sy het van die soort liefde niks geweet nie
die fyn gegrifde vingers vel ontspring
en roep uit die dieptes ons sink
die invou die murg wees binne-in
dit het sy nie geken nie
maar die kind het ontspring
haar palms volg
die vrugbare jubeling
God sien haar
meisiegrootmens in haar sensus
gestempel in haar lot
haar seun se naam is ’n belofte
sy herhaal dit in die nag as die wind kreun deur die sink
as sy met eie hande die wapperende sinkplate vasklem
as sy alleen loop na die geboorteplek
en die belofte
vaardig met ’n handdoek omgord
as sy stap
oor Afrika
as sy wegkruip in busse by grense
voor Home Affairs slaap
as sy stap tussen taxi's en treine
verby honde wat blaf agter hoë heinings
verby oë wat skroei op vel
haar oë wat skroei van bloed
daar is vuilgebreide banknote wat sweet by haar borste
vir die kind die belofte wat in vervulling moet gaan
die kind wat sy gelos het by die tempel
en verloor het in die skares
wat sy moes oorgee aan die onregverdigheid
sy stap die smal stegie antieke pad
sonder die vader
van haar kind sy loop in
waar hy lê oopgespalk
sy roep sy naam sy roep die belofte
Verlossing!
sy draai om en loop uit
en sy hou aan loop
want wie dra die hoop
vir die kinders wat oorbly?



Kommentaar
Pragtige en diep woorde.
Ek lees dit weer en weer, dink en lees weer.
Dankie.