Vrouedag-skryfkompetisie: My standerd twee juffrou in 1969

  • 0

Sy was ’n jong weduwee met een seun. Om ’n seun alleen groot te maak, kon nie maklik wees nie, maar sy kon hóm, en ’n hele standerd twee klas, in die palm van haar hand hou. As jy die jaar by háár in die klas was, was jy nie meer Lodie nie, maar Lodewikus! Op jou doopnaam is jy vir die hele jaar lank genoem. Jy het dit gehaat, maar omdat dit sý was wat jou so genoem het, was dit heeltemal aanvaarbaar.

Om ons Engelse woordeskat te verbeter, moes ons vir elke Woensdag ’n paar paragrawe uit ons kop leer en vir haar kom opsê. The Circus, My School, My Birthday. Seker daarom dat my Engels nie te sleg is nie.

Sý het vir my my eerste en enigste hou op die hand gegee vir ’n spelfout. Jakkalsstreke het twee s’e en nie een nie! Nooit sal ek dit vergeet nie. En weer eens – die belangrikheid van korrekte spelling is so by my gevestig.

In daardie jaar wat ek by haar in die klas was, moes sy gaan vir ’n operasie. My ma het my later van meer inligting voorsien – ’n vroue-operasie. Ek was tevrede met die min inligting en só jammer vir my juffrou. Ek het geweet ek moet vir haar bid. Ná die gebed het ek ‘I come to the garden alone’ gesing. Sý het dit vir ons in die godsdiensperiode geleer en dit het net gepas gevoel om dít te sing.

Dat sy ’n groot aandeel in my beroepskeuse gehad het, is ’n onomstootlike feit. Vir jare het ek Afrikaans gegee. Soms het haar naam in ’n gesprek opgeduik. Toe loop ek haar ná vyftig jaar in my ma se aftree-oord raak.

Hulle twee woon op dieselfde vloer en die twee kennisse het gou vriendinne geraak. Aanvanklik was dit eintlik snaaks om te hoor hoe my ma haar steeds ‘Mevrou’ noem. Later het dit verander en nou is sy net ‘Fran’.

Sy is 98 jaar oud met ’n skerp verstand, vriendelike geaardheid en lieflike humorsin. Haar sig is aan die ingee en dis vir haar swaar om nie meer elke dag haar koerant te kan lees nie. Vroeër was sy baie aktief in die aftree-oord se bedrywighede. Sy het gereeld by funksies voorlesings gedoen of grappies vertel. Sy praat steeds met ’n harde, goed gemoduleerde stem waarin jy nog die Juffrou van jare terug kan hoor.

Sy moes die wrede ding beleef om haar enigste seun aan die dood af te staan. Positief het sy gebly en sy het steeds gereelde kontak met haar skoondogter.

Toe ’n baie jong kollega van my onlangs skielik sterf, net voor die Junie-eksamen, is haar eerste reaksie, tipies onderwyseres: “Wie gaan sy vraestelle merk?” Sy onthou steeds wat die basiese belangrike dinge van ’n skool is.

’n Wonderlike vrou wat ’n groot verskil in baie lewens gemaak het, en steeds maak. ’n Vrou om te eer, te respekteer en na te volg. Mý standerd twee juffrou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top