gekry het nie!

’n Paar jaar later het sy werk gekry by Gariepdam. Net voor haar vertrek daarheen kuier sy en ’n vriendin vir my by my huisie in Marlothpark. Soos elke keer wat ek haar gesien het, het die tyd tussenin weggeval, asof ons mekaar tot op daardie stadium elke dag gesien het en asof sy nie oor ’n week ver weg sou gaan nie.

Jare later bring Facebook Elsabé terug in my lewe. Sy en ongeveer ’n miljoen optelkatte woon in ’n huis by Vanderkloofdam. Haar werkstitel is ewe pretensieus Beheer Waterbeheerbeampte van Vanderkloof Water Skema.

Ons klets nie baie nie, bly net op hoogte van mekaar se bewegings.

Vroëer vanjaar word ek deur Carol, ook ’n Sanparke-oudkollega, gevra om die CVO-skolekuns in Orania te gaan beoordeel. Ons kry die geleentheid om twee aande by Elsabé oor te slaap. Ek in haar heerlike dubbelbed. Carol in die gastekamer. Elsabé slaap op die bank, terwyl haar nege optelkatte en hondjie onverpoos beurte maak om daardie klein spasie met haar te deel. Elke ‘kind’ ’n prins of ’n prinsessie in wie se diens sy haarself gewillig begewe.

Daar is soveel liefde en omgee in haar hart vir mense ook. Sy kook en almal eet saam. As iemand nie beweeglik genoeg is om by haar te kom fees nie, ry sy kos agter hulle aan. Iemand in ’n rolstoel. ’n Vriend van negentig plus.

Op ons tweede aand daar, terwyl sy kos maak, bak sy ’n koek vir ’n kollega se dogtertjie wat verjaar.

“Waar moet hulle nou geld kry om vir die kleintjie koek te koop?” vra sy, terwyl sy klits en roer.

Toe weet ek hoekom ek Elsabé vir altyd sal onthou …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top